Skip to main content

Sluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aan

Vanaf 24 September is daar ‘n landwye gebedsinisiatief — 49 dae waarin gelowiges saam bid vir leiers regoor Suid-Afrika, gebaseer op ‘n gedeelde daaglikse fokus wat gewortel is in Sagaria 10. Elke dag bring ‘n kort Skrifgedeelte en gebedsvoorstel, en jy sal elke oggend en aand inteken soos jy bid, sodat jou stad sy eie gebedsmomentum kan sien groei saam met ander regoor die land.

Wat dit behels:

  • Registreer met net jou naam en stad — geen wagwoord nodig nie – https://49-day-prayer-challenge.onhercules.app/
  • ‘n Paar minute elke oggend en aand om die dag se voorstel te lees en aan te dui dat jy gebid het
  • Deel wees van iets groter — jou gebede tel by jou stad se totaal, sodat jy saam met ‘n hele gemeenskap bid, nie alleen nie

Hoe jy kan help om die woord te versprei:

  • Nooi ‘n paar mense in jou eie kring — familie, vriende, jou kerk of werkplek — om aan te sluit en te registreer
  • Deel dit in jou WhatsApp-groepe of op Facebook wanneer dit begin
  • Moedig jou stad of dorp aan om dit te ondersteun, sodat elke area verteenwoordig word

Sal jy gewillig wees om aan te sluit, en ‘n paar ander mense ook hiervan te laat weet?

Hansie Louw

Op watter dae het die kruisiging en opstanding plaasgevind?

Markus noem die dag van die kruisiging die “voorbereidingsdag” – dws die dag waarop voorbereidings vir die sabbat getref is, sodat dit as ‘n rusdag kan dien – en beskryf dit dus as die dag voor die sabbat, dws die sewende dag van daardie week (Mark 15:42). Hy beskryf die dag van die opstanding as die oggend ná die sabbat, die eerste dag van die volgende week (Mark 16:1-2).

Volgens Markus was die kruisiging dus op die Vrydag en die opstanding op die Sondag, dws enige tyd ná die vorige aand 18:00, want die Sondag het al die vorige aand begin volgens die Joodse beskouing.

Matteus doen dieselfde, maar op ‘n ander manier. Hy noem die “volgende dag” ná die kruisiging die dag “ná die voorbereidingsdag” (Matt 27:62). Dit is die dag waarop die leierpriesters en Fariseërs Pilatus gevra het om die graf te verseël. Hy praat dus van die volgende dag as die dag van die sabbat, dws die Saterdag, want Matteus sê net daarna, “ná die sabbat”, toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, dws die Sondag, het Maria-hulle die graf leeg gevind (Matt 28:1).

Volgens Matteus het die kruising dus ook op die Vrydag plaasgevind en die opstanding op die Sondag (enige tyd sedert Saterdagaand volgens Joodse beskouing).

Lukas is net so helder soos Markus en Matteus daaroor dat die kruisiging plaasvind op die “voorbereidingsdag” net voor die sabbat sou aanbreek die Vrydagaand (Luk 23:54). Die vroue het op die sabbat gerus (Luk 23:56) en baie vroeg die môre, op die eerste dag van die week, dws die Sondag, by die graf gekom en dit leeg gevind (Luk 24:1-2).

Volgens Lukas het die kruisiging dus ook op die Vrydag plaasgevind en die opstanding op die Sondag, tegnies enige tyd sedert 18:00 die vorige aand.

Johannes vertel dit ook soos die ander evangelies dit vertel, maar met ekstra inligting. Om die waarheid te sê, hy vertel dit vanuit drie hoeke.

Pilatus gee in ‘n eerste rondte die opdrag vir die kruisiging op die voorbereidingsdag vir die pasga (Joh 19:14).

Ná die kruisiging kom die Jode in ‘n tweede rondte na Pilatus, steeds op die “voorbereidingsdag”, en vra dat die liggame verwyder word voor die sabbat wat daardie aand sou begin. Johannes gee ‘n kantaantekening dat hierdie sabbat ‘n “groot dag” genoem is. En hier raak dit duidelik dat die voorbereiding baie besonders was, want dit was vir die pasga sowel as vir die sabbat (Joh 19:31). Hierdie voorbereidingsdag word dus uitgespel as ‘n dag wat nie net op die pasga betrekking het nie, maar ook op die sabbat. Die voorbereiding vir die pasga en die voorbereiding vir die sabbat was dus op dieselfde dag.

In ‘n derde rondte kom Josef van Arimatea en Nikodemus na Pilatus en vra dat hulle Jesus kan begrawe, omdat dit die “voorbereidingsdag” was en die sabbat binnekort sou aanbreek die aand 18:00 (Joh 19:42). Johannes vervolg die verhaal deur letterlik direk daarna in die volgende vers te vertel dat Maria Magdalena op die eerste dag van die week, dws die Sondag, by ‘n leë graf aangekom het (Joh 20:1). Weereens, die opstanding moes dus êrens op die Sondag gebeur het vóór dagbreek, want die Sondag het al die vorige aand begin volgens die Joodse beskouing.

Volgens Johannes het die kruisiging dus ook plaasgevind op die Vrydag en die opstanding die Sondag, weereens, met die Joodse beskouing in ag geneem dat dit enige tyd sedert 18:00 die Saterdagaand kon gebeur het.

Die kruisiging het dus volgens Bybelse getuienis plaasgevind op die Vrydagmôre. Die opstanding het plaasgevind op die Sondag, vóór dagbreek.

Onlangse kommentaar