Jeremia 13 – Juda is so nutteloos soos ’n verslete linnegordel
Hierdie hoofstuk bestaan uit vier gedeeltes waarin besondere beeldryke taal gebruik word wat ’n mens sterk herinner aan die gelykenisse wat Jesus in die Nuwe Testament gebruik in sy bediening. Ons sien dit waar:
- Die Here vir Jeremia aansê om ’n simboliese handeling met ’n linnegordel uit te voer wat die sinlose hoogmoed en ongehoorsaamheid van Juda en Jerusalem aan die kaak stel – 13:1-11;
- Die Here vir Jeremia aansê om die volk met die simboliek van vol kanne wyn te herinner daaraan dat niemand gespaar gaan word nie – 13:12-14;
- Jeremia die volk oproep om nie hoogmoedig te wees nie, maar te luister, anders sal hy (ek interpreteer die subjek van vers 17 eerder as Jeremia en nie die Here nie) huil en huil oor hulle ballingskap – 13:15-17;
- Die Here vir Jeremia aansê om beide die koninklike geslag as die gewone burgers van Jerusalem te waarsku teen die vyand uit die noorde wat hulle soos kaf wat verbywaai in die woestynwind sal verstrooi omdat hulle die Here vergeet het – 13:18-27.
13:1-11 – Simboliek van die linnegordel
Die Here sê vir Jeremia om ’n simboliese handeling met ’n linnegordel uit te voer wat die sinlose hoogmoed en ongehoorsaamheid van Juda en Jerusalem aan die kaak sal stel.
Jeremia het nog vele ander simboliese handelinge wat hy deur die loop van sy bediening uitvoer, ook in Egipte. Vgl. onder andere die volgende:
- Jer. 16:1–4 waar Jeremia opdrag kry om nie te trou nie;
- Jer. 18:1–12 waar die klei op die pottebakkerswiel misluk en iets anders gemaak word as simbool van God se soortgelyke hantering van die volk;
- Jer. 19:1–11 waar Jeremia ’n kleipot breek as aanduiding van die oordeel van God;
- Jer. 27:1–28:17 waar ’n uitgebreide handeling met ’n juk en skeie uitgevoer word om die ballingskap voor te stel;
- Jer. 32:1–15 waar Jeremia grond koop in Anatot as bevestiging van God se belofte dat ’n normale gemeenskapslewe weer in die toekoms hervat sal word;
- Jer. 43:8–13 waar groot klippe by die farao se paleis in Tagpanhes begrawe word as getuienis van Egipte se val voor Babel;
- Jer. 51:59–64 waar Seraja ’n boodskap aan die ballinge bring wat op een boekrol geskrywe is en wat daarna met ’n klip geanker word en in die Eufraat gegooi word om weg te sink as belofte dat Babel sal vergaan.
Terug by die simboliek van die linnegordel. Die feit dat die gordel nie nat mag word nie kan dui daarop dat dit nie gewas moet word om te keer dat dit krimp of beskadig word, ’n teken van beskerming in die teenwoordigheid van die Here. Die gordel wat in die klipskeur vergaan en verslete raak, is ’n beeld van die hoogmoedige volk van Juda en Jerusalem wat weier om na die Here te luister en daarom vir Hom van geen nut meer wees nie. Hulle afvalligheid van die Here neem hulle uit sy teenwoordigheid en beskerming weg tot hulle skade en vernietiging.
Hoewel hierdie boodskap duidelik is, is dit onseker of Jeremia regtig twee maal tot by die Eufraat gereis het en terug, ’n afstand van 1 160 km (en dan weer terug!) wat ’n reis van 4 640 km altesame impliseer, en of dit nie ’n nader rivier was wat met die oorskryf van die teks met die Eufraat verwar is nie, bv. die Pârâ rivier ’n entjie van Jeremia se tuisdorp Anatot.
13:12-14 – Simboliek van die vol kanne wyn
Die Here sê vir Jeremia om die volk met die simboliek van vol kanne wyn te herinner daaraan dat niemand gespaar gaan word in die ballingskap wat kom nie. Die wyn sal almal, klein en groot, gewoon of vernaam, dronk maak sodat hulle hulleself teen mekaar sal verpletter – mooi vertaal! – en hulle sonder ontferming uitgeroei sal word.
13:15-17 – Hoogmoed lei tot ’n oorvloed trane
Jeremia tree ook toe tot die gesprek en roep die volk op om nie hoogmoedig te wees nie, maar te luister, anders sal hy huil en huil, sy trane stort oor hulle ballingskap. Ek interpreteer die subjek van vers 17 eerder as Jeremia en nie die Here nie wat vir my meer sin maak van die hele gedeelte. As ’n mens God nie eer nie, raak dit só donker in en om jou dat daar later geen lig van God meer oor is om van te lewe nie.
13:18-27 – Waarskuwing van verstrooiing aan die koninklikes en die gewone mense
Die Here sê vir Jeremia om beide die koninklike geslag – die koning en koninginmoeder – as die gewone burgers van Jerusalem te waarsku teen die vyand uit die noorde wat hulle soos kaf wat verbywaai in die woestynwind sal verstrooi omdat hulle die Here vergeet het. Die koning en koninginmoeder kan óf Jojagin en Negusta wees (2 Kon. 24) óf Jojakim en en Sebida (2 Kon. 23).
Die rede is dat hulle so gewoond geraak het aan die kwaad dat hulle nie meer in staat is om goed te doen nie. Dit is soos ’n Kussiet met ’n swart vel wat nie sy vel of ’n luiperd sy vlekke/kolle nie kan verander nie. Ellende wag daarom vir hulle.
Boodskap
Die simboliek van Jeremia tref my opnuut. Dit is sulke kleurryke en verbeeldingryke taal en beelde dat dit eintlik funksioneer as die gelykenisse van die Ou Testament. Die linnegordel illustreer dat die verhouding met God net in sy nabyheid tot sy volle verwerkliking kan kom. Die kanne wyn illustreer hoe ’n volk die grens na vernietiging kan oorsteek. Die beeld van die donkerte illustreer dat daar net lig in ’n intieme verhouding met God beskikbaar is. En die beeld van die Kussiet en die luiperd illustreer dat ’n mens só gewoond kan raak aan kwaaddoen dat goeddoen ’n vêraf droom raak.