Skip to main content

Psalm 104:1-24 – Die Here God het alles met wysheid gemaak en sorg steeds daarvoor

12 Junie

Die RCL teks vir vandag is eintlik Psalm 8, maar ek het dit al vroeër gebruik. Jy kan dit hier lees. Ek kies dus om die eerste deel van Psalm 104 te hanteer wat aansluit by die laaste deel van Psalm 104 wat ek verlede Sondag gebruik het.

Psalm 104:1-24 – Die Here God het alles met wysheid gemaak en sorg steeds daarvoor

1Loof die Here, o my siel! Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee, 2U wat Uself met lig omhul, soos in ‘n mantel, wat die hemel oopspan soos ‘n tentdoek. 3U is die een wat die balke van sy bokamers op die water oprig, wat wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind beweeg; 4wat winde sy boodskappers maak, vlammende vuur sy dienaars; 5wat die aarde op sy fondamente vestig dat dit vir altyd en ewig nie wankel nie. 6Met oerwater het U dit soos met ‘n bokleed bedek; tot bo-oor die berge het die waters gestaan. 7Weens u dreiging het die waters gevlug, weens die geluid van u donder op die vlug geslaan. 8Dit het oor berge gespoel, in valleie afgevloei na die plek wat U daarvoor bestem het. 9‘n Grens het U gestel waaroor dit nie mag gaan nie; dit mag nie terugkeer om die aarde te bedek nie. 10Dit is U wat fonteine laat ontstaan in die spruite. Tussen berge vloei dit deur, 11en gee al die diere van die veld water; die wilde donkies les hulle dors. 12Langs die strome is die voëls van die hemel tuis, tussen die digte blare sing hulle. 13U is die een wat die berge laat drink uit sy bokamers; uit die vrug van u arbeid word die aarde versadig. 14Dit is U wat gras laat groei vir die vee en plante vir die mens om te verbou, om voedsel uit die aarde voort te bring: 15wyn wat ‘n mens se hart bly maak, olie om die gesig mee blink te maak en brood wat ‘n mens se hart versterk. 16Die bome van die Here word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het, 17waar voëls nesmaak en ooievaars in sipresse hulle tuiste het. 18Die hoë berge is vir die klipbokke, die rotsskeure is ‘n skuilplek vir dassies. 19Hy het die maan gemaak vir feestye; die son weet wanneer hy moet ondergaan. 20U laat die duisternis aanbreek en dit word nag, wanneer al die diere van die bos rondsluip. 21Die jong leeus brul vir prooi, om hulle kos van God te vra. 22As die son opkom, keer hulle terug en gaan rus in hulle lêplekke. 23Mense gaan uit vir hulle dagtaak, vir hulle werk tot die aand toe. 24Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort.

Die Psalm toon ooreenkomste met ’n Egiptiese lied van Amenhotep IV uit die vroeë 14de eeu vC wat handel oor die son, wat as die god Aten aanbid is. Die ooreenkomste lê in die beskrywing van water in vers 10-13, die versadiging van voëls en diere in vers 11-14, die beskrywing van die leeus in vers 20-21, die beskrywing van die sonsopkoms in vers 21, die beskrywing van arbeid in vers 23, die beskrywing van die skepping in vers 24, die beskrywing van versorging in vers 27 en die beskrywing van God wat lewe gee in vers 29-30 (vgl Allen in die Word kommentaar reeks). Dit is egter net generiese ooreenkomste omdat dit in die breë oor dieselfde tipe natuur onderwerpe handel. Psalm 104 gaan egter sy eie weg op in die interpretasie van wat in die natuur en skepping gebeur het. Die groot verskil in die twee gedigte lê in die feit dat die Here in Psalm 104 as Skepper aanbid word wat lig, waarvan die son maar ’n deel is, soos ’n kleed aantrek (vers 2) en die son self in die Egiptiese lied die god is wat aanbid word. Die son is dus ’n objek in Psalm 104 maar die subjek in die Egiptiese lied. Dit is die diep en radikale verskil wat regdeur gehandhaaf word. In die Psalm is God die Skepper. In die Egiptiese lied is die son die skepper. Daar is ook ander verskille in bv die betrokkenheid van God by die skepping van die mens in Psalm 104 wat afwesig is in die Egiptiese lied, maar vergelyk dit self by die skakel hierbo.

Dit is boonop duidelik dat die inspirasie vir Psalm 104 uit Genesis 1 se skeppingsverhaal kom deurdat die volgorde van die onderwerpe wat in die Psalm aangespreek word in die breë met die Genesis gedig ooreenkom: lig, water, plante, son en maan, seediere, kos voorsiening. Dieselfde woordeskat word ook gebruik as in Genesis 1 vir die ooreenstemmende begrippe en dieselfde tipe teologie rondom God as Skepper en nie as deel van die skepping nie, word in beide gehandhaaf.

  1. In die eerste plek bevestig die Psalm dat die Here groot is, want Hy is met lig omvou soos met ’n mantel. God het alles gemaak, hemel en aarde. Dit sal vir altyd en ewig nie wankel nie. Hy skep soos Hy dit nodig het. Winde en vlammende vuur word sy boodskappers. Wolke word sy strydwa. Hy ry op die wieke van die wind. Alles wat geskep is, is in Sy diens. Hy maak daarmee en stuur dit soos Hy wil. Alles wat geskape is, is objekte in Sy hand. Net Hy is die absolute Subjek, die Een wat as U aangespreek moet word.
  2. In die tweede plek het God die aarde bewoonbaar gemaak waarin die beskrywing van sy beheer oor water deurslaggewend is. Die groot waters word beperk, en gee terselfdertyd lewegewende water vir alles wat leef en beef uit die reservoir van water onder die aarde, die fonteine, om deur die riviere water te gee vir al die diere, die wilde donkies, en die voëls van die hemel. Almal kan hulle dors les en sing van vreugde! Netso vul God dit aan uit die hemel (sy bokamers!) met reënwater sodat die aarde deur sy sorg versadig kan word.
  3. In die derde plek het God alles wat leef ’n volhoubare lewensruimte gegee op die aarde. Die leefbaarheid lê ook in wederkerigheid. Die bome word versadig sodat die voëls soos ooievaars daarin kan nesmaak. Die berge gee skuiling vir die klipbokke en dassies. Selfs die ritmes van dag en nag bring versadiging vir al die diere, selfs die leeus, en uiteindelik veral vir die mens in die ritme van sy arbeid.

Psalm 104 loof God dus vir die bewoonbare en leefbare ruimte wat Hy met die Skepping vir alles wat leef en beef gegee het, in die besonder deur water en voedsel wat versadig en lewe moontlik maak. Hy is nie net Skepper nie, maar ook Voorsiener, en bly dit vir ewig en altyd. Daarom bid die Psalmis dat God vir ewig bly sal wees oor sy handewerk en verbind hy hom om dié God te prys in woorde en gedagtes solank hy leef. Dit vul my gedagtes en word my refrein vir hierdie dag: “Hoe groot is U, hoe groot is U!” Inderdaad.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-104-hoe-groot-is-u-hoe-groot-is-u/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.