Skip to main content

Tag: Blancogemeente

GALASIËRS 6 – Ons dra mekaar se laste – Soli Deo Gloria

Daar word vandag baie geskryf oor die liefde en dat die liefde die sleutel tot die Christelike lewe is.  Só ook in die afgelope Kerkbode.  Heel gepas sê Neels Jackson dat hierdie liefde “nie ’n wettiese soort gehoorsaamheid” is nie, soos ons dit ook in Galasiërs 2 tot 5 gehoor het.  Neels haal ‘n hele paar verse aan uit Galasiërs 5 in sy redaksionele kommentaar: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”  En: “Al wat van belang is, is die geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”  Liefde word dus verstaan as ‘n dienende ondersteunende gesindheid wat die belange van ander op die hart dra.

En dit is reg so.

Die liefde word in die konteks van die sonde uitgeleef

Maar waaroor daar nie genoeg geskrywe, gedink en gepraat word nie, is die konteks waarbinne dié liefde uitgeleef moet word.  Die konteks in Galasiërs 5 en 6 is die konteks van die sonde.  Paulus skryf oor die stryd tussen die Gees en die vlees, die stryd tussen die vrug van die Gees en die sondige praktyke van die vlees.

En die liefde waartoe ons opgeroep word, is om juis in die konteks van die sonde wat só maklik op ‘n persoonlike, gemeentelike en sosiale vlak hand uit ruk: “deur die liefde tot dade” oor te gaan.  Ons moet genoeg omgee om mekaar se laste te dra, en dan praat Paulus nie van die las van een of ander behoefte nie, maar baie spesifiek die las wat die sonde op ons plaas, soos hy in Galasiërs 6 baie pertinent gaan skryf.

Continue reading

GALASIËRS 5 – Ons leef deur die Gees – Sola Gratia

Ons Westerse samelewing het tot ‘n groot mate die Franse Revolusie se slagspreuk van die laat 18de eeu omarm: Liberté, Égalité, Fraternitévryheid, gelykheid en broederskap.  Broederskap natuurlik bedoel in die sin van menswees, nie geslagtelik nie.  Hierdie gedagtes was ‘n natuurlike uitvloeisel van die Verligting van die 17de-18de eeu met sy klem op die rede en die wetenskap.  Wat die Franse Revolusie egter skerp in die kollig gebring het, was die fokus op die bevryding van die individu van die gesag wat sisteme en waardestelsels op hulle uitgeoefen het, in die kerk sowel as in die staat.

Die effek op die kerk was natuurlik enorm.  Want, die vryheid waarvan die Franse Revolusie gepraat het, was nie die vryheid wat in Christus beskikbaar was nie, maar was afgestem op die vryheid van die individu.  Die mens se begeertes en behoeftes het in die sentrum kom staan.  En vryheid het beteken dat jy kan kies hoe om te leef.

  • Jy kon bepaal wat belangrik was vir jou.
  • Jy kon die waardes kies waarvolgens jy leef.
  • En niemand kon met jou daaroor stry nie.
  • Almal moes verdraagsaam wees, al het dié vryheid in konflik gekom met die waardes wat deur die eeue deur die Skrif en die belydenis beklemtoon is.
  • Want vryheid het die vryheid van die individu beteken.

Nou, dit is nie die vryheid waarvan Paulus in sy brief aan die Galasiërs praat nie.  Die vryheid waarvan Paulus praat, is die vryheid van die gewete voor God, die vryheid van die ewige toorn van God op die sonde:

  • Vryheid is om nooit weer bang te wees dat jy gestraf sal word vir jou sonde nie.
  • Vryheid is om te weet dat God in Christus jou as sy kind aangeneem het.
  • Vryheid is om te weet dat God nooit weer vir jou kwaad sal wees oor jou sonde nie.
  • Vryheid is om te weet dat God ‘n plek vir jou voorberei het om vir ewig saam met jou te lewe.

Dít is die vryheid wat Christus gebring. Dit is daarom ook ‘n vryheid van die wet.  Dit is ‘n vryheid van die sonde.  Dit is ‘n vryheid van die dood en die mag wat dit oor ons uitoefen.  En dít is die vryheid waarin ons moet vasstaan.

Kom ons luister hoe Paulus dit vir ons in hoofstuk vyf uitspel.

Continue reading

GALASIËRS 4 – Ons is kinders van die belofte – Sola Scriptura

Een van die groot ontdekkings van die Reformasie was om die Bybel boek vir boek te lees.  Die gebruik in die Middeleeue was om met ‘n teks of ‘n gedeelte daarvan te werk.  Dit is waarom ons op die hele brief aan die Galasiërs fokus en nie net ‘n gedeelte of ‘n teks uitlig en met dít as tema die boodskap bring nie.  Daar is natuurlik niks fout met ‘n tematiese boodskap nie.  Dit is verseker makliker om te verteer!  Maar, dan mis ‘n mens die diepgang van die Skrif, die fyn nuanses van die diep denke wat die Here deur sy Woord in ons wil stimuleer.

Dit is natuurlik baie meer uitdagend om só te lees, en julle sal kan getuig daarvan in hierdie Pinksterreeks!  Want, jy moet baie meer dinge inneem en in gedagte hou, sodat jy uit al die informasie wat Paulus hier gee, die lyn van sy argument kan begin volg en uiteindelik sin maak van wat hy vir ‘n mens wil sê.

Continue reading

GALASIËRS 3 – Ons is kinders van God deur geloof – Sola Fide

Maarten Luther skryf oor Paulus se skerp en sarkastiese toon in hoofstuk 3 dat ‘n mens ‘n soort “afstand en koelheid” opmerk by hom. Hy noem hulle nie sy broers en susters soos hy gewoonlik doen nie. Hy spreek hulle as “Galasiërs” aan om hulle te herinner aan hulle dwaasheid in geloof.  Hy wonder wie hulle “getoor het” om van die ervaring van die Gees se krag in hulle lewens wat deur geloof werk te eindig by die dwaasheid om deur die wet te probeer om hulle vlees in toom te hou.  Dit sal mos nooit werk nie!

Die rede vir sy skerp toon is dat dit nou maar eenmaal só is dat daar telkens slegte dinge is wat aan individuele Christene en selfs hele gemeentes bly vasklou. Die feit dat ‘n mens die genade van die Here ervaar het, verander jou nie skielik in ‘n nuwe en perfekte skepsel nie. Dele van die ou natuur en sy korrupte geaardheid bly voortbestaan. Die Gees van God kan nie alle menslike gebreke in jou met een slag oorwin nie. Heiligmaking duur tyd.

En dan kan jy die verkeerde keuse maak.  Jy kan dink dat die wet jou gaan help.  Maar Paulus wil dié gedagte in die kiem smoor.  Vandaar die beklemtoning van geloof as die enigste manier nie net om jou verhouding met God te herstel nie, maar ook op die pad van heiligmaking te vorder.

Kom ons lees wat Paulus hieroor skrywe:

Continue reading

GALASIËRS 2 – Christus leef in my – Solus Christus

Paulus gaan verder om sy evangelie te verduidelik, ‘n evangelie wat gebaseer is op Christus, en op Hom alleen, ‘n helder verkondiging van die fundamentele beginsel Solus Christus (alleen Christus).

Om aan te sluit by die boodskap van hoofstuk 1 wil ek egter eers ‘n paar verdere opmerkings maak oor hoe ons weet dat wat Paulus hier sê die regte evangelie is.  Ek het reeds vyf valse evangelies uitgespel wat in die res van die brief aan gespreek gaan word.  Maar, hoe onderskei ons die ware evangelie van die valse evangelies?

Ek dink daar is vyf maatstawwe wat ons kan aanlê.  Ek het dit ook in die boekie vir julle gegee.  Die vyf maatstawwe werk as ‘n eenheid, veral die eerste drie.  Die ander twee het meer met die praktyk te make.

Continue reading

Onlangse kommentaar