Deuteronomium 5:32-33 – gehoorsaamheid laat dit met jou goed gaan

23 November
Deuteronomium 5:32-33 – gehoorsaamheid laat dit met jou goed gaan
32“Daarom moet julle dit nougeset nakom, soos wat die Here julle God julle beveel het. Julle mag nie na links of regs afwyk nie. 33Julle moet die hele pad volg, soos die Here julle God julle beveel het, sodat julle kan leef en dit met julle goed kan gaan – ja, sodat julle lank kan leef in die land wat julle in besit gaan neem.
Die persoonlike karakter van die Tien Gebooie word hier in Deuteronomium 5 onderstreep. Die Here soek ‘n hart wat vir Hom ontsag het, ‘n hart wat sy gebooie altyd sal onderhou. Sodat sy belofte vir hulle waar kan word dat dit: “met hulle en hulle kinders goed kan gaan!” (vgl vers 29). God se belofte sluit dus seën vir hulle kinders in. Vir dié wat Hom gehoorsaam.
Dit is waarom Moses verder aan in hierdie tweede preek van hom in Deuteronomium (Deut 4:44-26:68) hulle aanraai om hulle harte te besny (Deut 10:16) – wat eintlik beteken dat hulle die Here sal toelaat om dit te doen (Deut 30:6) – want die Here verwag dat hulle Hom van harte sal liefhê bó alles. En daarby hulle naaste soos hulleself.
Dit is goed om herinner te word hieraan in die Adventstyd. Dit is só ‘n hart, ‘n hart wat deur Jesus van Nasaret verander is, wat in staat is om wat God verbied nooit te doen nie; om wat God gebied altyd te doen; om God se verwagtinge persoonlik, volkome, noukeurig en volhardend te gehoorsaam. Dit is só ‘n hart wat met oorgawe sal leef om God se belofte dat dit met hulle goed sal gaan in besit te neem. Dit sluit seën in ook vir hulle kinders (Deut 5:33).
Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-444-533-julle-moet-hierdie-wet-leer-gehoorsaam-en-daarvolgens-lewe/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Hannelie
Hierdie is ‘n baie kragtige belofte met groot & streng vereistes. Ek wonder net of hierdie gedeelte nie ook gebruik word deur valse lelaars & profete vir die sogenaamde “prosperity gospel” want dit sal perfek daarby inpas. Miskien kan u meer hieroor uitbrei
Chris van Wyk
Ja, enige belofte in die Bybel kan los van sy konteks misbruik word. Hierdie is ‘n klassieke voorwaardelike belofte. Doen wat Ek sê, en Ek sal dit laat goed gaan met jou. Daar is ook onvoorwaardelike beloftes in die Bybel waar God bv sê Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges (Matt 5:45). Maar, die misbruik van ‘n belofte hef nie die regte gebruik daarvan op nie. Hierdie reeks het ten doel dat ons almal weer leer om ‘n pad van vertroue en gehoorsaamheid met God en sy beloftes te stap.
Hannelie
Dit is baie waar dankie, vir ons as Sy kinders weet ons dat dit met tye ook swaar, moeilik en nie altyd voorspoedig sal gaan nie maar nogtans moet ons Hom gehoorsaam dit is ‘n opdrag