Skip to main content

Die Twaalf Kleiner Profete

prayer-shawlEen boek

Die Kleiner Profete – Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria, en Maleagi – word in die Hebreeuse OT teks as een boek geag. Daarom is dit ook gewoonlik op een boekrol een na die ander oorgeskryf. Dit maak deel uit van die tweede hoofdeel van die Hebreeuse Bybel (tenak), die Profete (nevi’im), in onderskeid van die Wet (torâ) en die Geskrifte (ketuv’im).

Dié boek het bekend gestaan as: “Die boek van die Twaalf“, of die “Kleiner Profete”, of soms net “Die Twaalf“. Daar is natuurlik ook die “groter” profete: Jesaja, Jeremia en Esegiël. Daniël, hoewel ook gereken as ‘n profeet, word in terme van die indeling van die OT by die Geskrifte gereken. Dit is ook belangrik om te onthou dat die term “kleiner” net na die lengte van die onderskeie profetiese boeke verwys – die langstes, Hosea en Sagaria het 14 hfste. en die kortste, Obadja 1 hfst. – nie na hulle belangrikheid of betekenis nie.

Die samebundeling in een boekrol sien ons alreeds in die geskrifte van Jesus ben Sirag aan die begin van die 2de eeu v.C., ongeveer 190 v.C., soos dit ook die geval was in die Dooie See rolle, wat waarskynlik ook dateer uit die tweede eeu v.C., hoewel die orde van die boeke verskil in die onderskeie rolle wat daar gevind is. In die Christelike OT word elke profetiese boek afsonderlik genoem, maar in die voor-Christelike uitgawes is dit duidelik dat die Kleiner Profete gewoonlik saam as een boek in een boekrol gegroepeer is.

Die orde van die onderskeie boeke

Die orde van die boeke in die Hebreeuse OT is dus nie in datumvolgorde van óf die profete óf die finalisering van hulle boeke vasgestel nie. Die boeke Jona en Joël kom bv. waarskynlik uit ‘n veel later tyd as die ander wat ná hulle in die lys voorkom. Joël het moontlik sy plek in die ry van profete vóór Amos te danke aan die feit dat een van die verse aan die einde van Joël (3:16 – “Die Here sal uit Sion brul …”) dieselfde tema het as dié waarmee Amos begin (1:2 – “Wanneer die Here uit Sion brul …”). Albei praat ook van ‘n sprinkaanplaag.

Die profeet Amos tree moontlik alreeds vóór Hosea op, hoewel hulle tydgenote was, weens die feit dat Amos die groot aardbewing van 760 v.C. noem. Die profeet Miga tree ook duidelik reeds ‘n eeu vóór Obadja op en Sefanja weer meer as ‘n eeu vóór Haggai volgens die interne gegegewens in die onderskeie boeke en ander verwysings in die res van die OT.

Tydperk van optrede

As ‘n mens dus die datumvolgorde van die tydperk van optrede van die profete as uitgangspunt neem – let wel nie die finalisering van hulle boeke nie – is dit na alle waarskynlikheid as volg: Amos, Jona, Hosea, Miga, Sefanja, Nahum, Habakuk, Joël, Obadja, Haggai, Sagaria, en Maleagi. Hier is ‘n tabel waarin die profete se tydperke van optrede in die konteks van die wêreldmagte wat in daardie tyd opgetree het sowel as in die konteks van die konings van daardie tyd geplaas word:

Profeet Tydperk Konings van Israel Konings van Juda Ander profete
Nieu-Assiriese tyd (911-605 v.C.)
Jerobeam II (786-746 v.C. – 41 jr.) Ussia (792-740 v.C. – 52 jr.)
Amos 762-746 v.C. Noordryk Jesaja (740-696?)
Jona tussen 786-746 v.C. Noordryk
Hosea 758-722 v.C. Noordryk Sagaria (745 v.C. – 6 mnde) Jotam (752-736 v.C. – 16 jr.)
Miga 752-686 v.C. Noordryk en Suidryk Sallum (745 v.C. – 1 mnd) Agas (736-716 v.C. – 16 jr.)
Menahem (745-736 v.C. – 10 jr.)
Pekahia (736-734 v.C. – 2 jr.)
Peka (734-732 v.C. – 2 jr.)
Hosea (732-722 v.C. – 9 jr.)
Hiskia (715-686 v.C. – 29 jr.)
Manasse (686-642 v.C. 55 jr.)
Amon (642-640 v.C. – 2 jr.)
Sefanja tussen 640-609 v.C. Suidryk Josia (640-609 v.C. – 31 jr.) Jeremia (627-586?)
Nahum voor val van Nineve in 612 v.C. Suidryk
Nieu-Babiloniese tyd (605-539 v.C.)
Habakuk ná 612 v.C. en vóór 599 v.C. en die 1ste beleëring van Jerusalem – Suidryk Joahas (609 v.C. – 3 mnde)
Jojakim (609-598 v.C. – 11 jr.)
Jojagin (598 v.C. – 3 mnde)
Joël 588-586 v.C. – Suidryk Sedekia (597-586 v.C. – 11 jr.)
Obadja 588-586 v.C. – Suidryk
Esegiël (593-571)
Persiese tyd (539-333 v.C.)
Haggai 520 v.C – ná-Ballingskap
Sagaria 520 v.C. en verder – ná-Ballingskap
Maleagi ongeveer 460 v.C. – ná-Ballingskap (Esra en Nehemia)

Orde van behandeling en voorlopige temas

Ek het oorweging daaraan geskenk om die Kleiner Profete se boeke in hierdie volgorde te behandel in die Bybelskool. Dit sou ‘n bietjie meer van ‘n historiese raamwerk vir hulle boodskappe gee. Ek het egter besluit dat ek eerder die Bybelse orde gaan volg om die ontwikkeling van die hooftemas daarin, soos die samestellers van die OT dit bedoel het, te kan volg. Die datering van die boeke is in sommige gevalle net te onseker om te veel daarvan te maak.

Die orde waarin ek dit dus gaan behandel, met ‘n voorlopige opgawe van die kern van die boodskap van die onderskeie profete, is as volg:

  1. Hosea – God volhard altyd in sy liefde
  2. Joël – God se dag bring verwoesting en voorspoed
  3. Amos – Die Here brul uit Sion vir geregtigheid
  4. Obadja – God straf verwaandheid en afsydigheid
  5. Jona – God ontferm Hom oor Nineve
  6. Miga – God heers nou en vir altyd
  7. Nahum – God voltrek sy oordeel oor Nineve
  8. Habakuk – Nogtans sal ek in die Here jubel
  9. Sefanja – Ruk julle reg voor die toorn van die Here julle tref
  10. Haggai – Herstel die tempel, want Ek is by julle
  11. Sagaria – Berei julle voor op die koms van die Messias-Koning
  12. Maleagi – Bekeer julle van geestelike minagting
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda