Skip to main content

MATTEUS 2:22-23 – Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea te gaan woon

22Maar toe hy hoor dat Argelaos koning van Judea is in die plek van sy vader, Herodes, was hy bang om daarheen te gaan. En nadat hy in ’n droom gewaarsku is, het hy vertrek na die gebied van Galilea.

23En daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is dat Hy ’n Nasarener genoem sal word.

Teks en konteks

1:22 Dit is uiters insiggewend om die groei by Josef waar te neem. Van droom tot droom.

Josef luister aanvanklik na die engel se boodskap in sy eerste droom om Maria as sy vrou te neem. Hy wou haar skei, in die geheim, omdat hy regverdig en barmhartig was. Hy wou die wet gehoorsaam, en hy wou haar nie verneder nie. En die Here sê. Nee, nie só nie. Trou met haar. Hier is iets aan die gang wat baie groter is as wat jy besef. Dit is my Kind wat jou kind gaan word.

Josef luister na die opdrag van die owerheid om na Betlehem te gaan. God was immers daarin ook besig. Ons moet nooit dink dat enigiets in die lewe buite God se wil en werke gebeur nie.

Josef luister na die engel in die tweede droom wat hom na Egipte toe laat uitwyk, asook met die derde droom as hy na Israel toe moet terugkeer. Hier word hy in ‘n vierde droom aangesê om in Nasaret te gaan woon. Maar, dit is iets wat hy eintlik al geweet het, want hy was bang om in Judea te gaan bly. Die droom het sy eie aanvoeling bevestig.

Dit is uiters interessant om die vier drome langs mekaar te sit en die groei wat daar kom by Josef raak te sien.

  1. In die eerste droom wil hy iets anders doen as wat die Here wil. Hy gehoorsaam die Here se wil.
  2. In die tweede droom is hy onbewus van wat aan die gang is, maar die Here red hom en sy gesin van die kindermoord.
  3. Vir die derde droom is hy besig om te wag vir instruksies, want die Here het gesê hy moet daarvoor wag.
  4. Met die vierde droom is hy ingestem op God se stem en kom self agter dat Judea nie ‘n veilige plek gaan wees vir hulle as gesin nie, en die Here bevestig dan in ‘n droom dat hulle eerder in Galilea, in Nasaret moet gaan bly. Op die koop toe ook nog ‘n vervulling van ‘n profesie.

1:23 God lei hulle dus uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret. Die dorpie in Galilea is ná die dood van Herodes die Grote onafhanklik van Juda deur Herodes Antipas (Matt 14:1-12), ’n ander seun van Herodes, geregeer. Een waarvan ons later meer sal verneem in die evangelies.

Nasaret was 128 km noord van Jerusalem. So dit was nog 10 dae se reis te voet. En daar het Jesus saam met sy pa-hulle gebly. Sy pa Josef ‘n bouer, ‘n timmerman wat met hout en klip gebou het, soms ook met metale.

Dié skuif word deur Matteus aan die vervulling van die woorde van die profete (meervoud – dui op die hele boodskap van die OT) verbind (Matt 2:23). Dit is daarom ook die hoogtepunt van Matteus se tweede hoofstuk. En die toppunt daarvan is dat Matteus Jesus die Nasarener noem. Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag gevang het, sê Matteus, is die Nasarener.

Nou, ‘n mens moet dié woord onderskei van die woord Nasireër, soos dit in die OT die geval was met Simson (vgl Rigt 13:5, 7; Num 6; Jer 7:29). Jesus het nie volgens die Nasireër-eed geleef nie. Hy het sy hare geskeer, en wyn gedrink.

Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken.

In Jesaja 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus …”. In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl ook Jes 53:2).

Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.

Nasaret was immers ’n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners, volgens historiese bronne, genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Seporis, ’n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea. Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Matteus.

Onder die radar, op ‘n plek waar niemand sou soek nie, vir die volgende amper dertig jaar … Wat ‘n voorsiening!

Dié uitspraak is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem, die uitverkore herderleier van God. Wié sou dit nou kon verwag?!

Betekenis en boodskap

  1. Dink na oor die groei wat ‘n mens by Josef waarneem in sy luister na God deur die drome wat Hy gee. Kan jy van dieselfde groei getuig, selfs al werk God heeltemal anders met jou?
  2. Dink na oor die plek waar jy jouself op die oomblik bevind. Die gedeelte wil ons bemoedig om nooit die plek waar jy jou bevind, of waarheen die Here jou lei, te onderskat of lig te skat nie. Die belangrike is dat jy gehoorsaam is en God se leiding volg. Geen plek is onbenullig in God se oë nie. Dit kan ook jou veilige oase wees in diens van die doel wat God vir jou lewe het.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesus se geboorte en kinderjare


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda