Skip to main content

Wie is God? ’n Kompakte gids van 52 geloofsvrae met kort en kragtige antwoorde

Klik hier om dit aan te skaf

As iemand vir jou vra: “Wat glo jy?” kan jy die kern van wat ons glo as antwoord gee? Vrae omtrent die Bybel, geloof en die kerk is nooit maklik nie. Sommige vrae lýk eenvoudig en ander kan jy sommer sien, gaan ure se kopkrap meebring!

Ek het in Wie is God? kort en kragtige antwoorde geformuleer op vrae soos: “Wat is die Drie-eenheid?” “Wat verwag God van jou in sy wet?” “Waarom moet my Verlosser waarlik mens én waarlik God wees?” “Watter hoop hou die ewige lewe vir my in?” Die resultaat was Wie is God? Hierdie kompakte gids bevat antwoorde op 52 geloofsvrae soos hierdie vir gelowiges.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Athanasius, die Heidelbergse Kategismus en die Westminster Geloofsbelydenis dien as basis vir die kernantwoorde in Wie is God?

Wie is God? is geskryf in samehang met en as metgesel vir Wat glo jy? wat gemik is op kinders. Wat glo jy? is gerig op agt- tot twaalfjarige kinders en gee korter 20-woord antwoorde op dieselfde vrae.  Dit word steeds begrond met kort aanhalings uit die Bybel, maar ook met ’n bykomende Bybelse verhaal of gelykenis wat deur ’n kort 100-woord opsomming meer bevatlik vir kinders sal wees.

Die antwoorde in Wat glo jy? is doelbewus dieselfde as die swartgedrukte deel van hierdie boek se antwoorde.  Ouers, begeleiers en opvoeders kan dus albei boeke tegelykertyd gebruik in gesprekke sodat kinders kan deelneem.

Hier is meer inligting uit die Voorwoord van die boek.

Gerig op tieners en volwassenes

Wie is God? is gerig op tieners en volwassenes.  Die boek beantwoord die mees algemene vrae oor wie God is, sy wese en sy werke.  Deur 52 kernantwoorde te gee oor God, Christus, en die Gees word die grondbeginsels van die Christelike geloof vasgelê.  Elke antwoord word aangevul met vier of meer Bybelse aanhalings.  Daar is ook verwysings na die belydenisskrifte wat die antwoorde dieper begrond.

Gerig op geloofsgroei en geloofsgesprekke

Die boek is bedoel vir gelowiges wat in hulle geloof wil groei.  Die kort 60-woord antwoord saam met die Bybeltekste kan in jou stiltetydgebruik word.  Deur vyf vrae ’n week te hanteer, kan jy die inhoud daarvan binne ’n kwartaal in jou hartbêre.  Memoriseerdit en lees daarna van tyd tot tyd weer dievrae en antwoorde. Só sal dit deel van jou manier van dink en doen word.

Die boek is ook bedoel vir belydenisklas- en Bybelstudiegroepe.  Daarom is daar by elke antwoord verwysings na die belydenisskrifte waarop die antwoorde berus.  Die verdere leeswerk in die belydenisskrifte sal ’n dieper dimensie aan geloofgesprekke verleen.  Skakels na gratis weergawes van die belydenisskrifte in pdf formaat kan by bybelskool.com gekry word.  Vrae en kommentaar kan ook daar gevra en gelewer word.

Die boek is dus uiters geskik om in gesprekvoering oor God, geloof en die Bybel te gebruik.  Dit kan gemaklik in ’n jaar deurgewerk word in ’n groep.

Gerig op “lees om te leef”

Die inhoud van die antwoorde neem in ag dat tieners en volwassenes meesal geskuif het van ‘n “leeom te leer” na ‘n “lees om te leefingesteldheid.  Volwasse-wordende gelowiges is besig om nie net al hoe meer inligting te versamel ter wille van ’n beter begrip van geestelike sake nie.  Hulle wil al hoe meer betekenis maak met wat hulle lees.

Die antwoorde en Bybelse inhoude van hierdie boek sluit by hierdie behoefte aan.  Die boek sal jou help om al hoe meer die Bybelse antwoorde op jou lewensvrae te verstaan en vir jouself toe te eien, sodat jy dit kan leef.

Gerig op ’n algemene Christelike verwoording van basiese Bybelse waarhede

Die boek is ‘n algemene Christelike verwoording van basiese Bybelse waarhede. Dit is gerig op alle gelowiges, nie net op gelowiges van ‘n spesifieke kerk nie.  Daarom word die antwoorde só geformuleer dat gelowiges hulle eie materiaal kan gebruik om die antwoorde verder in te kleur.

Die antwoorde is in die enkelvoud geskrywe sodat ’n mens die antwoorde vir jouself kan toeëien. By die geloofsbelydenis van Nicea en die Ons Vader gebed is die tradisionele “ons” egter behou.  Dit is nodig sodat daar ‘n gevoel van gemeenskap met mekaar in die geloofsbelydenis en gebed geskep kan word.

As weergawe van die gesamentlike geloofsbelydenis is die Geloofsbelydenis van Nicea gekies, omdat dit ’n baie algemene ekumeniese belydenis is, en die verwoording van die belydenis oor die Seun en die Gees meer omvattend is daarin.

Daar word in die antwoorde na elke artikel van die drie ekumeniese geloofsbelydenisse verwys: Apostoliese Geloofsbelydenis, Geloofsbelydenis van Nicea, en Geloofsbelydenis van Athanasius. Daar word ook na elke artikel van die Gereformeerde Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) en die Heidelbergse Kategismus (HK) verwys, sowel as die grootste deel van die Dordtse Leerreëls (DL), en die Westminster Geloofsbelydenis (WG).  Daar is ook ‘n paar verwysings nadie Westminster Korter Kategismus (WKK).

Vir die statistici onder ons: daar is aanhalings uit 42 boeke van die Bybel waarvan 15 uit die OT boeke is. Daar is aanhalings uit al 27 NT boeke.  In totaal is daar 299 Skrifverwysings na perikope en verse.  Op die webtuiste sal daar indekse verskyn wat die boek vir jou vanuit die Skrifverwysings sowel as die verwysings na geloofsbelydenisse kan oopsluit.

Geskryf in samehang met die metgesel boek Wat glo jy?

Dit was ’n groot voorreg om hierdie boek Wie is God? te skryf in samehang met en as metgesel vir die boek Wat glo jy?  wat tegelykertyd uitgegee word.  Daardie boek is gerig op agt- tot twaalfjarige kinders en gee korter 20-woord antwoorde op dieselfde vrae.  Dit word steeds begrond met kort aanhalings uit die Bybel, maar ook met ’n bykomende Bybelse verhaal of gelykenis wat deur ’n kort 100-woord opsomming meer bevatlik vir kinders sal wees.

Die antwoorde in Wat glo jy? is doelbewus dieselfde as die swartgedrukte deel van hierdie boek se antwoorde.  Ouers, begeleiers en opvoeders kan dus albei boeke tegelykertyd gebruik in gesprekke sodat kinders kan deelneem.

DV word in die vooruitsig gestel dat daar mettertyd ook ‘n Bybelstudieboek sal verskynwat in veertig weke deur hierdie 52 vrae en antwoorde sal werk. Daar sal dan uiteraard baie dieper ingegaan kan word op die antwoorde.

Dankwoord

Ek is dankbaar teenoor Chris Johnsen en Sua du Plessis van CUM vir die vertroue in my om hierdie publikasies die lig te laat sien.  Hulle meelewing en aanmoediging was van onskatbare waarde.  Ek is dankbaar teenoor Tim Keller wie se New City Catechism van groot waarde was in my navorsing.  Ek is ook dankbaar teenoor my belydenisklas (2017) met wie ek saam in die Bybel en ons belydenisskrifte na antwoorde op hierdie vrae gesoek het.  Die lewendige gesprekke sal my bybly.  God is regtig groot en genadig, goed en getrou.  Hy sorg vir alles en almal, vol liefde en trou.

Chris van Wyk

 


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms