Skip to main content

Tag: Romeine

Die brief aan die Romeine

Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 nC in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand 20:2-3).  Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl Rom 15:25-26 met 1 Kor 16:1-7) .

Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het: vgl Hand 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom 16:3-16 – hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ’n derde vroue is!)

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl 16:5,14,15).  En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?  Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl egter Kol 2:16).

Selfs met Paulus se laaste besoek aan Jerusalem aan die einde van sy drie sendingreise, sou dié vraag steeds krities wees.  Vergelyk die klem wat die gelowiges in Jerusalem op die wet van Moses plaas in Hand 21:17-26.  Dit is juis sy inval by hulle planne wat hom in die moeilikheid bring en uiteindelik as gevangene in Rome bring, sy eerste besoek daar, maar in boeie.

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees.  God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Dink maar net aan Luther wat tot inkeer gekom het deur die evangelie in hierdie teks en die Reformasie wat hieruit voortgevloei het.  Geen wonder dat baie geleerdes dink dit is die belangrikste brief wat Paulus ooit geskryf het (Barth, Jonker).

Let op hoe Paulus in ’n retoriese trant skryf (die sogenaamde diatribe) wat leraars van daardie tyd baie keer gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog.  ’n Mens sien dit op ’n paar plekke in die brief, bv. 2:1-5, 17-24 waar hy in ’n verbeeldingsgesprek is met ’n Joodse gespreksgenoot en in 11:13-24 met ’n gelowige uit die heidense nasies.  Let ook op hoe Paulus in beide gevalle hulle selfverheffing op grond van hulle afkoms aanvat, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie (in die brief aan die Efesiërs sal hy weer terugkom na dié gedagte).

Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom 15:22-33).  Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku – sommige verklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6) – iets waaroor hy in die brief aan die Filippense later op inspirerende wyse sal skryf (Fil 1:27-11) – sonder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak (die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms).  Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom 15:7-11).

Leesplan

Paulus skryf die brief (gedikteer aan Tertius – 16:22) in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:

1.       Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;

2.       Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;

3.       Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;

4.       Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.

Ons gaan die brief in die volgende 3 weke deurlees:

  • Hfst. 1-4 – 21-27 Oktober
  • Hfst. 5-8 – 28 Oktober tot 3 November
  • Hfst. 9-16 – 4-10 November.

Daarna sluit ons hierdie kwartaal se Bybelskool af met die lieflike kortverhaal Rut.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda