Skip to main content

Geduld in die Bybel

‘n Bydrae na aanleiding van my reeks oor die beloftes van God: “Wanneer kom die reën?” Ek preek vanaand oor geduld en gaan dit illustreer aan die hand van Abraham se lewe, beide die verdraagsaamheid en die lankmoedigheid wat hy getoon het. Hier is die OT en NT gegewens oor geduld meer sistematies saamgevat. Geniet.

Geduld in die OT

Die Hebreeuse uitdrukking vir geduld (ʾerek ʾappayim) is letterlik “lank van neus” of “om ‘n lang asem te hê”.  Dit is die teenoorgestelde van angs of kommer of woede wat jou “kortasem maak”. Geduld is dus om lankmoedig te wees, om vir ‘n lang tyd moed te hou. Om uit te hou en aan te hou soos ‘n marathon atleet wat sy pas aanpas om enduit te kan hardloop.

Dit word veral van God gesê dat Hy lankmoedig is, stadig om kwaad te word (Eks 34:6; Num 14:18; Ps 86:15). En al word die woord nie in die OT gebruik om mense te beskryf nie, kan ‘n mens tog hierdie eienskap van moedhou by baie gelowiges raaksien.

Hierdie lankmoedigheid word beoefen wanneer daar op die Here gewag word, soos Psalm 27:14 dit uitspel:

Wag op die HERE!  Wees sterk en hou moed,  ja, wag op die HERE!” (BDV)

en Psalm 130:5-6 dit só mooi sê: “

Ek wag op die HERE; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop. My hele wese sien uit na my Heer, meer as wat wagte uitsien na die môre, ja, as wagte na die môre.”(BDV)

Geduld in die NT

Die NT gebruik 15 woorde om geduld te beskryf. ‘n Mens kan egter dit tot twee betekenisse reduseer wat deur al dié woorde uitgedruk word: lankmoedigheiden verdraagsaamheid.[1]

So as jy aan geduld dink, moet jy dink aan lankmoedigheid en verdraagsaamheid. Dit is die kenmerke van iemand wat geduld beoefen.

1. LANKMOEDIGHEID:Die Griekse woord makrothumia (en twee verwante woorde makrothumeō en makrothumōs) word gebruik om dieselfde betekenis as die Hebreeuse begrip van “lankmoedigheid” oor te dra: “om ‘n lang asem te hê”. Dit is ook die woord wat in Hebreërs 6 gebruik word vir “geduld.”

Louw-Nida beskryf die betekenis van makrothumia as: a state of emotional calm in the face of provocation or misfortune and without complaint or irritation—‘patience.’” In ander tale word hierdie geduld uitgedruk met idiome soos: “om te sit in jou hart” of: “om te keer dat jou hart bokspring” of: “om ‘n wagtende hart te hê.

Dit is hierdie woord wat die NT ook gebruik om God se geduld met sondaars mee uit te druk. God is geduldig met sondaars. Hy is byvoorbeeld stadig in sy oordeel oor die sondaars wat in Romeine 1 genoem word. Hy is langsaam in sy woede oor die sonde. Hy keer dat sy hart bokspring. Hy het ‘n wagtende hart dat mense tot inkeer kom.

Soos Paulus sê: “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld!” God wil deur sy goedheid sondaars tot bekering lei. Daarom is Hy geduldig met hulle (Rom 2:4; vgl Rom 9:22; 1 Pet 3:20; 2 Pet 3:9,15).

Maar, omdat God ons binnekant verander om soos sy Seun te wees, is dié eienskap daarom ook ‘n vrug van die Heilige Gees in gelowiges (Gal 5:22). En deur die vrug van die Gees gee God ons die krag om in alle omstandighede geduldig te volhard. En telkens word hierdie geduld met die Griekse woord  makrothumiauitgedruk (Kol 1:11; vgl Ef 4:2; 2 Tim 3:10; 4:2; Jak 5:7).

Die NT gebruik ook die Griekse woord hupomonē (ook hypomenō en hupopherō) in hierdie betekenis. Dit word egter baie keer eerder met die woord volharding vertaal (Hebr 12:1; Rom 12:12; 1 Tess 1:3). So ook die woord kartereō (Hebr 11:27). Dié twee woorde beskryf veral die geduld waarmee in moeilike omstandighede volhard word. Daarom sluit ek dit in by die betekenis van lankmoedigheid.

William Barclay verduidelik lankmoedigheid met die beeld van ‘n man wat staande bly met sy gesig in die wind.

‘n Geduldige mens is dus ook iemand wat nie van stryk gebring word nie. Wat oor die langtermyn moed hou. Wat die toets deurstaan as dinge moeilik raak.

Die OT figuur wat hierdie kant van geduld waarskynlik die beste wys, is Job. Jakobus verwys daarom na Job as iemand wat uitgeblink het in hierdie tipe geduld. Hy was lankmoedig, geduldig met sy omstandighede, sonder om sy geloof in God te verloor, tot aan die einde toe. Dit is vanwaar ons idioom kom, om Jobsgeduld te hê (Jak 5:11).

Dit is die eerste betekenis van geduld. Lankmoedigheid. Om lank moed te hou.

2. VERDRAAGSAAMHEID: Die NT gebruik agt Griekse woorde om die betekenis van verdraagsaamheid uit te druk wat die belangrikheid van hierdie kant van geduld beklemtoon. Die woorde anexikakos, anechomai, anochē, anektos, tropophoreō, stegō, pherō, en bastazō word gebruik.

Dit is dus ‘n baie belangrike deel van geduld. En ‘n mens kan drie breë betekenisse onderskei in die wyse waarop hierdie verdraagsaamheid beoefen word.

2.1 Geduld is die vermoë om kwaad of onreg te verdra, sonder om ontsteld of woedend te raak, sonder om aanstoot te neem (anexikakos). Dit is iets wat veral in die gemeenskap ten toon gestel moet word. Leiers en leraars: “moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.” (2 Tim 2:24).

2.2 Geduld is om verdraagsaam te bly al is die uitdagings van die bediening ook hoe groot, soos Paulus die uitdagings van die bediening geduldig verdra (stegō in 1 Kor 9:12) en God die voorwerpe van sy toorn verdra het, omdat Hy sy belofte aan hulle wou nakom om hulle in die beloofde land te bring (pherō in Rom 9:22). Trouens, God het dit by uitstek in die woestyn geïllustreer deur met die volk geduldig te wees (tropophoreō in Hand 13:18 en bastazō in Hand 15:10).

2.3 Geduld is die vermoë om mekaar in die geloofsgemeenskap te verdra in liefde,sonder om mekaar af te kraak, selfs al verskil ons ook hoe baie (anechomai en anochē). Só skryf Paulus daaroor in sy brief aan die Efesiërs dat hulle mekaar in liefde sal verdra (Ef 4:2). Want dit is hoe God teenoor ons is (Rom 2:4).

[1]Vergelyk Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains, 1, p.306.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…