GALASIËRS 6 – Ons dra mekaar se laste – Soli Deo Gloria
Daar word vandag baie geskryf oor die liefde en dat die liefde die sleutel tot die Christelike lewe is. Só ook in die afgelope Kerkbode. Heel gepas sê Neels Jackson dat hierdie liefde “nie ’n wettiese soort gehoorsaamheid” is nie, soos ons dit ook in Galasiërs 2 tot 5 gehoor het. Neels haal ‘n hele paar verse aan uit Galasiërs 5 in sy redaksionele kommentaar: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” En: “Al wat van belang is, is die geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.” Liefde word dus verstaan as ‘n dienende ondersteunende gesindheid wat die belange van ander op die hart dra.
En dit is reg so.
Die liefde word in die konteks van die sonde uitgeleef
Maar waaroor daar nie genoeg geskrywe, gedink en gepraat word nie, is die konteks waarbinne dié liefde uitgeleef moet word. Die konteks in Galasiërs 5 en 6 is die konteks van die sonde. Paulus skryf oor die stryd tussen die Gees en die vlees, die stryd tussen die vrug van die Gees en die sondige praktyke van die vlees.
En die liefde waartoe ons opgeroep word, is om juis in die konteks van die sonde wat só maklik op ‘n persoonlike, gemeentelike en sosiale vlak hand uit ruk: “deur die liefde tot dade” oor te gaan. Ons moet genoeg omgee om mekaar se laste te dra, en dan praat Paulus nie van die las van een of ander behoefte nie, maar baie spesifiek die las wat die sonde op ons plaas, soos hy in Galasiërs 6 baie pertinent gaan skryf.
Ons Westerse samelewing het tot ‘n groot mate die Franse Revolusie se slagspreuk van die laat 18de eeu omarm: Liberté, Égalité, Fraternité – vryheid, gelykheid en broederskap. Broederskap natuurlik bedoel in die sin van menswees, nie geslagtelik nie. Hierdie gedagtes was ‘n natuurlike uitvloeisel van die Verligting van die 17de-18de eeu met sy klem op die rede en die wetenskap. Wat die Franse Revolusie egter skerp in die kollig gebring het, was die fokus op die bevryding van die individu van die gesag wat sisteme en waardestelsels op hulle uitgeoefen het, in die kerk sowel as in die staat.
Een van die groot ontdekkings van die Reformasie was om die Bybel boek vir boek te lees. Die gebruik in die Middeleeue was om met ‘n teks of ‘n gedeelte daarvan te werk. Dit is waarom ons op die hele brief aan die Galasiërs fokus en nie net ‘n gedeelte of ‘n teks uitlig en met dít as tema die boodskap bring nie. Daar is natuurlik niks fout met ‘n tematiese boodskap nie. Dit is verseker makliker om te verteer! Maar, dan mis ‘n mens die diepgang van die Skrif, die fyn nuanses van die diep denke wat die Here deur sy Woord in ons wil stimuleer.
Paulus gaan verder om sy evangelie te verduidelik, ‘n evangelie wat gebaseer is op Christus, en op Hom alleen, ‘n helder verkondiging van die fundamentele beginsel Solus Christus (alleen Christus).
Onlangse kommentaar