Skip to main content

MATTEUS 2:16-18 – Herodes die Grote pleeg kindermoord

16Toe Herodes uitvind dat hy deur die sterrekundiges om die bos gelei is, het hy baie kwaad geword, en hy het opdrag gegee dat in Betlehem en al sy streke al die seuns van twee jaar en minder om die lewe gebring word, volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.

17Toe is vervul wat deur Jeremia die profeet gesê is:

18“’n Stem is in Rama gehoor,

’n gehuil en groot geweeklaag.

Ragel huil oor haar kinders,

en wil nie getroos word nie,

omdat hulle nie meer daar is nie.” (Jer 31:15)

Teks en konteks

Herodes die Grote was regtig ‘n wrede en magsbehepte karakter. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“varksog” en “seun” is ‘n woordspel in NT Grieks: huos en huios). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunstelingvrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.

Herodes was nie eers ’n ware Jood nie. Hy was van Edomitiese (’n Idumeër uit die nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie. Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word.

2:16 Ons teks vertel vir ons hier van sy heftige reaksie op die sterrekenners se verraad. Hy kom agter dat hulle met ‘n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.

2:17-18 Dié gebeure word deur Matteus as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia (Jer 31:15) oor Ragel se kinders wat in ballingskap weggevoer is, geïnterpreteer. Jeremia is by Rama vrygelaat van ballingskap (Jer 40:1), hoewel hy uiteindelik ontvoer is deur sy eie mense na Egipte. Die ballingskap en die ontvoering van Jeremia in die verlede vorm dus ‘n parallel met die verlies van Joodse kinderlewens en die ontworteling van die familie van Jesus as ‘n vlugteling na Egipte in die hede.

Ragel is boonop in daardie omgewing begrawe, “langs die pad na Efrata, dit is Betlehem” (Gen 35:19-21), die plek waar die herders hulle skape in die nag opgepas het. Die nuus wat die herders dus versprei oor die Kind, sowel as die sterrekenners se vlug van Herodes, word deur hom misbruik om sy bose kindermoord uit te voer.

Dié optrede van Herodes is grusaam, maar tog tevergeefs, want God het alreeds opgetree om dié teenstand van Herodes te fnuik en die Kind en sy ouers na ‘n veilige plek te laat uitwyk.

Betekenis en boodskap

  1. Die tragedie van die kindermoord is ontstellend. Dit illustreer dat hierdie wêreld in die mag van die Bose is. Die kinders dra die prys van die magtiges se selfsug en eie belang. En dit kan ‘n mens moedeloos maak. Selfs laat wonder oor God se genade. En laat wonder hoekom Hy net vir Jesus die moord spaar? Hoekom nie ook vir die ander kinders nie? Is dit nie onregverdig nie? ‘n Liefdevolle God wat nie ‘n kindermoord keer nie? Dit kan mos nie? Of hoe?

Daarop wil ek drie dinge sê waaroor jy kan nadink.

1.1 Die eerste is dat dit Herodes is wat die kindermoord pleeg, nie God nie. Dit is vanselfsprekend, maar iets wat ‘n mens maklik vergeet in jou gedagtes oor sulke tragedies. Dit is Herodes se skuld dat die kinders sterf, nie God s’n nie. Ons kom ook duidelik God se afgryse oor die verhaal agter, in die verwysing na Jeremia wat lank terug al daaroor geween het. En die verhaal laat verder die besef grondvat by ons dat sulke boosheid uitgewis móét word. Die wêreld kan nie só werk nie. Die tragedie laat ook in ons die verwagting groei dat daar ‘n Verlosser sal kom wat hieraan ‘n einde sal bring. Iets wat wel deeglik in God se plan voorsien word.

1.2 Die tweede is dat God wel toelaat dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hy besluit wel om Jesus die kindermoord te spaar, maar dit is omdat Hy ‘n ander plan met Jesus se lewe het. Hy laat immers toe dat Jesus aan die kruis vermoor word. Hoekom? Want God wil die Bose as sodanig uitwis, deur die onskuldige moord van Jesus aan die kruis, sodat Hy ‘n nuwe bedeling kan skep, ‘n koninkryk waar sy wil vir almal sal geld. In dié koninkryk sal sulke kindermoorde nie meer moontlik wees nie.

1.3 Die derde is dat God alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28). En watter genade is die kruismoord nie in die lig van dié perspektief van Paulus nie! Deur die kruis kon God sy koninkryk vestig deur Jesus uit die dood op te wek en deur Hom alles nuut te maak. Jesus is nou verhef bó alle magte en kragte van hierdie wêreld en die toekomstige om alles terug te bring onder God se heerskappy. Sodat daar verlossing kan kom vir almal, ook vir die kinders wat in die kindermoord uitgewis is.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jesus se geboorte en kinderjare


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda