Skip to main content

Jeremia 14:1-15:9 – Die Here is hulle nie meer goedgesind nie

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie volgende drie hoofstukke vorm ’n eenheid en begin met die bekende frase wat telkens ’n nuwe hoofdeel in Jeremia inlui: “Die woord van die Here het tot Jeremia gekom …” (soos in 7:1; 11:1 en verder).

Die hooftema van Jer. 14:1-15:9 is die aanbreek van ’n geweldige droogte wat bydra tot die grootskaalse verwoesting van die volk as agtergrond van die intense gesprek wat die Here en Jeremia oor die toekoms van die volk voer.  En ons hoor hoe Jeremia worstel met die feit dat die Here die volk nie meer goedgesind is nie (15:10).  In Jer. 15:10-21 verdiep Jeremia se worsteling in sy derde  “Konfessie” waarin hy kla dat die Here hom nie beter ondersteun in die teenstand, vervloeking en verwerping wat hy ervaar nie. Die Here belowe wel om hom te help, maar waarsku hom dat die mense hóm moet volg, nie hy vir hulle nie, en dit sluit in dat hy Gód se woorde vir mense moet blý bring.

Die gesprek tussen die Here en Jeremia verloop in hierdie gedeelte soos volg:

  • 14:1-6 – Jeremia beskryf die droogte as uitmergelend vir mens en dier
  • 14:7-9 – Jeremia pleit dat die Here hulle nie sal verlaat nie
  • 14:10-12 – Die Here antwoord Hy is hulle nie meer goedgesind nie
  • 14:13 – Jeremia kla oor die misleidende boodskap van die ander profete
  • 14:14-17a – Die Here sê Hy sal die kwaad wat hulle gedoen het op hulle eie koppe laat afkom
  • 14:17b-22 – Jeremia bars in trane uit oor die afgryslike toestand van die volk
  • 15:1-4 – Die Here weier egter om van sy oordeel af te sien
  • 15:5-9 – Die Here is moeg daarvan om hulle straf te bly herroep

14:1-6 – Jeremia beskryf die droogte as uitmergelend vir mens en dier

Die beskrywing van die droogte is aan die eenkant ’n werklikheid waarmee baie van ons kan identifiseer.  Die land verdor, die mense versmag, die diere gooi hulle lammers weg: “hulle oë raak dof, want daar is nie meer gras nie.”  Dit tref die vername mense sowel as die slawe, die boere en hulle diere. Niemand en niks word daarvan uitgesluit nie.  Die koppe hang, die mense is verslae en verleë, hulle is moedeloos.

Aan die ander kant is dit ook ’n beskrywing van die toestand van die volk in hulle verhouding met God.  Daar is ’n droogte in hulle interaksie.  Soos die volk al hoe vêrder van God af wegbeur, só val dinge net eenvoudig al hoe meer uitmekaar, en raak hulle oë ook dof, want daar is niks meer wat hulle geestelik kan voed nie

14:7-9 – Jeremia pleit dat die Here hulle nie sal verlaat nie

Vanuit hierdie werklike beskrywing van die droogte wat ook simbolies op die geestelike droogte in Juda se gemeenskap dui, erken Jeremia dat hulle sonde tussen hulle en die Here kom staan het.  En vra hy dat die Here tog sal optree ter wille van sy Naam om dié herhalende sondes uit te sorteer, om weer die Hoop van Israel, die Redder in tye van nood te wees soos in die verlede.  Waarom, vra hy, sou U vreemd raak vir ons, en sy afstand van hulle behou.  “U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!”

14:10-12 – Die Here antwoord Hy is hulle nie meer goedgesind nie

Die Here antwoord Jeremia op sy roerende pleidooi deur hom te wys op die voorliefde van die volk om van Hom af weg te draai.  Die Here se geduld is op.  Hy is hulle doodgewoon net nie meer goedgesind nie.  Hy sal die voorwaardes van die verbond in spel bring en van hulle rekenskap eis.

Daarom moet Jeremia nie vir hulle voorspraak doen nie, want die Here sal nie na hulle luister, selfs al bring hulle watter offers of watter smeekbedes ook al.  Die Here se besluit staan vas dat Hy met oorlog, hongersnood en pes ’n einde aan hulle sal maak.  Daarmee bevestig die Here ook dat Hy agter die droogte sit waarvan Jeremia so pas die roerende beskrywing gemaak het.

14:13 – Jeremia kla oor die misleidende boodskap van die ander profete

Jeremia wys dan die vinger na die misleidende boodskap van die ander profete wat juis vir die volk sê dat wat Jeremia oor oorlog, hongersnood en pes sê, nie waar is nie.  Die Here sal inteendeel vir hulle ’n blywende voorspoed gee in die land.  Hulle klink dus soos die voorspoedsteoloë van vandag wat net van voorspoed uit die hand van die Here praat.

14:14-17a – Die Here sê Hy sal die kwaad wat hulle gedoen het op hulle eie koppe laat afkom

Die Here stem dan in sy reaksie in met wat Jeremia oor die profete sê, maar distansieer Hom van hulle en hulle boodskappe.  Trouens, Hy sal die kwaad wat hulle gedoen het op hulle eie koppe laat afkom.  Hulle sal omkom juis deur dié dinge waarvan hulle sê dat dit nie kan gebeur nie, oorlog, hongersnood en pes.

Terloops, vers 17 se eerste frase hoort beter by die vorige deel as afsluiting daarvan, as ’n woord van die Here: “Sê dít vir hulle!”  Die res van vers 17 tot by vers 22 pas duidelik beter in die mond van Jeremia en nie by ’n uitspraak van die Here nie.

14:17b-22 – Jeremia bars in trane uit oor die afgryslike toestand van die volk

Jeremia bars in trane daaroor uit, dag en nag, sonder ophou, weens die lyding van die volk wat hy moet aanskou.  Oral lê die slagoffers van die verwoesting.  Selfs die profete en priesters trek die land vol: “sonder dat hulle weet wat om te sê.”

Die vraag brand in sy binneste of die Here Juda dan heeltemal verwerp het, of Hy walg aan sy mense.  Hy worstel met die finaliteit van God se oordeel, en kan eintlik nie aanvaar dat dinge nie weer beter sal raak nie.  Hy erken dat hulle opstandig was, dat hulle gesondig het, ook namens die voorgeslagte, en vra dat die Here hulle tog nie moet verwerp nie sodat sy plek verag word nie.

Hy herinner die Here aan die verbond en vra dat die Here dit tog nie sal prysgee nie!  Hy is immers die enigste God wat die wêreld kan versorg, dié Een op Wie hulle vertrou.

15:1-4 – Die Here weier egter om van sy oordeel af te sien

Op dié roerende gebed reageer die Here nie soos ’n mens eintlik sou verwag nie, hoewel dieselfde dinge al vroeër in Jeremia gesê is.  “Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie.”  Hoewel Jeremia bekend was vir sy gebedskrag en hy baie keer gevra is om vir hulle in tree (Jer. 37:3; 42:2, 4, 20), het die Here hier en nog vele ander plekke geweier dat hy selfs begin om te vra, want die Here was nie van plan om te luister nie (vgl. Jer. 7:16; 11:14; 14:11 soos ons al gelees het).

Die Here weier dus om van sy oordeel af te sien en verbind dit aan die sondes van koning Manasse, wat al het hy tot bekering gekom, soveel skade aan die volk gedoen het, dat die oordeel eintlik onvermydelik geword het, al was daar ook watter tipe hervormings.

Lees meer in my twee bydraes oor Manasse: 2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem en 2 Kronieke 33 – Manasse is ’n gruwelike koning wat berou het en tot bekering kom.  Hier is een aanhaling daaruit om die gevolge van Manasse se afvalligheid te illustreer, iets wat sy bekering nie ongedaan kon maak nie:

“Manasse se naam beteken: ‘die een wat laat vergeet’ en sy ouers het heel moontlik ’n baie positiewe verwagting van dié seun van hulle gehad.  Hy het egter die naam deur die modder gesleep deur die volk van God te laat vergeet.”

15:5-9 – Die Here is moeg daarvan om hulle straf te bly herroep

Dit is darem een van die donkerste woorde in die Bybel dat die Here só moeg kan raak vir ’n volk dat Hy net nie meer medelye en deernis met hulle kan hê nie.  “Ek is moeg daarvan om jou te straf te bly herroep.”  Hy wil hulle met ’n gaffel uitwan tussen die koring uit sodat hulle soos kaf kan wegwaai in die wind.  Nie net word die weduwees meer nie, Hy laat selfs aanranders toe om helder oordag hulle te oorrompel, en wis hulle kinders uit, sodat hulle niemand meer het wat vir hulle kan sorg nie.

En as daar moontlik iemand oorbly, sal Hy hulle ook uitlewer aan hulle vyande om hulle dood te maak.  Wrede woorde vir ’n wrede werklikheid.

Boodskap

Ons kan kyk deur die bril van die Nuwe Testament na dié gebeure en dan te maklik en te vinnig Jesus se woorde aan die kruis hoor: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Ons moet egter altyd onthou dat dié prentjie van God ook ’n Bybelse prentjie is, al is dit ook ’n vreesaanjaende een.

Die doel van hierdie beskrywings is om ons te herinner dat oorsake gevolge het, dat wat in ons verhouding met God gebeur die toekoms impakteer, selfs al is vergifnis en versoening Nuwe-Testamenties die leidende metafore waaraan ons kan en moet vasgryp.  Ons moet ook onthou dat hierdie straf op Manasse se sonde, by wyse van spreke, uiteindelik die Messias getref het, en dat sy pyn en ellende die vryheid en vryspraak vir ons gebring het.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar