Etiek word in die heiligheid van God gefundeer
Die persoonlike etiek van beide die OT as die NT is in die heiligheid van God gefundeer. Soos Jesus in die Bergrede sê nadat Hy ses dele van die wet uitgelê het: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48). Die woord “volmaak” is die vertaling van die Griekse teleios, die ekwivalent van die Hebreeuse tāmîm wat op etiese perfeksie dui.
God verafsku vuilheid en veral onsedelike vuilheid. Daarom moet die sondige leefwyse waarin ons geleef het as sondaars soos vuil klere uitgetrek word en die nuwe natuur met sy heilige en rein dade aangetrek word soos nuwe wit klere (Ef 4:22-25).
Dit kom ooreen met die Israeliete wat in Levitikus gereinig word van die waardes van samelewing waaruit hulle verlos is – Egipte – sowel as gereedgemaak word vir die samelewing waarheen hulle op pad is – Kanaän – wie se moreel-etiese en godsdienstige waardes hulle moes teenstaan en moes leer om volgens die bevele van God te leef.
Die Verlosser uit Egipte het die reg verdien om die gedragskode te bepaal waarvolgens hulle moes leef. “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Die Verlosser in die NT, Jesus, het dieselfde reg. Hy bid daarom dat God sy dissipels sal heilig in die waarheid van die Woord (Joh 17:17). Want van die grondlegging van die aarde af het God ons in Hom uitverkies om heilig en sonder gebrek in liefde voor Hom te wees (Ef 1:4).
Heiligheid word in terme van God se teenwoordigheid gedefinieer
Heiligheid het aan die een kant in die OT die betekenis gehad van afgesonder of gewyd teenoor algemeen of gewoon (ongewyd). Hoe nader jy aan die Here – die volmaakte Heilige – gekom het, hoe groter was die voorskrifte vir jou afsondering of heiliging aan Hom.
Dit het alles gegeld. ‘n Dier was bv. gewoon of ongewyd as dit deel van jou kudde was. Dieselfde dier was egter geheilig as dit afgesonder of gewyd is as ‘n offer. Dieselfde geld enige offergawe wat by die Tabernakel aan die Here geoffer is sowel as enige mens wat aan die diens van die Here toegewy is. Hulle was heilig of gewyd in terme van hulle nabyheid aan of gebruik in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel, die Here God.
Hartley dink daarom aan heiligheid as konsentriese sirkels vanaf die Allerheiligste deel van die Tabernakel wat uitkring van volmaak heilig na volledig onheilig: Allerheiligste, Heiligste, Voorhof, kamp, buite die kamp, in die wildernis van die woestyn. Heiligheid is dus gedefinieer in terme van die nabyheid of afstand van die Heilige, Jahwe (Leviticus: Word).
Alle Israeliete was dus al reeds heilig, want hulle was deel van die uitverkore volk van God. Die priesters was egter meer heilig, want hulle het diens gedoen in die Tabernakel. Die voorskrifte vir hulle lewe en bediening was dus strenger as dié van die ander lede van die volk. Die Hoëpriester was nog meer heilig, want hy het die voorreg gehad om een keer ‘n jaar in die Allerheiligste deel van die Tabernakel in te gaan op die Groot Versoeningsdag. Hy het die heel strengste voorskrifte vir sy lewe en bediening gehad.
Reinheid word in terme van lewe en dood gedefinieer
Aan die ander kant was hierdie onderskeid ook die basis vir die onderskeid tussen rein óf onrein dinge. Iets wat rein was, was iets wat in die breë aan sy normale funksie of riglyne voldoen het, ‘n staat van heelheid en volmaaktheid, sonder gebreke of siektes. Dit was egter nie noodwendig heilig nie. Dit kon eers gebeur wanneer dit aan die Here gewy of geoffer is, d.w.s nader in sy teenwoordigheid gebring is.
Iets wat onrein was daarenteen, was iets wat in die breë abnormaal, gebroke of onvolmaak geword het deur siekte, misbruik of sonde. Rein en onrein was daarom ‘n polariteit van normaal of abnormaal, heel of gebroke, volmaak of onvolmaak, in orde of buite orde, hetsy deur intrinsieke eienskappe (bv. velsiektes) of ekstrinsieke eienskappe (bv. deur God se bevel).
Herkouende diere met gesplete hoewe was bv. rein en mag geëet word. Diere wat óf nie herkou nie, óf nie gesplete hoewe het nie, óf kruipende diere is, was onrein en mag nie geëet word nie. Dieselfde geld visse met skubbe en vinne. Hulle was rein. Visse sonder skubbe of vinne was onrein (Lev. 11). En hoewel ‘n mens allerhande kreatiewe interpretasies kan probeer gee van die intrinsieke redes waarom dít die geval was – higiëniese redes bv. – het die motivering doodgewoon gelê in God se bevel, d.w.s. ekstrinsiek aan die diere of die mense.
Dit is waarskynlik ook waarom hierdie reëls rondom rein en onrein kos in die NT opgehef kon word, omdat God dit beveel het (Mark. 7:19).
Daarom kon ‘n lam met ‘n gebreekte been nie aan die Here gewy word nie, sowel as iemand wat aan een of ander gebrek gely het nie. Hulle was onrein. Hulle was nog steeds aanvaarbaar as gewone of algemene goed/mense, maar nie in die spesiale funksie om aan die Here gewy te word nie. Soos Hartley dit stel: “The clean, i.e., the pure, the whole, the just, coincided with the holy while that which was unclean corresponded to that which was imperfect, confused, and false.”(Leviticus: Word).
Hartley stel voor dat in baie gevalle ‘n mens oor rein en onrein ook kan dink as ‘n polariteit van lewe of dood (Leviticus: Word). Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein. Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein. Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak. Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek. Onthou hulle het naby mekaar in tente hier gebly. Siektes was ‘n gemeenskapsuitdaging! Wanneer daar egter genesing ingetree het óf jy deur ‘n proses van reiniging gegaan het, is jy weer rein verklaar.
Die strewe na heelheid en volmaaktheid
Dit verklaar ook hoekom die strawwe wat aan sekere onheilige en onrein dinge en dade gekoppel is so onbuigsaam en brutaal was. Onheiligheid en onreinheid het die dood in die spel gebring in die lewe van die geloofsgemeenskap. Daarteenoor het die hele sisteem van offers en rituele juis voorsiening gemaak vir die herstel van heiligheid en reinheid sodat die lewe in God se teenwoordigheid moontlik kon word.
Só kon elke Israeliet streef na ‘n staat van heelheid en volmaaktheid deur die voorskrifte wat die Here in Levitikus neergelê het rondom die gedragskode by die tabernakel en by hulle eie tente. Die offers het die verhoudings tussen God en mens herstel deur vergifnis en genade op grond van die bloed wat namens en in hulle plek gestort is. Die basis vir dié versoening het gelê in die lewe wat God deur die bloed in elke lewende wese geplaas het: “Omdat die lewe van ’n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens.” (Lev. 17:11).
Dit was dan ook die rede waarom die bloed van diere vir geen ander doel gebruik is nie, ook nie in hulle dieet nie: “Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is, beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie.” (Lev. 17:11-12). Selfs die NT gelowiges het dié riglyn vir die nuwe lewe in Christus as blywend aanvaar (Hand. 15). Die versoening in Levitikus het ook restitusie bv. deur skadevergoeding ingesluit wanneer dit verhoudings tussen mense is wat herstel moes word (Lev. 19:20).
Ons word tot volmaaktheid geroep
Hierdie strewe na volmaaktheid in dissipelskap is ook ‘n fundamentele deel van die Here Jesus se riglyne vir die lewe in die Bergrede waarin Hy absolute klem lê op die innerlike en uiterlike geregtigheid wat in terme van gedagtes en gedrag deel van gelowiges se lewe moet word: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48). En Jesus gebruik heel spesifiek die uitsprake in die wet van Eksodus 19-24 sowel as Levitikus en Deuteronomium om hierdie volmaaktheid te illustreer in Matt. 5:17-48 in terme van sy riglyne rondom moord (Eks. 20:6), owerspel (Eks. 20:14), egskeiding (Deut. 24:1), eedswering (Lev. 19:12), vergelding (Lev. 24:20), en vyande (Lev. 19:18).
Nie dat die samelewing ooit hierdie waardes sal aanvaar nie. En nou blyk dit dat gelowiges ook nie meer aan God se ideaal vir die lewe wil vasgryp nie. Vuilheid is ‘n metafoor wat regdeur die Bybel geassosieer word met die dood en die afwesigheid van God. Dit is doodgewoon lasterlik om God met vuilheid te assosieer, soos van ons teoloë begin doen.
Maar, soos Johannes in sy Openbaring sê. Ons maak keuses en die keuses het gevolge: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” (Openb 21:11).
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jan Louw
Ek waardeer jou insigte Chris. Die krag van jou boodskap lê vir my in die “bevel van God”.
Ek ervaar by die liberale teologie dat die mense sê: “In daardie tyd het die mense geglo”. Dit word dan die vertrekpunt vir die hermeneutiek.
Daar is is vir my groot krag in die woorde: Wees heilig want Ek is heilig (1 Petr 1:16).
Dankie vir jou werk. Mag die Here jou seen.
Jan Louw