Skip to main content

Openbaring 5:1-14 – Jesus het ons ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak om oor die aarde te heers

1 Mei

Openbaring 5:1-14 – Jesus het ons ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak om oor die aarde te heers

1Ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit ‘n boekrol gesien, aan die binnekant en die buitekant vol geskryf, en met sewe seëls goed verseël. 2Ek het ook ‘n sterk engel gesien, wat met ‘n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?” 3Niemand – nie in die hemel, nie op die aarde, nie onder die aarde – was egter in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. 4Ek het baie gehuil, omdat daar niemand gevind kon word wat waardig is om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. 5Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.” 6En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. 7En Hy het nadergegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. 8Toe Hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neergeval. Elkeen het ‘n lier en ‘n goue bak vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is, vasgehou. 9Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie. 10U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers.” 11Toe ek weer kyk, hoor ek die sang van baie engele rondom die troon, en van die lewende wesens en die ouderlinge. Daar was tienduisend maal tienduisende, duisend maal duisende, 12wat met harde stemme uitroep: “Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.” 13En ek het die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see, en alles wat daarin bestaan – hoor uitroep: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.” 14Die vier lewende wesens het ook uitgeroep: “Amen!” En die ouderlinge het neergeval in aanbidding.

Die hemelse erediens wentel nie net om die aanbidding van God op sy troon nie (Openb 4). Vanuit die erediens in die hemel neem God beheer van alles wat is en was en wat kom (Openb 5). Hy bepaal die agenda en die verloop van die ontplooiing van die gebeure in die heelal. Die hemelse erediens het dus ’n beslissende invloed op die aarde. In God se hand is daar ’n boekrol wat binne en buite vol geskryf is en met sewe seëls goed verseël is, sodat niemand dit sonder meer kan oopmaak en dié agenda in werking kan stel nie. Trouens, dit is net iemand wat die volle verlossingspad reeds geloop het, wat reeds die mensdom met God versoen het, wat die verdere verloop van die verlossingsplan vir die heelal kan bekendmaak en in werking stel. Een van die ouderlinge wys dan vir Johannes op die Enigste een wat die boekrol uit God se hand kan neem en die seëls daarvan kan breek, dit is die Leeu van Juda, die nakomeling van Dawid, die Lam wat geslag is, Jesus. Hy is waardig om die boekrol te neem, want Hy is die Verlosser en daarom die Bemiddelaar van die verlossing. En soos Hy die seëls hierna gaan breek, gaan die inhoud van die boekrol nie net bekend word nie, maar ook deur Hom in werking gestel word.

Jesus word hier met twee metafore beskryf: as ’n Leeu en as ’n Lam. Hy is die Leeu in terme van sy afstamming uit die Messiaanse linie, uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid. Hy is die Lam in terme van sy kruisdood waarmee Hy met sy bloed mense vir God gekoop het uit elke geslag en taal en volk en nasie. Maar, belangrik, Hy neem die boekrol in ontvangs, die agenda van God se plan vir die heelal, as die Lam wat geslag is. Die weerloosheid van ’n lam, die offervaardigheid van sy bereidheid om geslag te word, bly dus steeds die uitstaande kenmerk van die styl waarin Hy die heerskappy wat God Hom toevertrou, uitvoer. Die sewe horings van die Lam dui egter ook daarop dat Hy omvattende mag het en dat die sewe Geeste, die Heilige Gees, boonop in sy volheid in Jesus woon. Hy kan dus sorg dat dié agenda van God ten uitvoer gebring word. Soos die vier lewende wesens saam met die 24 ouderlinge voor die Skeppergod neergeval en Hom aanbid het, val hulle ook nou neer voor die Lam om Hom te aanbid. Dit bewys sy goddelike status. Saam met hulle is daar egter nou ook nog miljoene engele, sowel as die hele skepping, wat Hom aanbid in die volgende sirkel rondom die troon.

’n Uitstaande kenmerk van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge se aanbidding is dat hulle nie net die lier (die Griekse woord is kithara, waar ons ons naam vir die ghitaar vandaan kry!) in hulle aanbidding van God inspan nie, maar ook die gebede van die heiliges. Die gebede word in die simboliese vorm van ’n goue wierookbak voor God gebring. Van hierdie gebede sal nog twee keer in Openbaring gewag gemaak word wat onderstreep dat gebede nie net God verheerlik nie, maar ’n bepaalde invloed het op die koers wat God met die wêreld inslaan. Let op hoe die drie lofliedere – van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge; van die miljoene engele; van alle skepsels – nie net die voortreflikheid van die Lam besing met ‘n sewetal eienskappe nie – krag, rykdom, wysheid, sterkte, eer, heerlikheid, lof – maar ook die agenda van God vir sy mense uitspel, soos in Openbaring 1, dat hulle ’n koninkryk van priesters vir God gemaak is, wat as konings oor die aarde sal heers. ‘n Wonderlike werklikheid en ’n hoopvolle belofte.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda