Skip to main content

LUKAS 1:5-25 – Gabriël kondig Johannes se geboorte vir Sagaria aan

5Daar was in die dae van Herodes, koning van Judea, ’n priester met die naam Sagaria, uit die afdeling van Abia, en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. 6Hulle was albei regverdig voor God, en het onberispelik geleef volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here. 7Hulle het nie ’n kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op gevorderde leeftyd was.

8Dit het gebeur, terwyl hy as priester diens gedoen het voor God tydens die beurt van sy afdeling, 9dat hy volgens die gebruik van die priesterskap deur die lot aangewys is om in te gaan in die tempel van die Here en wierook te brand; 10en die hele menigte van die volk was besig om buite te bid op die uur van die wierookoffer.

11En ’n engel van die Here het aan hom verskyn wat aan die regterkant van die wierookofferaltaar gestaan het. 12En Sagaria was verskrik toe hy hom sien en vrees het oor hom gekom.

13Maar die engel het vir hom gesê: “Moenie vrees nie, Sagaria, omdat jou gebed verhoor is, en jou vrou, Elisabet, sal geboorte gee aan ’n seun vir jou en jy moet hom die naam Johannes gee. 14En daar sal vreugde en blydskap vir jou wees en baie sal verheug wees oor sy geboorte. 15Want hy sal groot wees voor die Here en wyn en bier sal hy beslis nie drink nie, en hy sal vervul wees met die Heilige Gees reeds van sy moederskoot af, 16en hy sal baie van die seuns van Israel laat terugkeer na die Here hulle God. 17En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en krag van Elia, om die harte van die vaders te laat terugkeer na hulle kinders en ongehoorsames na die denkwyse van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk voor te berei.”

18En Sagaria het aan die engel gesê: “Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ’n ou man en my vrou is op gevorderde leeftyd.”

19En die engel het geantwoord en vir hom gesê: “Ek is Gabriël, wat voor God staan, en ek is gestuur om dit vir jou te sê en om vir jou hierdie goeie nuus te bring. 20En kyk, jy sal jou stem verloor en nie in staat wees om te praat nie tot op die dag wat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde nie geglo het nie, wat vervul sal word op hulle regte tyd.”

21En die volk het gewag op Sagaria en hulle was verbaas oor die lang tyd wat hy deurgebring het in die tempel. 22En nadat hy uitgekom het, kon hy nie met hulle praat nie, en hulle het besef dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. En hy het vir hulle beduie, en het stom gebly.

23Toe sy diensperiode verby was, het hy na sy huis vertrek. 24En na hierdie dae het Elisabet, sy vrou, swanger geraak, en sy het haarself vyf maande lank verberg, en gesê: 25“So het die Here aan my gedoen in die dae waarin Hy op my ag geslaan het om my skande onder die mense weg te neem.”

Teks en konteks

Lukas begin die verhaal van sy evangelie in hoofstuk 1 met:

  • die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser (Luk 1:1-38);
  • die positiewe reaksie daarop van twee groot Godsvroue, Maria en Elisabet, wat gekontrasteer word met die twyfelende reaksie van Elisabet se man Sagaria (Luk 1:39-56); en
  • die geboorte van Johannes die Doper waarop sy pa se tong loskom en hy uitbars in lof aan God en ’n verreikende profesie oor beide Johannes en Jesus lewer (Luk 1:57-80).

1:5 Die verwysing na Herodes beteken dat dié gebeure voor ons jaartelling moes plaasgevind het, want Herodes is dood in die jaar 4 vC. Die aankondiging was waarskynlik tussen 7 en 6 vC.

1:6-7 Sagaria en Elisabet word as regverdig beskryf, dws getrou aan die wet van God, wat God se gebooie en voorskrifte nagekom het. Hulle was ’n suiwer priesterlike familie, omdat albei uit priesterlike families afkomstig was.

1:8-10 Let op dat die eerste aankondiging van die engel Gabriël in ’n gebedsomgewing gedoen word, waar die hele volksmenigte besig was om te bid, terwyl Sagaria die wierook op die altaar gebrand het (Luk 1:9-11). Hy het ook sy eie gebed daar gebid, vir ’n seun (Luk 1:13).

Dit laat ‘n mens dink aan die toneel in die hemel waar Jesus die sewende seël oopmaak terwyl ’n engel wierook saam met die gebede van al die gelowiges aan God offer (Open 8:1-5). Betekenisvolle gebeure gaan meesal met gebede saam en het ’n hemelse impak!

Sagaria is deur die lot aangewys om die diens in die tempel te verrig (1 Kron 24), wat onpartydigheid illustreer deurdat niemand voorgetrek word nie, maar ook beteken dat dit ’n uitsonderlike voorreg was wat nie noodwendig baie in ’n priester se lewe kon gebeur het nie.

Maar juis hierdie voorreg word die moment waar die buitengewone gebeur, met die engel wat ’n besondere boodskap vir hom bring. En die boodskap is nie net ’n verhoring van sy gebed vir ’n eie seun, en die verlossing van Elisabet se kinderloosheid nie, maar deel van die belofte van ’n Seun vir die volk wat hulle sou verlos.

1:11-17 Die kind wat vir Sagaria en Elisabet belowe word, sê die engel Gabriël, sal dus in die krag van Elia voor die Messias uitgaan om die harte van die vaders met die kinders te versoen, sodat die volk in gehoorsaamheid aan die Here kan leef.

Die verwysing is uiters betekenisvol, aangesien die profeet Maleagi in sy laaste profesie, trouens die laaste drie verse van die OT, verklaar het dat die voorloper van die Messias, Elia, sal kom wanneer mense sal onthou om volgens die wet te leef, volgens die voorskrifte en bepalings daarvan (Mal 4:4-6). Dié profesie was alreeds 430 jaar deel van die Messias-verwagting van Israel.

Let ook op hoe Lukas deur die aankondiging van die engele van die begin af beklemtoon dat hierdie gebeure die werk van die Heilige Gees is. Die Heilige Gees speel trouens ‘n deurslaggewende rol in Lukas en Handelinge.

Die Heilige Gees bewerk die maagdelike ontvangenis (Luk 1:35). Hy wek die verwagting van die koms van die Messias (Luk 1:41). Hy neem besit van Sagaria sodat hy die lofsang kan uitspreek (Luk 1:67). Hy vul die lewe van Simeon en Anna (Luk 2:25) en is betrokke reg deur die bediening van Jesus (doop en versoeking: Luk 3:1-4:11; eerste optrede in Nasaret – Luk 4:18; belowe dit as geskenk van die Vader vir dié wat daarvoor bid – Luk 11:13; gee vir sy dissipels deur die Gees die krag om hulle roeping te gehoorsaam – Luk 24:49).

Regdeur Handelinge word dié tema van die Heilige Gees volgehou.

Onthou dat hierdie aankondiging van die geboorte in eie reg ‘n profesie is van wat gaan kom. Johannes se geboorte is dus ‘n vervulling van die eerste profesie van die NT.

1:18-20 Sagaria word verkwalik vir sy vraag aan die engel, anders as wat die geval was met Abraham (Gen 15:8) en Gideon (Rigt 6:17). Ook anders as met Maria net hierna. Dit kan wees dat sy vraag eintlik sy twyfel geopenbaar het, of hy nog in staat sou wees tot vaderskap, terwyl Abraham en Maria eerder na die proses uitgevra het, en Gideon na sekerheid aangaande die engel se status. Hoe dit ook al sy, die engel tree beslis op met ’n teken van stomheid, wat eers met die geboorte van Johannes verbreek is.

1:21-25 Sagaria moet eers klaarmaak met sy week van dienswerk voor hy die blye boodskap met Elisabet kan gaan deel.

Betekenis en boodskap

  1. Dink aan die rol wat gebed en gehoorsaamheid in die lewe van Sagaria en Elisabet gespeel het. Dit is hoe God se beloftes waar word, nie net vir hulle nie, maar ook vir elke kind van God.
  2. Dink ook aan hoe twyfel ‘n mens se vertroue op God se beloftes kan kortwiek. Soos dit hier met Sagaria gebeur. Gelukkig was dit anders vir Elisabet. Ook vir Maria net hierna. Sagaria word egter nie uitgesluit uit die vervulling van die belofte nie. God se genade is meer as ons twyfel, hoewel ons twyfel ons soms ook stom kan laat soos vir hom.
  3. Dink ook aan die ontmoeting tussen God se wêreld en ons eie waarvan hierdie verhaal getuig. Dit gebeur in die vervulling van God se beloftes.
  4. Watter beloftes is daar wat die Here al vir jou in vervulling laat gaan het? Loof Hom dat Hy só naby aan jou gekom het.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jersus se geboorte en kinderjare


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.