Skip to main content

Riglyne vir stiltetyd, Bybelstudiegroepe en Bybelskole

Riglyne vir stiltetyd

prayer-shawlEk nooi jou uit om die boek van die Twaalf Kleiner Profete “geestelik” te lees, as God se woord aan jou in jou spesifieke omstandighede. Die inligting wat ek in elke hoofstuk gee, help jou net om sin te maak van gedeeltes wat moeiliker is om te verstaan en gee jou ’n groter raamwerk om jou eie verstaan by in te pas en ook te toets, sodat jy nie van die spoor afgaan met moeiliker gedeeltes nie.

Ek glo dat die hele Bybel God se woord aan jou is, en daarom moet jy dit ook binne jou verhouding met Hom lees, presies wat elkeen van die profete eintlik sê.

Ek het al baie maniere van lees deur die loop van die Bybelskool voorgestel. Die een wat vir myself die beste werk, is soos volg:

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek geskryf het (sinopsis van wat my tref) en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.       Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help my sin maak van my eie ervarings in die lig van God se Woord.
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef. Jy is welkom om dit só te gebruik of aan te pas vir jou eie behoeftes.

Continue reading

DIE TWAALF KLEIN PROFETE

‘n Bybelstudie oor die betekenis en boodskap van die Klein Profete vir vandag

Wanneer laas het jy die boek Nahum gelees? Of dié van Miga? Of enige van die sogenaamde Klein Profete? Dink jy hierdie geskrifte van meer as 2 400 jaar gelede is nog relevant?

Elkeen van die Twaalf Klein Profete wys vir ons ‘n stukkie van wie God werklik is – hoe sy hart is: sy heiligheid, sy deernis met gebrokenes, sy onvoorwaardelike liefde en bomenslike geduld met sondaarmense.

Temas wat in hierdie 16 weke lange Bybelstudie voorkom, sluit in:

  • God praat deur verwoesting en voorspoed
  • God se genade en ontferming is vir alle mense
  • God gee uitkoms vir dié wat op Hom wag
  • God volhard in sy liefde vir ons

Elke week se studie sal jou laat vra na die betekenis en boodskap van die gelese gedeelte, wat dit sê van God en van mense, en hoe jy die beginsels kan uitleef in jou persoonlike situasie.

Ontdek & Beleef Bybelstudie

Beskikbaar by Christelike Uitgewersmaatskappy

Onlangse kommentaar