Skip to main content

God se woord is sterker as mense se woorde

Ek het vanoggend ‘n lang tyd spandeer om na te dink oor die Bybelse siening van vloeke en seëninge.  Sommige gelowiges beskou dit as baie werklik, en ander as ‘n verouderde manier van dink.

Hier is ‘n paar van my gedagtes daaroor:

Psalm 109 handel oor die impak wat vloeke op die bidder het, maar bely die werklikheid dat God se seënende Woord kragtiger is as mense s’n.

God se woord is sterker as mense se woorde.

In ‘n wêreld waar geglo is woorde het ‘n werklike mag oor mense, beide woorde wat seën en woorde wat vervloek, het hierdie belydenis ‘n kragtige uitwerking gehad.  Dit was letterlik ‘n toevlug en verskansing teen die pyn wat woorde mense kan aandoen.

Maar ons moet versigtig wees om te dink dat die Bybelse skrywers en Bybelse gelowiges inderdaad almal só geglo het, dat woorde ‘n outomatiese magiese en bonatuurlike krag het.  Dit is immers een van die dinge wat die Bybelse geloof onderskei van die ander gelowe van daardie tyd, dat oor God gedink is as persoonlik en nie onpersoonlik nie.  Hy is ‘n God waartoe gebid word en met wie in gesprek getree word, nie een wat deur allerlei rites en rituele of woorde outomaties en onpersoonlik werk nie.

Vandag sal baie van ons dus nie só daaroor praat, asof daar ‘n stuk magiese krag in woorde sit wat outomaties kan werk nie, soos die antieke mense inderdaad geglo het. Ons leef immers nie meer in ‘n wêreld waar alles in terme van towerkragte verklaar word nie.

  1. Deur só ‘n beskouing gee ons aan die woorde van mense, om te vloek of te seën, ‘n groter krag as wat hulle in werklikheid het.
  2. Nog erger, ons gee daarmee aan mense ‘n idee dat woorde ‘n krag het wat onafhanklik van God se woorde van seën, veral in die lewe van ‘n gelowige, destruktief kan werk.  Dit skep onnodige vrees en onsekerheid. So laat ons mense goed glo wat onwaar, misleidend en destruktief is.
  3. Maar, nog belangriker, deur só ‘n wêreldbeskouing te omhels, word ons verstaan van God gedegradeer tot ‘n Godsbeeld wat op dieselfde vlak is as die gode van hierdie wêreld van kragte en magte, ‘n God wat onpersoonlik is eerder as persoonlik.  Dit is juis die wins van die Bybelse Godsbeeld, dat Hy ‘n persoon is, en nie maar net ‘n krag of mag nie.

Spreuke 26:2 sê immers alreeds:

“Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie, so gaan ’n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie.”

Daarom sal Jakob die seën wat hy oor sy kinders uitspreek in die vorm van ‘n gebed doen, omdat dit net sy krag kry in die antwoord en werk van die persoonlike God wat hy aanbid (Gen 49:25). Dit werk nie magies en outomaties nie.  God is in beheer van die vloek en die seën.

MAAR … dit is nie al nie:

Daar is op ‘n manier ook niks nuuts onder die son nie!

Die taalfilosowe praat vandag steeds van die wêreld wat woorde skep, die sogenaamde language-game (Thiselton).  En hoewel dit heel anders beredeneer word as in die magiese voorstelling van die antieke wêreld, tref dit my hoe eenders die uitwerking daarvan op mense is.  Hoekom?

Want, oral waar ‘n woord ter harte geneem word, word dit ‘n werklikheid vir mense, en skep dit letterlik ‘n wêreld waarin gewoon en geleef word.  Dit maak nie saak of dit empiries waar is of nie.  Dit maak saak wat jy daarvan glo of nie!

En dit tref my dat in só ‘n wêreld Psalm 109 steeds ongelooflike betekenis het, dat die verydelende vervloekende woorde wat mense teenoor jou uitspreek – woorde wat wil seermaak, verwond, wil doodmaak – deur God se woorde getroef word en uitgewis word, vir dié wat in Hom glo.

Ons hoef dus nie ‘n magiese interpretasie van die werklikheid te aanvaar om die betekenis van die Psalm vir onsself toe te eien nie.  Ons kan ‘n ander wêreldbeeld hê en steeds die Here loof vir sy woorde wat groter mag het as dié van die vervloekers, hoe ons die mag daarvan ook al definieer.  Ons kan dus leef in dié waarheid en werklikheid wat God se woorde aan ons skep en wat ander se woorde troef.

Hoe wonderlik dat ons kan glo dat ons vrygespreek is van die vloek van die wet (Gal 3:13) en die skuld en mag van die sonde (Rom 6:1-11; 2 Kor 5:21) en die effek van die bose in ons lewe, woorde en al!

En hoe nuut klink Jesus se raad vir ons nie:  In ‘n wêreld van verydeling en vervloeking word ons geroep om vervloeking met seën te ontmoet en te verander (Bergrede – Luk 6:27-28):

“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. “

So, of jy nou die language-game as werklikheidsbeskouing aanvaar, of ‘n antieke magiese beskouing, so lank as wat jy net by hierdie waarheid oor God uitkom, dat Hy persoonlik is, dat Sy woorde magtiger is as enige ander woorde wat oor jou uitgespreek is of word, en dat jy in die vryheid wat Hy gee, met jou woorde van hierdie wêreld ‘n beter plek kan maak.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda