Handelinge 2:22-41 – Die belofte van die Gees is bedoel vir almal wat die Here na Hom toe roep
Handelinge 2:22-41 – Die belofte van die Gees is bedoel vir almal wat die Here na Hom toe roep
22“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was ‘n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. 23Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. 24God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. 25Dawid sê immers oor Hom: “ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien, want Hy is aan my regterkant, sodat ek nie wankel nie. 26Daarom juig my hart en jubel my tong; ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef, 27want U sal my siel nie aan Hades oorlaat, en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie. 28U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul.’ 29“Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. 30Omdat hy ‘n profeet was, en geweet het dat ‘God met ‘n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ 31het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê: “ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’ 32“God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. 33Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. 34Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, 35totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete gemaak het.’ 36“Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” 37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.” 40Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” 41Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg.
Die mees wesenlike vraag vir die Christelike geloof is wie Jesus van Nasaret is. Die belydenis oor Jesus is die fokuspunt van ons geloof. Dit raak alle ander fasette van ons geloof. Om die waarheid te sê, regdeur die geskiedenis van die kerk is dit die diepste vraag: Wie is Jesus? Dit is een van die redes waarom daar meer as een evangelie is. En, al vier die evangelies fokus op Jesus en maak sy opstanding uit die dood en die onmiddellike effek daarvan op mense die klimaks van hulle skrywes. Want, dit is die hart van die evangelie verhale. Hy is die opgestane Here! Dit is dié boodskap waarmee Petrus die Jode op Pinksterdag konfronteer. Want, die feit is dat die opstanding van Jesus baie wyd aanvaar en erken is deur die Jode in Jerusalem. Daar was wel baie van die leiers wat die feite teengestaan het; wat valse stories oor Jesus versprei het; wat die Christene met alle mag vervolg het om die boodskap van Jesus se opstanding te probeer onderdruk. Maar ons sien hier op Pinksterdag dat niemand eers probeer het om met Petrus-hulle te stry nie. Almal het geweet dat daar iets besonders gebeur het. Jesus se opstanding was “the talk of the town” en almal moes alles wat hulle oor Hom gedink het, herevalueer in die lig van die opstanding.
Die vraag was dus duidelik, wat moet hulle nou doen? Want, wat doen ’n mens as die mat onder jou voete uitgeruk word en jy jou standpunt moet verander oor Jesus? As jy agterkom dat wat Jesus oor Homself gesê het, meer as maar net waarskynlik waar is? Wat doen jy? Ek bedoel, mense staan nie gewoonlik uit die dood uit op nie! Of hoe?! En hier het dit nou gebeur. En hulle kan nie daarmee stry nie. Dit is in dié verwarring en herbesinning van die betekenis van Jesus wat die verhaal van Pinksterdag ontvou. En die interessante is, dit is dieselfde Een wat verguis en verwerp is, wat ook die Een is wat met die verwarde Jode in gesprek tree. Jesus self, die opgestane Here, tree met die Jode van Jerusalem in gesprek. En Hy doen dit op twee maniere: 1) deur die uitstorting van die Heilige Gees en 2) deur die getuienis van die dissipels.
Die woorde van Petrus word uitgesonder in die getuienis van die dissipels waarin hy drie baie belangrike goed oor Jesus sê, drie dinge wat die basis vorm van Jesus se roepstem aan die aanwesiges: 1) God het Jesus deur sy lewe en bediening aan hulle bekend gestel. Niemand kon daarmee stry nie. Hulle was self getuies van alles wat Hy gedoen het. Die vier Evangelies sou dit in geskrewe vorm vir ons nalaat. 2) Die kruisiging was God se besluit. Dit was God se plan. Van altyd af. Jesus het Hom gewillig daaraan oorgegee. 3) Dieselfde geld die opstanding uit die dood. Dit is net God wat só iets kon doen. Die dood kon Jesus nie vashou nie. Almal is daarvan getuies.
Die regte reaksie op Petrus se toespraak is daarom geloof en gehoorsame toewyding. Dit is die antwoord op die vraag wat die Jode vra: “wat moet ons doen?” Dit sal die belofte van die Heilige Gees vir hulle in vervulling laat gaan, presies net soos dit nou met die dissipels gebeur het. Trouens, enigiemand, wie hy of sy ook al is, sal die Heilige Gees as gawe ontvang met bekering. Dit is wat die opstanding van Jesus vir jou beteken.
Die eerste oes word dus op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge! Hulle het die boodskap oor Jesus geglo en tot bekering gekom. Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: 1) ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), 2) ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en 3) die gawe van die Heilige Gees. Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word.
Lees meer (‘n preek van my): https://ngkerksomerstrand.co.za/handelinge-214a-22-32-jesus-het-opgestaan/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Chris van Zyl
Ekt gewonder waar die res heen verwyn het. Dankie vir die volledige een
Chris van Wyk
Ja, nogal ‘n konsternasie hier! Ek het per ongeluk net die helfte gekopieer uit my Word dokument. Darem bly ek kon dit agterkom voor ek die Whatsapp uitgestuur het.