MATTEUS 2:16-18 – Herodes die Grote pleeg kindermoord
16Toe Herodes uitvind dat hy deur die sterrekundiges om die bos gelei is, het hy baie kwaad geword, en hy het opdrag gegee dat in Betlehem en al sy streke al die seuns van twee jaar en minder om die lewe gebring word, volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.
17Toe is vervul wat deur Jeremia die profeet gesê is:
18“’n Stem is in Rama gehoor,
’n gehuil en groot geweeklaag.
Ragel huil oor haar kinders,
en wil nie getroos word nie,
omdat hulle nie meer daar is nie.” (Jer 31:15)
Teks en konteks
Herodes die Grote was regtig ‘n wrede en magsbehepte karakter. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“varksog” en “seun” is ‘n woordspel in NT Grieks: huos en huios). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunstelingvrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.
Herodes was nie eers ’n ware Jood nie. Hy was van Edomitiese (’n Idumeër uit die nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie. Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word.
2:16 Ons teks vertel vir ons hier van sy heftige reaksie op die sterrekenners se verraad. Hy kom agter dat hulle met ‘n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.
2:17-18 Dié gebeure word deur Matteus as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia (Jer 31:15) oor Ragel se kinders wat in ballingskap weggevoer is, geïnterpreteer. Jeremia is by Rama vrygelaat van ballingskap (Jer 40:1), hoewel hy uiteindelik ontvoer is deur sy eie mense na Egipte. Die ballingskap en die ontvoering van Jeremia in die verlede vorm dus ‘n parallel met die verlies van Joodse kinderlewens en die ontworteling van die familie van Jesus as ‘n vlugteling na Egipte in die hede.
Ragel is boonop in daardie omgewing begrawe, “langs die pad na Efrata, dit is Betlehem” (Gen 35:19-21), die plek waar die herders hulle skape in die nag opgepas het. Die nuus wat die herders dus versprei oor die Kind, sowel as die sterrekenners se vlug van Herodes, word deur hom misbruik om sy bose kindermoord uit te voer.
Dié optrede van Herodes is grusaam, maar tog tevergeefs, want God het alreeds opgetree om dié teenstand van Herodes te fnuik en die Kind en sy ouers na ‘n veilige plek te laat uitwyk.
Betekenis en boodskap
- Die tragedie van die kindermoord is ontstellend. Dit illustreer dat hierdie wêreld in die mag van die Bose is. Die kinders dra die prys van die magtiges se selfsug en eie belang. En dit kan ‘n mens moedeloos maak. Selfs laat wonder oor God se genade. En laat wonder hoekom Hy net vir Jesus die moord spaar? Hoekom nie ook vir die ander kinders nie? Is dit nie onregverdig nie? ‘n Liefdevolle God wat nie ‘n kindermoord keer nie? Dit kan mos nie? Of hoe?
Daarop wil ek drie dinge sê waaroor jy kan nadink.
1.1 Die eerste is dat dit Herodes is wat die kindermoord pleeg, nie God nie. Dit is vanselfsprekend, maar iets wat ‘n mens maklik vergeet in jou gedagtes oor sulke tragedies. Dit is Herodes se skuld dat die kinders sterf, nie God s’n nie. Ons kom ook duidelik God se afgryse oor die verhaal agter, in die verwysing na Jeremia wat lank terug al daaroor geween het. En die verhaal laat verder die besef grondvat by ons dat sulke boosheid uitgewis móét word. Die wêreld kan nie só werk nie. Die tragedie laat ook in ons die verwagting groei dat daar ‘n Verlosser sal kom wat hieraan ‘n einde sal bring. Iets wat wel deeglik in God se plan voorsien word.
1.2 Die tweede is dat God wel toelaat dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hy besluit wel om Jesus die kindermoord te spaar, maar dit is omdat Hy ‘n ander plan met Jesus se lewe het. Hy laat immers toe dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hoekom? Want God wil die Bose as sodanig uitwis, deur die onskuldige moord van Jesus aan die kruis, sodat Hy ‘n nuwe bedeling kan skep, ‘n koninkryk waar sy wil vir almal sal geld. In dié koninkryk sal sulke kindermoorde nie meer moontlik wees nie.
1.3 Die derde is dat God alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28). En watter genade is die kruismoord nie in die lig van dié perspektief van Paulus nie! Deur die kruis kon God sy koninkryk vestig deur Jesus uit die dood op te wek en deur Hom alles nuut te maak. Jesus is nou verhef bó alle magte en kragte van hierdie wêreld en die toekomstige om alles terug te bring onder God se heerskappy. Sodat daar verlossing kan kom vir almal, ook vir die kinders wat in die kindermoord uitgewis is.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare

Onlangse kommentaar