Skip to main content

Openbaring 2:12-17 – Jesus gee die verborge manna en ‘n nuwe naam aan dié wat oorwin

5 Mei

Openbaring 2:12-17 – Jesus gee die verborge manna en ‘n nuwe naam aan dié wat oorwin

12“Skryf ook aan die boodskapper van die gemeente in Pergamum: “Dit sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het, 13“ ‘Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon. 14Maar Ek hou ‘n paar dinge teen jou: Jy het mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Hy het Balak geleer om ‘n strik vir die kinders van Israel te stel, naamlik om van die afgodsoffers te eet, en hulle onsedelik te gedra. 15Net so het jy ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang, wat hulle op hierdie manier gedra. 16Kom dan tot bekering, anders sal Ek baie gou na jou toe kom, en met die swaard van my mond teen hulle oorlog maak. 17“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek van die verborge manna gee, en Ek sal vir hom ‘n wit klippie gee, ja, ‘n klippie waarop ‘n nuwe naam gegraveer is, en wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.’ ”

Die boodskap aan Pergamum is om te: “Stry teen valse leringe.” Jesus meet hulle nie aan hulle invloed in die wêreld nie. Hy meet nie die warmte van hulle geloofsgemeenskap nie. Hy meet nie die welsprekendheid van hulle leiers nie. Jesus se weegskaal meet dié dinge wat vir Hom saak maak. En in die geval van Pergamum wat die inhoud is van wat in die gemeente geleer word. Geen wonder dat Jesus Homself aan hierdie gemeente bekendstel as die een wat die skerp swaard met die twee snykante het nie. Hierdie swaard het ‘n dubbele betekenis. Aan die een kant is dit die wapen van God se oordeel (oor onsuiwer leringe). Dit is hoe God Homself onder andere in die OT bekend gestel het (vgl Deut 32:41). Maar, aan die ander kant is die swaard ‘n simbool van God se Woord (wat sy suiwer lering bevat). So sê Jesaja alreeds in die OT (vgl Jes 49:2). Maar dit is ‘n helder boodskap in die NT. Paulus praat ook van die Woord as die swaard van die Gees (Ef 6:17; vgl ook Hebr 4:12). In ‘n stad wat bekend was vir boeke, stel Jesus Homself dus bekend as die Een van die Bóék. Die Een vir wie die suiwer lering saak maak.

Die gehegtheid van die gemeente aan die suiwer leer was egter onder skoot. Pergamum was een van die hoofsentrums van keiseraanbidding in die streek met ’n reuse-altaar vir Zeus Soter, hulle verlosser god. Hierdie altaar het ‘n wrede doel gedien. Daar is 24 uur elke dag, 7 dae ‘n week, mense op dié massiewe altaar geoffer. Die mense is binne-in ‘n brons bul vasgebind, ‘n vuur is onder die bul aangesteek, en dan is die persoon lewendig soos in ‘n oond gebraai. Die gille het uit die bul weerklink wat dit laat klink het asof die bul lewe. Grusaam. Alles ter ere van Zeus. Gemik daarop om gelowiges se gehegtheid aan hulle leringe te verswak. Midde-in hierdie uitdagende omgewing – die plek waar die Satan bly, daar waar die troon van Satan is, so verskriklik was die plek, sê Jesus – het die voorganger en die meeste van die gemeente aan die Here en sy Woord getrou gebly selfs toe Antipas, een van die gemeente se getroue getuies, die hoogste prys vir sy getrouheid moes betaal. Moontlik juis verbrand in die afgod Zeus, soos die tradisie oor Antipas lui. Die Here Jesus bemoedig daarom die voorganger en gemeente aan om getrou te bly, selfs al kos dit hulle dood. Antipas is hulle voorbeeld. Daarom moedig die Here hulle aan om voort te gaan daarmee en nie toe te laat dat enige valse leringe die gemeente soos suurdeeg infiltreer en hulle verstrik word in afgodery en onsedelikheid nie. Soos Bileam stel dié mense ‘n strik vir die gemeente, leer hulle die gemeente om van die afgodsoffers te eet en hulle onsedelik te gedra. Dit is ook wat die Nikolaïete die mense in Efese geleer het. Hulle het nou ook aanhangers in Pergamum verwerf. Hierdie mense het dus van die kerk ‘n “wêreld-vriendelike” kerk probeer maak. Hulle het die waardes en lewenstyl van die samelewing binne die kerk aanvaarbaar gemaak, en só die gelowiges verlei om “wêreld-gelykvormig” te raak. Vriendskap met die wêreld is egter vyandskap met God (vgl Jak 4:4). Daar is nie kompromie moontlik met die wêreld se waardes en wêreldse immoraliteit nie. Ons is immers vreemdelinge in hierdie wêreld en vermy vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel, so het Petrus ons geleer (1 Pet 2:11).

Maar let op, die Here wil nie hê dat die getroue gelowiges moet uittrek na ‘n ander gemeente nie. Pergamum is immers die plek waar hulle aanbid. Pergamum is hulle gemeente; dit is hulle gemeenskap – hulle hoort daar. Die getroue gemeentelede sal dus die moeilikheid tot die einde toe moet trotseer. Hulle sal soos Antipas God se getroue getuie moet wees, selfs al beteken dit dat hulle verteken kan word as Antipas: “teen alles”. Hulle sal hulle deel moet doen in die stryd vir die ware evangelie. Suiwerheid in leer is altyd die beste pad om te volg in hierdie wêreld. En dit is nie net ‘n boodskap vir die teoloë nie. Dit is ‘n boodskap vir gewone lidmate. Luther se droom was immers dat gewone lidmate meer as die pous moes weet van die teologie. Dit is waarom die Hervormers soveel aandag geskenk het aan die skryf van geloofsbelydenisse en kategismusse. Sodat gewone gelowiges saam kan praat en vir die waarheid kan stry. Jesus se belofte aan dié wat enduit volhou in die suiwer leer is tweërlei. 1) “Aan wie oorwin, sal Ek van die verborge manna gee.” ‘n Simbool van die versorging van God selfs nou al in hierdie wêreld wat vir ons soos by wyse van spreke die “woestyn van versoekings” is. 2) “Ek sal vir hom ‘n wit klippie gee, ja, ‘n klippie waarop ‘n nuwe naam gegraveer is, en wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.” ‘n Simbool van die toegangskaartjie wat God vir jou persoonlik verleen tot die ewige lewe.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.