MATTEUS 2:19-21 – Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel
19Toe Herodes gesterf het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef in Egipte
20en sê: “Staan op en neem die Kind en sy moeder saam en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind se lewe gesoek het, is dood.”
21Hy het toe opgestaan en die Kind en sy moeder saamgeneem en na die land Israel gegaan.
Teks en konteks
2:19-20 God lei Josef-hulle uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, weereens deur ‘n droom. Josef was dus iemand wat drome nie net ontvang het nie, maar dit kon uitlê, soos sy OT naamgenoot, Josef. Daarvolgens kon hy die wil van die Here onderskei.
Die ooreenkoms met Josef van die OT is betekenisvol! God het Josef in die OT ook deur drome in Israel en Egipte gelei om nie net ‘n ruimte vir homself in die vreemde te skep nie, maar vir die hele volk van Israel (Gen 38-50). Iets soortgelyks gebeur hier met Josef van die NT. Met die verskil dat dit eindig in Israel!
2:21 Josef is gehoorsaam aan God se opdrag deur die engel, soos ons nou al gewoond geraak het van hom.
Betekenis en boodskap
- Dink na oor die feit dat God van alles bewus is. Hy weet wat aangaan in die wêreld van die politiek en die ekonomie. Hy weet ook wat aangaan in sy mense se lewens. God weet ook nie net alles nie. Hy gee om vir ons en stuur ons waar ons kan floreer in sy wil. Dit kan op die kort- en selfs mediumtermyn ontberings insluit, maar altyd as stasies op die reis na ons bestemming. Soos Josef, seun van Jakob, dit vroeër in Egipte ervaar het, so ervaar Josef, seun van Eli-Jakob, dit ook nou in Egipte, en uiteindelik weer terug in Israel.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare

Onlangse kommentaar