Skip to main content

Eenvoud

Eenvoud (simplicity) laat val die klem op wat regtig saak maak (Fil 1:10-11) en op ʼn lewe vry van bekommernisse (Matt 6:25-34) en laste (Heb 12:1-3). Dit maak jou vry om ander mense met jou vrygewige diensbaarheid te seën.

Die Here Jesus het ons aangeraai om ’n eenvoudiger leefwyse aan te leer omdat dit sal verseker dat ons ons hart nie op tydelike behoeftes en besittings sal verloor nie, maar eerder vir ons ’n skat in die hemel sal bymekaarmaak (Matt 6:19-21). Eenvoud beteken om ryk te wees in God, om sy koninkryk en sy geregtigheid in alles te soek en om op Hom te vertrou vir wat jy nodig het om te leef.

Paulus self sê in Filippense 4:11-13: “Ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” Daarom kon hy ook sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom [Christus] wat my krag gee.”

Om ’n lewe van eenvoud aan te leer is nie maklik in ons verbruikersgerigte samelewing nie. Hier is egter  ʼn paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Maak ’n lys van dinge en aktiwiteite wat jou lewe onnodig ingewikkeld maak. Maak ’n plan om dié dinge en aktiwiteite in jou lewe minder te maak.
  • Neem ’n blaaskans van dié dinge wat jou aandag voortdurend opeis. Dink hier aan enigiets soos die TV, jou selfoon, e-posse, Facebook of Twitter. Sommige mense noem hierdie fokus op eenvoud unplugging. Maak spesifiek tyd in jou program vir oomblikke wanneer jy jou kan “losmaak” van alles wat jou moeg maak en jy net stil kan word, diep gesprekke kan voer, kan lees en in die veld of langs die see kan gaan stap.
  • Maak ’n lys van besittings waarvan jy te veel het of wat nie meer ’n doel in jou lewe het nie. Vrolik iemand anders se lewe daarmee op.
  • Besluit om vir ’n maand lank op ’n eenvoudige dieet te gaan. Doen byvoorbeeld ʼn Daniëlvas van groente, neute, vrugte en water. Dit sal ook tot voordeel van jou gesondheid wees.

Drie vaste gebedstye – met Bybelteks

Die Jode het drie gebedstye gehad, soos ons in Daniël se lewe geïllustreer sien. Hy het drie maal per dag voor God gekniel en Hom geprys, aanbid en gedank (Dan 6:11). In die Joodse tradisie is daar mettertyd ’n uitgebreide aantal voorskrifte vir dié gebede ontwikkel wat vandag nog nagevolg word. Lees my bydrae oor drie vaste gebedstye hier.

Jy kan egter hierdie vaste gebedstye inrig soos jy wil. Ek gee hier my eie drie voorbeelde daarvan met die volledige Bybelteks wat jy kan gebruik. Jy kan dit in hierdie bydrae op jou selfoon lees of die pdf aflaai om uit te druk.

Laai dit hier af in pdf formaat: Drie vaste gebedstye.pdf

Continue reading

Selfbeheersing

Selfbeheersing (wat deel van die vrug van die Gees is, vgl Gal 5:22-23) of kuisheid (chastity) beteken ons verheerlik God deur hoe ons onsself en ander mense behandel. Dit sluit ons gedagtewêreld in (Rom 12:1-2), asook hoe ons kommunikeer (hoe ons ons tong beheer, Jak 3:1-12), ons liggaam (1 Kor 6:12-20) en ons leefstyl (Gal 5:13-26).

Selfbeheersing is gewortel in ’n diep respek en liefde vir jouself en ander mense as deel van die skepping van God. Die eerste liefdesgebod vra immers van jou om God lief te hê “met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand”. Dit sluit jou hele bestaan in. Dit geld ook vir jou naaste, want by die eerste gebod moet jy ook jou naaste liefhê “soos jouself” (Luk 10:27).

Paulus pas dit ook op ons liggaam toe deur te sê: “’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is … wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom. Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor 6:12-20).

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Wees getrou in jou liefdeslewe en in alle ander verhoudings waarin jy staan.
  • Moet glad nie betrokke raak by optrede wat ander mense sal beskaam, beskuldig of gespanne maak nie.
  • Aanvaar jou liggaam, persoonlikheid en menswees as ’n gawe uit die hand van God en loof Hom daarvoor.
  • Fokus op waarderende gedagtes,soos Paulus ons in Filippense 4:8 leer: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.
  • Sluit aan by of stig ’n aanspreeklikheidsgroep (accountability group) sodat julle mekaar kan ondersteun.
  • Gebruik woorde van bemoediging om ander mense op te bou.
  • Wanneer jy iets leliks van iemand anders gesê het, dink aan nege positiewe eienskappe van daardie persoon wat jy waardeer en gaan sê dit vir hom of haar.
  • Moenie van ander mense skinder, kwaadpraat of geniepsig wees nie.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…