1 Samuel 5 en 6 – Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here?

Tragies vertel die skrywer: “Ja, die Filistyne het die ark van God gevat.” Maar dan word met toenemende ontsag vertel van die effek wat die ark op almal het: Dagon, die god van die Filistyne, buig voor die ark neer; pes breek uit in elke stad waar die ark heen gestuur word; selfs die mense van Bet-Semes op Israelitiese grondgebied word swaar getref deur die Here.

Die Filistyne word dus gedwing om eer aan God te gee ( 6:5) en die Israeliete om ontsag vir sy teenwoordigheid te bewys. Eers in Kirjat-Jearim by die huis van Abinadab, met die wyding van Eleasar om die ark van die Here op te pas, word die toorn van die Here afgewend.

In Levitikus 10:3 word ‘n soortgelyke storie vertel van mense wat in God se teenwoordigheid sterf. Die skrywer spel die betekenis daarvan só uit:

“Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”

Ek word aangegryp deur die noodsaak van ontsag vir die Here en die navolg van sy wil tot in die fynste besonderhede. Dit is slegs diegene wat Hom volg, wat in sy teenwoordigheid kan bestaan.

1 Samuel 4 – Ikabod :: die eer is weggevat uit Israel

Dit is ‘n tragiese verhaal. Israel veg sonder om seker te maak die Here is met hulle. Hulle word verslaan. Dan neem hulle die Ark saam op die volgende veldtog, maar weereens sonder om die Here te raadpleeg. Hulle word weer verslaan en die ark buit gemaak. Die Here is wel “behind the scenes” in die oorlog betrokke … om sy oordeel oor Eli en sy seuns te voltrek. Daarmee wys die Here dat Hy nie gemanipuleer kan word nie.

Dit is die begin van dekades van oorlog teen die Filistyne (seevolke) wat eers in die tyd van Dawid tot ‘n einde kom. Die Filistyne het aan die kus gebly, nadat hulle min of meer dieselfde tyd as die Israeliete hulleself daar gevestig het.

Dit tref my hoe verweef die lewe is. Alles is met alles verbind. ‘n Klomp Israeliete gaan in die proses dood, weens hulle eie dwaasheid en bygeloof (Ark is ‘n soort talisman) , maar ook weens die priesters, Eli, Hofni en Pinehas se dwalings en sondes. Selfs die skoondogter, vrou van Pinehas, se swangerskap word daardeur geraak, en word op ‘n ontstellende grafiese manier ‘n verwoording van Israel se afgryse, toe sy die seun Ikabod (”Waar is die eer?”) noem, en sê:

“Die eer is weggevat uit Israel.”

Selfs Silo, as dorpie, het in die slag gebly, en speel hierna nie weer ‘n rol nie.

1 Samuel 3 – Ek gaan ‘n ding doen wat ore sal laat tuit

Twee geestelike leiers word hier in kontras met mekaar geskets, die bejaarde Eli en die seun Samuel.

Eli het in sy bediening horende doof en siende blind geword. Die minagting van sy kinders vir God is deur hom oorgesien en die ongeregtigheid waarvan hy gehoor het, het geen aksie by hom ontlok nie

Samuel dien van kleins af die Here, maar hoor hier die eerste keer die stem van die Here. Ten spyte van die vrees wat die eerste woorde by hom ontlok, vertel hy vir Eli wat God gesê het. En soos ons in hfst 4 gaan sien, gaan die woorde in vervulling. En die proses herhaal hom telkens in Samuel se lewe, sy woorde gaan in vervulling, sodat die volk hom as betroubare profeet kan beskryf.

Die resultaat is dat God se woord weer gehoor kon word in Israel.

Wat my tref, is dat hierdie eerste woord aan Samuel ‘n kras en harde woord was, ‘n woord wat die ore sal laat tuit, soos die Here sê. En hoewel dit leed en smaad in die kleiner kring oor Eli en sy huis bring, bring dit lewe in Israel in die breër gemeenskap

Woorde van bestraffing is dus ook woorde van bevryding.

%d bloggers like this: