Skip to main content

Prontuit die Waarheid – Week 44

Ons gesels oor die “leer van die Fariseërs en die Sadduseërs” wat soos suurdeeg alles beïnvloed. Die dissipels moet op hulle hoede en in hulle pasoppens wees daarvoor. Die Fariseërs en Sadduseërs was meesters daarin om klein onbenullighede te neem en daaroor lang en ingewikkelde debatte te voer wat jou egter nêrens bring nie.

Ons gesels oor Markus se verhaal van Jesus wat ‘n blinde genees in Betsaida. Jesus tree hier op soos ‘n dokter wat ‘n dubbele terapeutiese ingrype maak. Eers spoeg en hande oplê. Toe weer hande op die oë en die man kon daarna sy oë met die nodig onderskeiding gebruik. Sommige geleerdes dink dat die twee stadia van die genesing eintlik ‘n “acted parable” is. Dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien. Soos Guelich sê: “They are in need of a ’second touch’ which ultimately comes after Easter”.

Ons gesels oor Jesus wat al hoe meer sy volle aandag aan sy dissipels gee, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip. Hy neem hulle na Sesarea-Filippi (die Golan hoogtes) waar Petrus se beroemde belydenis gee: U is “die Christus van God.”

Tenebrae

Beleef die laaste ses uur van Jesus se kruisiging met woord en beeld. Uur vir uur. Soos die Skrif dit vir ons vertel. Sewe kruiswoorde troef die leed en die laster. Genade vir jou. En vir my. Dit is Volbring!

Prontuit die Waarheid – Week 43

Ek het ‘n video gemaak vir week 43 van die Bybelskool wat ek in Somerstrand sou aanbied vanaand. Enigiemand kan dit egter nou hier kyk. Dit is 18 minute lank.

Ek het ook die teks van die Skrifgedeeltes ingesit. Jy sou die video kon stop op die relevante plek om dit eers te lees, en daarna aangaan om die video te kyk. Jy is ook welkom om vrae te vra.

Geniet!

Prontuit die Waarheid

Die storielyn en boodskap van Jesus

As iemand vir jou vra: “Wat glo jy van Jesus?” kan jy gemaklik sy storielyn en boodskap oordra? Sy kinderjare. Sy reise. Sy gesprekke. Sy wonders, woorde en werke. Sy boodskap en betekenis. Dit is nie só eenvoudig nie, nê?

Dit is nie maklik om ’n geheelbeeld van die verhaal en verkondiging van Jesus te vorm uit die individuele bydraes van Lukas, Markus, Matteus en Johannes nie. ‘n Mens het ‘n sinopsis of harmonie van die onderskeie evangelies nodig.

Om daarmee te help, het ek só ‘n opeenvolgende sinopsis geskep waarin die 535 perikope (volgens my indeling) van die vier evangelies so ver moontlik kronologies gerangskik is.

Ek fokus in die inleiding op ‘n oorhoofse begrip van die vier evangelies en gee meer inligting oor die vier skrywers. Die res van die sinopsis bestaan uit my beskrywende opskrifte en die opeenvolgende perikope van al vier evangelies. Die gedrukte weergawe is net beskikbaar by die kerkkantoor van NGK Somerstrand.

Die Bybelskool byeenkomste Woensdae 18:00-19:00 in die konsistorie gaan die volgende twee jaar hierop fokus. Ons bespreek saam die betekenis en boodskap van Jesus volgens die vier evangelies. Ons gaan vyf perikope ‘n week lees sodat daar genoeg tyd is dat die Here ons geestelike lewens daardeur kan vorm.

Ek stuur elke week my bydraes oor die vyf perikope per e-pos wat sal fokus op die teks en konteks van die perikope, sowel as op die betekenis en boodskap daarvan. Dit is net ‘n leeshulp. Jou eie lees van die Bybelteks is fundamenteel noodsaaklik.

Skryf hier in om die bydraes te ontvang.

Hier is ook ‘n argief van vorige bydraes.

My hoop en wens en gebed vir jou is dat Jesus – die Een van die vier evangelies – in ons saam lees, saam luister, en saam leef, jou lewende Reisgenoot sal word.

Onlangse kommentaar