Openbaring 1:9-20 – Jesus skenk aan ons volharding in ‘n verhouding met Hom
Openbaring 1:9-20 – Jesus skenk aan ons volharding in ‘n verhouding met Hom
9Ek, Johannes, julle broer en ‘n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus Christus. 10Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my ‘n harde stem, soos dié van ‘n basuin, gehoor 11wat sê: “Skryf wat jy sien, in ‘n boekrol op, en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” 12Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, 13en in die middel van die kandelare, iemand net soos die Seun van die Mens. Hy het ‘n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met ‘n goue band wat om sy bors vasgebind was. 14Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vlammende vuur. 15Sy voete was net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. 16In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar ‘n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn. 17Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste 18en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. 19Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, en wat hierna gaan gebeur. 20Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.”
Johannes noem homself die broer van al die gemeentes vir wie hy skrywe. Hy is ook ’n deelgenoot saam met hulle in drie werklikhede: die verdrukking onder Domitianus wat hom na Patmos verban het, die koninkryk van God wat onkeerbaar aan die kom is in die wêreld, en “die volharding in ons verhouding met Jesus”. Dit is ’n ongelooflike troosvolle beskrywing. Johannes het nie net deel aan die verdrukkende werklikheid van die Romeinse vervolging van gelowiges nie – spesifiek omdat hy die woord van God verkondig het, dws die getuienis deur Jesus Christus – maar ook aan die koninkryk van God wat besig is om in te breek in hierdie wêreld. Hy praat oor volharding as ’n gawe van God wat Johannes van Jesus binne die verhouding met Hom ontvang. Volharding is dus vir Johannes nie net ’n opdrag wat uitgevoer moet word nie, maar ook ‘n gawe – in ons taal, ‘n belofte – wat ontvang en vasgehou moet word. Dit moet ons laat moed skep!
Johannes vervolg dan met die beskrywing van die visioen van Jesus Christus wat hy gesien het, op die dag van die Here, dit is Sondag, toe die Gees van hom “besit geneem” het, en die Here Jesus die opdrag aan Johannes herhaal om aan die sewe gemeentes te skryf wat hy sien. Jesus het tussen sewe goue kandelare gestaan – die simbole van die sewe gemeentes – en Johannes eien Hom as die Seun van die Mens, op voetspoor van Daniël se vroeëre beskrywing (Dan 9:13). By sy lang kleed het hy ’n goue band om sy bors gedra, dié plek waar werkers gewoonlik hulle gordel vasgemaak het ná hulle klaar gewerk het. Sy werk word dus as afgehandel geteken. Sy voorkoms was verder besonder treffend en uitermate verheerlik met veral die skerp swaard met twee snykante uit sy mond – ’n toespeling op die kragtigheid en priemende karakter van sy woorde (vgl Hebr 4:12) – en die feit dat hy sewe sterre in sy regterhand gehou het – die simbool van die leraars van die gemeentes – die uitstaande kenmerke. Jesus word dus as die handelende instrument van God in die lewe van die gemeentes sowel as die leraars geteken, een wat die reg verdien het om op te tree en wat dit met gesag en effektiwiteit doen.
Hierdie visie se doel was om Johannes gerus te stel dat Jesus die dood oorwin het. Trouens dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk (Hades of onderwêreld) besit en vir ewig en ewig lewe. En dat Hy nou aan almal kan bekend maak wat reeds gebeur het, nou aan die gang is en hierna gaan gebeur – verlede, hede en toekoms. Hy is die Eerste en die Laaste – titels wat net met God en sy Seun geassosieer word (vgl Jes 44:6; 48:12) – en die Lewende (dws die opgestane Here, soos die engele Jesus beskrywe in Luk 24:5: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?”). Dit is drie titels wat Jesus se omvattende heerskappy en gesag van alles wat lewe beskryf. Hy het selfs die dood oorwin!
Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar