Skip to main content

WEEK 3: 1 Samuel 16 – die Here kyk na die innerlike

Drie dinge val my op in die gedeelte:

  1. Dat die verandering van koningskap met die Gees te make het.  Met die salwing van Dawid is dit die Gees wat van die dag af  kragtig in hom werk, en juis die Gees wat Saul verlaat en deur ‘n bose gees vervang word, interessant genoeg ook deur die Here gestuur; Alles hang van die Here af.
  2. Dat Dawid se verkiesing eers lank hierna tot sy werklike koningskap lei, waar hy erken word deur die hele volk; dis iets soortgelyks as wat met Samuel gebeur het, sy roeping kom eers 20 jaar na die ark geroof is tot volle ontplooiing.  Verandering neem soms lank, maar daarop moet met geduld en gehoorsaamheid gewag word, totdat die Here dit laat gebeur.
  3. Mense kyk na uiterlike dinge: voorkoms, lengte, dapperheid, welsprekendheid (let op hoe selfs Dawid beskryf word in vers 18) – God kyk na die innerlike.  Selfs Samuel het nodig dat die Here hom begelei om die verskil te kan raaksien om daarvolgens op te tree.  Die Here se keuses moet die deurslag gee, en nie ons eie insigte nie.

1 Samuel 17-18 – van skaapwagter tot soldaat

Dit lyk of daar twee tradisies oor Dawid sigbaar is in hoofstuk 16 tot 18, soos ons dit hier in die oorspronklike Hebreeuse teks het.  Volgens die een tradisie het Saul reeds vir Dawid geken voor die geveg met Goliat, en volgens die ander het hy hom eers in die geveg leer ken.

Die Griekse vertaling (LXX of Septuagint) vertel die verhaal sonder 17:21-31, 41, 50 en 17:55-18:5 wat dus net met een tradisie werk, dat Saul reeds vir Dawid geken het.  Daar moes dus twee Hebreeuse tekste gewees het, die een langer, waarin die twee tradisies vervleg is, en die ander korter waarin net die een vertel is.

Om die langer teks te verstaan, kan ‘n mens uit 17:15 aflei dat Dawid om die beurt na Saul toe gegaan het en dan weer die kleinvee opgepas het.  Dit verklaar Saul se vraag aan Abner oor Dawid se afkoms in 17:55, omdat hy hom net as musikant geken het, en nou wil weet wat dan so besonders is aan sy familie dat hy so ‘n heldedaad kon verrig.

Dit wil ook voorkom of daar twee tradisies is oor wie Goliat doodgemaak het.  Hoofstuk 17 sê Dawid, maar 2 Sam 21:19 sê dat Elganan vir Goliat doodgemaak het.  1 Kron 20:5 kan moontlik die oplossing gee, wat sê dat Elganan Goliat se broer doodgemaak het.  Maar soos dit nou staan in die Bybel, lyk dit of daar twee tradisies is.

Dawid se geheim lê in sy onwrikbare geloof in ‘n lewende Here wat hom gered het uit die kloue van die leeu en die beer, en dit ook sal doen in die geveg met Goliat.  Let op hoe hy ook praat van “die Here die Almagtige” soos Hanna in haar gebed die eerste keer in die Bybel gebruik het.

Dawid leer ons dat die oorlog aan die Here behoort en dat die oorwinning nie deur swaard of spies kom nie.

Jonatan en die volk se liefde vir Dawid staan in skerp kontras met die wantroue van Saul.  Saul het bang geword vir Dawid: “omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat.”  Daarom het hy allerlei planne beraam om Dawid uit die weg te ruim.  “Saul was vir goed vyandig teenoor hom.”

1 Samuel 19 – die Gees maak Saul kragteloos

Ironies dat die Gees van die Here nou oor Saul kom om hom kragteloos te maak, terwyl die Gees in hoofstuk 10 met sy salwing as koning juis kragtig in hom begin werk het.

Saul illustreer hier die tragiese eienskappe van iemand wat wispelturig en gevaarlik geraak het.  Hy tree op soos iemand wie se gees gefolterd (tormented) geraak het.  Dan is Dawid goed, en dan weer nie.  Let op hoe lede van Saul se eie gesin, Jonatan en Mikal, tot Dawid se redding kom, hoewel Saul ook later teen hulle draai.  Mikal sou dit kort hierna ontgeld deur aan ‘n ander man gegee te word, wat sy eie tragiese geskiedenis tot gevolg sou hê.  En Jonatan sou self Saul se woede moes verduur.

Die ligpunt in die verhaal is dat die Here Dawid beskerm deur sy Gees en deur mense wat vir Dawid omgee.  Dit beteken nie dat Dawid dit hiervandaan maklik sou hê nie.  Sy pad na die koningskap sou deur baie ontberinge lei.  Maar terwyl hy die pad met God loop, gee die Here wysheid en uitkoms.

En dit inspireer en bemoedig my vir die pad wat ek self in hierdie lewe moet loop, al kos dit my ook ontberinge.

1 Samuel 20-21 – Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was

Dit tref my in hoeveel detail hierdie laaste pleitdooi vir Dawid se lewe voor Saul vertel word.  En hoe ingewikkeld die kommunikasie tussen Jonatan en Dawid beplan word – die “wit”-leuen oor Dawid se leë plek by die fees en die beplanning rondom die skiet van die pyle.  Dit alles loop uit op ‘n finale breuk tussen Saul en Dawid, waarin Jonatan deur Saul verkwalik word as ‘n rebelse ellendeling vir sy verkiesing van Dawid.

Saul is natuurlik reg oor Jonatan, want hy hét gekies vir Dawid, nie net weens sy liefde vir hom nie, maar ook vanweë sy erkenning van God se keuse.  Hoe roerend sê hy nie:

“Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was.”

‘n Tydperk van uiterste gevaar breek vir Dawid aan.  Hy is ‘n uitgeworpene in die koningshuis, sonder sy wapens en kos, en op hierdie stadium sonder enige manskappe.  En Doëg, een van Saul se manne, hou Dawid dop, as hy in Nob aankom.

Dan gebeur twee betekenisvolle goed, hy kry die swaard van Goliat en gewyde brood by die priester Agimelek.  En net hierna sou manskappe by hom aansluit, selfs sy broers.  Hy word hiermee dus toegerus vir die stryd wat kom.  Die Here is dus by hom, terwyl hy in gevaar verkeer.

1 Samuel 22-23 – Jonatan bemoedig Dawid in sy vertroue op God

Dit is tragies dat Agimelek se goeie daad aan Dawid tot die uitwissing van sy mense lei.  Net Abjatar kom vry.  Ons moet egter onthou dat daar agter die skerms ‘n ander Een aan die werk is.  Die oordeel oor Eli se nageslag word  hiermee voltrek.

Abjatar self sou ‘n getroue priester in Dawid se diens bly, totdat hy die verkeerde seun, Adonia, as Dawid se opvolger sou ondersteun (1 Kon 1:7) en deur Salomo van sy priesterskap onthef word (1 Kon 2:27).  Die priesterlike voorregte van Eli se nageslag gaan van dié punt af oor op die Sadokiete.

Let op hoe Dawid deur die Here gelei word om steeds teen die grootste Israeliese bedreiging, die Filistyne, op te tree, al is hy ‘n vlugteling.  En soos Dawid telkens die Here bly raadpleeg, red die Here hom telkens uit gevaar.  Selfs Jonatan kom hom besoek om hom te bemoedig in sy vertroue op God.  Die gebeure by die Skeidingsrant is ‘n treffende illustrasie van God se beskerming.  Dit laat my dink aan Psalm 23: “Hy lei my op die regte paaie … Selfs al gaan ek deur donker dieptes …”

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.