Skip to main content

Etiek word in die heiligheid van God gefundeer

Die persoonlike etiek van beide die OT as die NT is in die heiligheid van God gefundeer. Soos Jesus in die Bergrede sê nadat Hy ses dele van die wet uitgelê het: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48). Die woord “volmaak” is die vertaling van die Griekse teleios, die ekwivalent van die Hebreeuse tāmîm wat op etiese perfeksie dui.

God verafsku vuilheid en veral onsedelike vuilheid. Daarom moet die sondige leefwyse waarin ons geleef het as sondaars soos vuil klere uitgetrek word en die nuwe natuur met sy heilige en rein dade aangetrek word soos nuwe wit klere (Ef 4:22-25).

Dit kom ooreen met die Israeliete wat in Levitikus gereinig word van die waardes van samelewing waaruit hulle verlos is – Egipte – sowel as gereedgemaak word vir die samelewing waarheen hulle op pad is – Kanaän – wie se moreel-etiese en godsdienstige waardes hulle moes teenstaan en moes leer om volgens die bevele van God te leef.

Die Verlosser uit Egipte het die reg verdien om die gedragskode te bepaal waarvolgens hulle moes leef. “Wees heilig, want Ek is heilig.

Die Verlosser in die NT, Jesus, het dieselfde reg. Hy bid daarom dat God sy dissipels sal heilig in die waarheid van die Woord (Joh 17:17). Want van die grondlegging van die aarde af het God ons in Hom uitverkies om heilig en sonder gebrek in liefde voor Hom te wees (Ef 1:4).

Heiligheid word in terme van God se teenwoordigheid gedefinieer

Heiligheid het aan die een kant in die OT die betekenis gehad van afgesonder of gewyd teenoor algemeen of gewoon (ongewyd). Hoe nader jy aan die Here – die volmaakte Heilige – gekom het, hoe groter was die voorskrifte vir jou afsondering of heiliging aan Hom.

Dit het alles gegeld. ‘n Dier was bv. gewoon of ongewyd as dit deel van jou kudde was. Dieselfde dier was egter geheilig as dit afgesonder of gewyd is as ‘n offer. Dieselfde geld enige offergawe wat by die Tabernakel aan die Here geoffer is sowel as enige mens wat aan die diens van die Here toegewy is. Hulle was heilig of gewyd in terme van hulle nabyheid aan of gebruik in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel, die Here God.

Hartley dink daarom aan heiligheid as konsentriese sirkels vanaf die Allerheiligste deel van die Tabernakel wat uitkring van volmaak heilig na volledig onheilig: Allerheiligste, Heiligste, Voorhof, kamp, buite die kamp, in die wildernis van die woestyn. Heiligheid is dus gedefinieer in terme van die nabyheid of afstand van die Heilige, Jahwe (Leviticus: Word).

Alle Israeliete was dus al reeds heilig, want hulle was deel van die uitverkore volk van God. Die priesters was egter meer heilig, want hulle het diens gedoen in die Tabernakel. Die voorskrifte vir hulle lewe en bediening was dus strenger as dié van die ander lede van die volk. Die Hoëpriester was nog meer heilig, want hy het die voorreg gehad om een keer ‘n jaar in die Allerheiligste deel van die Tabernakel in te gaan op die Groot Versoeningsdag. Hy het die heel strengste voorskrifte vir sy lewe en bediening gehad.

Reinheid word in terme van lewe en dood gedefinieer 

Aan die ander kant was hierdie onderskeid ook die basis vir die onderskeid tussen rein óf onrein dinge. Iets wat rein was, was iets wat in die breë aan sy normale funksie of riglyne voldoen het, ‘n staat van heelheid en volmaaktheid, sonder gebreke of siektes. Dit was egter nie noodwendig heilig nie. Dit kon eers gebeur wanneer dit aan die Here gewy of geoffer is, d.w.s nader in sy teenwoordigheid gebring is.

Iets wat onrein was daarenteen, was iets wat in die breë abnormaal, gebroke of onvolmaak geword het deur siekte, misbruik of sonde. Rein en onrein was daarom ‘n polariteit van normaal of abnormaal, heel of gebroke, volmaak of onvolmaak, in orde of buite orde, hetsy deur intrinsieke eienskappe (bv. velsiektes) of ekstrinsieke eienskappe (bv. deur God se bevel).

Herkouende diere met gesplete hoewe was bv. rein en mag geëet word. Diere wat óf nie herkou nie, óf nie gesplete hoewe het nie, óf kruipende diere is, was onrein en mag nie geëet word nie. Dieselfde geld visse met skubbe en vinne. Hulle was rein. Visse sonder skubbe of vinne was onrein (Lev. 11). En hoewel ‘n mens allerhande kreatiewe interpretasies kan probeer gee van die intrinsieke redes waarom dít die geval was – higiëniese redes bv. – het die motivering doodgewoon gelê in God se bevel, d.w.s. ekstrinsiek aan die diere of die mense.

Dit is waarskynlik ook waarom hierdie reëls rondom rein en onrein kos in die NT opgehef kon word, omdat God dit beveel het (Mark. 7:19).

Daarom kon ‘n lam met ‘n gebreekte been nie aan die Here gewy word nie, sowel as iemand wat aan een of ander gebrek gely het nie. Hulle was onrein. Hulle was nog steeds aanvaarbaar as gewone of algemene goed/mense, maar nie in die spesiale funksie om aan die Here gewy te word nie. Soos Hartley dit stel: “The clean, i.e., the pure, the whole, the just, coincided with the holy while that which was unclean corresponded to that which was imperfect, confused, and false.”(Leviticus: Word).

Hartley stel voor dat in baie gevalle ‘n mens oor rein en onrein ook kan dink as ‘n polariteit van lewe of dood (Leviticus: Word). Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein. Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein. Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak. Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek. Onthou hulle het naby mekaar in tente hier gebly. Siektes was ‘n gemeenskapsuitdaging! Wanneer daar egter genesing ingetree het óf jy deur ‘n proses van reiniging gegaan het, is jy weer rein verklaar.

Die strewe na heelheid en volmaaktheid

Dit verklaar ook hoekom die strawwe wat aan sekere onheilige en onrein dinge en dade gekoppel is so onbuigsaam en brutaal was. Onheiligheid en onreinheid het die dood in die spel gebring in die lewe van die geloofsgemeenskap. Daarteenoor het die hele sisteem van offers en rituele juis voorsiening gemaak vir die herstel van heiligheid en reinheid sodat die lewe in God se teenwoordigheid moontlik kon word.

Só kon elke Israeliet streef na ‘n staat van heelheid en volmaaktheid deur die voorskrifte wat die Here in Levitikus neergelê het rondom die gedragskode by die tabernakel en by hulle eie tente. Die offers het die verhoudings tussen God en mens herstel deur vergifnis en genade op grond van die bloed wat namens en in hulle plek gestort is. Die basis vir dié versoening het gelê in die lewe wat God deur die bloed in elke lewende wese geplaas het: “Omdat die lewe van ’n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens.” (Lev. 17:11).

Dit was dan ook die rede waarom die bloed van diere vir geen ander doel gebruik is nie, ook nie in hulle dieet nie: “Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is, beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie.” (Lev. 17:11-12). Selfs die NT gelowiges het dié riglyn vir die nuwe lewe in Christus as blywend aanvaar (Hand. 15). Die versoening in Levitikus het ook restitusie bv. deur skadevergoeding ingesluit wanneer dit verhoudings tussen mense is wat herstel moes word (Lev. 19:20).

Ons word tot volmaaktheid geroep

Hierdie strewe na volmaaktheid in dissipelskap is ook ‘n fundamentele deel van die Here Jesus se riglyne vir die lewe in die Bergrede waarin Hy absolute klem lê op die innerlike en uiterlike geregtigheid wat in terme van gedagtes en gedrag deel van gelowiges se lewe moet word: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48). En Jesus gebruik heel spesifiek die uitsprake in die wet van Eksodus 19-24 sowel as Levitikus en Deuteronomium om hierdie volmaaktheid te illustreer in Matt. 5:17-48 in terme van sy riglyne rondom moord (Eks. 20:6), owerspel (Eks. 20:14), egskeiding (Deut. 24:1), eedswering (Lev. 19:12), vergelding (Lev. 24:20), en vyande (Lev. 19:18).

Nie dat die samelewing ooit hierdie waardes sal aanvaar nie. En nou blyk dit dat gelowiges ook nie meer aan God se ideaal vir die lewe wil vasgryp nie. Vuilheid is ‘n metafoor wat regdeur die Bybel geassosieer word met die dood en die afwesigheid van God. Dit is doodgewoon lasterlik om God met vuilheid te assosieer, soos van ons teoloë begin doen.

Maar, soos Johannes in sy Openbaring sê. Ons maak keuses en die keuses het gevolge: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” (Openb 21:11).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.