GALASIËRS 5 – Ons leef deur die Gees – Sola Gratia
Ons Westerse samelewing het tot ‘n groot mate die Franse Revolusie se slagspreuk van die laat 18de eeu omarm: Liberté, Égalité, Fraternité – vryheid, gelykheid en broederskap. Broederskap natuurlik bedoel in die sin van menswees, nie geslagtelik nie. Hierdie gedagtes was ‘n natuurlike uitvloeisel van die Verligting van die 17de-18de eeu met sy klem op die rede en die wetenskap. Wat die Franse Revolusie egter skerp in die kollig gebring het, was die fokus op die bevryding van die individu van die gesag wat sisteme en waardestelsels op hulle uitgeoefen het, in die kerk sowel as in die staat.
Die effek op die kerk was natuurlik enorm. Want, die vryheid waarvan die Franse Revolusie gepraat het, was nie die vryheid wat in Christus beskikbaar was nie, maar was afgestem op die vryheid van die individu. Die mens se begeertes en behoeftes het in die sentrum kom staan. En vryheid het beteken dat jy kan kies hoe om te leef.
- Jy kon bepaal wat belangrik was vir jou.
- Jy kon die waardes kies waarvolgens jy leef.
- En niemand kon met jou daaroor stry nie.
- Almal moes verdraagsaam wees, al het dié vryheid in konflik gekom met die waardes wat deur die eeue deur die Skrif en die belydenis beklemtoon is.
- Want vryheid het die vryheid van die individu beteken.
Nou, dit is nie die vryheid waarvan Paulus in sy brief aan die Galasiërs praat nie. Die vryheid waarvan Paulus praat, is die vryheid van die gewete voor God, die vryheid van die ewige toorn van God op die sonde:
- Vryheid is om nooit weer bang te wees dat jy gestraf sal word vir jou sonde nie.
- Vryheid is om te weet dat God in Christus jou as sy kind aangeneem het.
- Vryheid is om te weet dat God nooit weer vir jou kwaad sal wees oor jou sonde nie.
- Vryheid is om te weet dat God ‘n plek vir jou voorberei het om vir ewig saam met jou te lewe.
Dít is die vryheid wat Christus gebring. Dit is daarom ook ‘n vryheid van die wet. Dit is ‘n vryheid van die sonde. Dit is ‘n vryheid van die dood en die mag wat dit oor ons uitoefen. En dít is die vryheid waarin ons moet vasstaan.
Kom ons luister hoe Paulus dit vir ons in hoofstuk vyf uitspel.
Daar word vandag baie geskryf oor die liefde en dat die liefde die sleutel tot die Christelike lewe is. Só ook in die afgelope Kerkbode. Heel gepas sê Neels Jackson dat hierdie liefde “nie ’n wettiese soort gehoorsaamheid” is nie, soos ons dit ook in Galasiërs 2 tot 5 gehoor het. Neels haal ‘n hele paar verse aan uit Galasiërs 5 in sy redaksionele kommentaar: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” En: “Al wat van belang is, is die geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.” Liefde word dus verstaan as ‘n dienende ondersteunende gesindheid wat die belange van ander op die hart dra.
Onlangse kommentaar