Skip to main content

Jesus gebore in die winter?

Photo by Elias Tigiser from Pexels

Ek het ‘n navraag gekry oor hoe dit moontlik is dat Jesus in die winter gebore is? Ek het besluit om dié vraag te beantwoord en ‘n bietjie speels met ‘n paar “asse” te werk om by Jesus se geboortetyd uit te kom. Ek wil daarmee ‘n paar van julle aan die dink sit, en wys hoe moeilik dit is om by datums in die Bybelse tyd uit te kom. Geniet!

1. Winter in Betlehem en omstreke is nie so swaar soos in Europa nie. Dit is kort en matig.

Jesus het bv in die winter die fees van die tempelwyding bygewoon in Jerusalem (8 km van Betlehem) êrens tussen November en Desember (Joh 10:22).

Die gemiddelde temperatuur in Desember is 12 grade Celsius vandag, hoewel ons nie weet hoe dit 20 eeue terug was nie. Dit is wel die reënseisoen in Israel soos ons in Esra 10:9 lees en daar is soms sneeu vir ‘n dag of twee. Maar dit het nog nooit die boere gekeer om hulle vee in die veld te versorg nie.

Die landstreek oos van Betlehem val skerp na die Dooie See se kant toe wat dit eintlik warmer maak as die hoër liggende gedeeltes na die weste. Die weer hoef dus nie ‘n mens se standpunt oor Kersfees te beïnvloed nie.

Die tyd 25 Desember is dus nie onmoontlik nie, maar kan nie histories geverifieer word nie. Maar, dit geld alle ander voorstelle vir datums. Die kerk het dus een van die datums wat voorgestel is, gekies. Dit is net so goed soos enige ander datum.

2. ’n Interessante manier om uit die Bybelse gegewens ’n datum te probeer vasstel, is om met die tyd te werk wat Sagaria uit die diensorde van Abia in die tempel diens gedoen het (Luk 1:5).

Die priesters is in 24 families geloot vir ’n week se diens in die tempel. Hulle het dit dus min of meer twee keer ’n jaar waargeneem.

Die Bybelse jaar het 12 maande gehad (1 Kon 4:7; 1 Kron 27:1-15; Est 2:12; Dan 4:29; Openb 22:2). Die indeling van die jaar is met die Uittog uit Egipte verander sodat dié maand, Nisan (Abib), die eerste maand van die jaar sou wees. ’n Teologiese rede dus.

Hier is die name van die 12 maande van die jaar in Bybelse tye:

  1. Nisan (Abib) – 30 dae – Mrt/Apr (Neh 2:1; Est 3:7) – lente, die tyd van die Paasfees op die 14de dag (Eks 12; Lev 23:5-14)
  2. Ziv (Iyyar)  – 29 dae – Apr/Mei (1 Kon 6:1,37)
  3. Sivan – 30 dae – Mei/Junie (Est 8:9)
  4. Tammuz – 29 dae – June/July (Eseg 1:1) – somer
  5. Ab – 30 dae – Julie/Aug (Num 33:38) – die tyd van die Pinksterfees, die fees van die weke, 50 dae ná die Paasfees (Lev 23:15-22)
  6. Elul – 29 dae – Aug/Sept (Eseg 8:1)
  7. Tishri (Ethanim) – 30 dae – Sept/Okt (1 Kon 8:2) – herfs, die tyd van die Groot Versoeningsdag op die 10de dag (Lev 23:26-43) sowel as op die 15de dag die viering van die Huttefees (Lev 23:33-44)
  8. Bul (Marhesvan) – 29/30 dae – Okt/Nov (1 Kon 6:38)
  9. Kislev – 30/29 dae – Nov/Des (Jer 36:9)
  10. Tebet – 29 dae – Des/Jan (2 Kon 25:1) – winter
  11. Shĕbat – 30 dae – Jan/Febr (Sag 1:7)
  12. Adar – 29 dae – Febr/Mrt (Est 3:13)

Die familie van Abia het telkens die 8ste week diens gedoen van die sesmaandelikse siklus (1 Kron 24:10), dws ongeveer aan die einde van die maand Ziv in die lente en min of meer in die maand Bul in die herfs onderskeidelik.

Wat dit egter moeilik maak om hiermee te werk, is dat die maande volgens die maan gewerk het, 29 of 30 dae, maar die jaar volgens die son, 364 dae.

Daar is dus gereeld aanpassings gemaak vir die verlore dae ’n jaar, soms selfs ’n dertiende maand ingevoeg in die jaar (Adar II) om min of meer by die sonjaar te bly ter wille van die seisoene, sodat bv Paasfees in die lente kon bly en Pinkster in die oestyd.

Dit beteken die weke van hulle dienswerk het nie presies in die maanmaand ingepas nie, so daar is telkens aanpassings gemaak. Enige berekening wat ’n mens maak moet die onsekerheid van die ooreenkoms tussen die weke en die aanpassing in die maande verreken.

Eers ’n bietjie agtergrond oor die jaartal waarvan ons praat.

Lukas verbind die verhale van die Verlosser aan die gebeure op die wêreldfront ter wille van die konteks daarvan (Luk 2:1-3). Hy noem keiser Augustus (regeer van 27 vC tot 14 nC) en goewerneur Sirenius van Sirië. Eersgenoemde omdat Palestina deel van die Romeinse ryk was, en laasgenoemde omdat hy waarskynlik die hele Palestynse gebied se volkstelling gereël het (volgens sommige historici was Quirenius Varus toe goewerneur, met Sirenius waarskynlik ’n militêre veldheer wat Varus bygestaan het).

Die volkstelling het in 8-6 vC plaasgevind, wat min of meer die tyd is toe Jesus gebore is. Hierdie volkstelling, sê Lukas, was die eerste van sy soort. Daar was ook ‘n tweede volkstelling (Hand 5:37) toe daar ‘n volksopstand was deur Judas, die sogenaamde Galileër.

Lukas verwys ook na Herodes wat bevestig dat hierdie gebeure voor ons jaartelling plaasgevind het (Luk 1:5), want Herodes is dood in die jaar 4 vC. Die aankondiging van Johannes die Doper se geboorte aan Sagaria was dus waarskynlik tussen 7 en 6 vC (Luk 1:5-25).

Nou, ’n groot “as”.

As Sagaria dus in die jaar 7 vC die laaste week van die maand Ziv sou diens gedoen het, sou sy dienstyd min of meer met die eerste week van Mei ooreengestem het (Biblical Lunar Calendar). As sy dienstyd die laaste week van die maand Bul was, sou dit min of meer met die eerste week in November ooreengestem het.

Nog ’n groot “as”.

As Elizabeth die tweede week van Mei óf die tweede week van November swanger sou geword het, en Maria ses maande later, sou Jesus (indien alles normaal verloop het) vyftien maande ná Sagaria se dienstyd in óf Mei óf November gebore gewees het.

Dit beteken Jesus is óf in September 6 vC óf in Januarie 5 vC gebore.

‘n Jaar vroeër of later afhangende van waar ‘n mens vir Sagaria plaas …

Daar is egter soveel “asse” in hierdie berekening dat die eintlike punt wat ek daardeur wil maak, is dat dit bykans onmoontlik is om die datum van Jesus se geboorte presies te bepaal.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm