Skip to main content

Hoe kry ons dit reg om vir meer te bid as maar net vir eiebelang?

Ek het ‘n navraag gekry oor gebed. Is dit werklik moontlik om die Here suiwer te aanbid en vir ander in te tree? Hoe kry ons dit reg om vir meer te bid as maar net ons eie belang?

Dit is ‘n vraag wat my roer. Want, dit is so dat ons gewoonlik bid vanuit ons eie visie op wat om ons aangaan. Dat ons eie belange ons motiewe om te bid beïnvloed.

Ons het twee Voorbidders!

Gelukkig is dit iets wat ook die Here se hart roer! Dit is waarom Hy ons uitnooi om, met ons eie beperkinge, Hom te nader en met danksegging en smeking te bid (Fil 4:4-7).

Soos ‘n Abraham van ouds sal ons ervaar, dat al vra ons dat die Here Sodom en Gomorra spaar ter wille van die moontlikheid van 10 regverdiges, en daar uiteindelik minder is, en ons kan dink dat die Here die gebed nie sal beantwoord nie, die Here tog die onuitgesproke gebed verhoor, dat Lot en sy mense veilig sal wees (Gen 19).

Nog belangriker, Jesus is die eerste Voorspraak (1 Joh 2:1) en Voorbidder, want Hy tree vir ons in by God sy Vader (Hebr 7:25; 9:24). Hy is namens ons en vir ons in die hemel.

Daarmee saam, die Heilige Gees is die tweede of ander Voorspraak of Trooster (Joh 14:16) wat by ons bly en wat ook ons Voorbidder is wat in ons bid volgens God se wil (Rom 8:26-28). Hy omvorm ons gebede om Godvererend te wees.

Gebruik die Skrif!

Wat ons verder kan help om uit ons selfgerigtheid te kom, is om die Skrif self te gebruik om te bid.

  • Die Ons Vader (Matt 6:9-13),
  • Die Liefdesgebed (Ef 3:14-21),
  • Die Gebed vir die heiliges (Ef 6:18),
  • Die Gebed vir die evangelie (Kol 4:3),
  • Die Gebed te alle tye (1 Tess 5:17),
  • Die Gebed van die gemeente (1 Tim 2:8),
  • Die Gebed vir Wysheid (Jak 1:5).

Ag en só kan aangaan! Lees hier meer oor Nehemia se tien gebede, om maar net een voorbeeld uit die OT te noem.

Die belangrikste praktiese riglyn is egter die Psalms. Daar is gebede vir elke enkele geleentheid, met beloftes vir elke behoefte.

Bid die Psalms!

Elke Psalm is ‘n gebed of gebede op sy eie. Kies een wat met jou perspektief ooreenkom, en gebruik die woorde wat God vir ons gegee het om te bid, bv (net in die eerste 8 Psalms):

Psalm 1 is ’n wysheidsPsalm, lei die hele Psalmboek in en vestig die basiese veronderstelling van die Psalmboek, dat die sin en betekenis van alles in God self gevind word. Wysheid begin by die fokus op God en sy woorde. Ons persoonlike verhoudinge met God het vreugde en voorspoed tot gevolg.

Bid aan die hand daarvan dat ons almal in God bevestig sal word.

Psalm 2 is ’n koningsPsalm wat waarskynlik by die troonbestyging van die koning gesing is. Dit bevestig God se heerskappy in die geskiedenis deur sy Gesalfde (=Messias), sy Seun, wat in OT na die koning verwys, en in die NT as begronding dien van die perspektief op Jesus as die Christus (=Messias), die Seun van God, en deur sy opstanding ook Here (=Jahwe), soos dit in Petrus se toespraak op Pinksterdag uitgespel word (Hand 2). Psalm 2 is daarom ’n ongelooflike belangrike sleutel om die betekenis van Jesus in die NT te ontsluit. Dit bevestig ook dat ons God kan vertrou vir die publieke en politieke lewe.

Bid dat ons vrede in ons land sal hê sodat ons God kan dien.

Psalm 3-7 is ’n eerste siklus van vyf klaagpsalms waarin die getroue God om hulp gesmeek word van vyande (Psalm 3,5,7), droogte (Psalm 4) en siekte (Psalm 6).

Gebruik dié Psalms om vir verlossing van vyande, droogte en siekte te bid.

Psalm 8 is ’n lofpsalm vir die majestueuse Skepper vol van ontsag vir die feit dat Hy besorg is oor en omgee vir mense, wat hulle waardigheid bevestig ten spyte van hulle nietigheid. Daarmee word die eerste siklus klaagpsalms afgesluit.

Gebruik dié Psalm om die Here te loof vir sy omgee vir ons.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…