Gemeentes in die weegskaal

‘n Boodskap van Jesus
Die boek Openbaring is die belangrikste boodskap wat Jesus Christus aan sy kerk gegee het. Dit is sy openbaring aan gelowiges en gemeentes, die kerk van die eindtyd.
Openbaring is gerig aan alle diensknegte van Jesus Christus en ook spesifiek aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië – Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea. Die sewe gemeentes is verteenwoordigend van die kerk van alle tye.
Dit was ’n tyd waar keiserverering ’n hoogty gevier het. Daar was groot druk op Christen gelowiges. Hulle is nie net vervolg nie – soms openlik en bloedig, en ander kere meer subtiel – maar ook blootgestel aan die verleiding om kompromieë met hulle omgewing se waardes, houdings en lewenstyl aan te gaan.
Die Christene was egter nie net onder skoot van die Romeine nie. Daar was ook ’n aktiewe veldtog teen die Christene vanuit die Joodse sinagoges wat die Christene as ketters beskou het en met venyn en vyandigheid hanteer het.
Sewe briewe van Jesus
Die Here Jesus dikteer vervolgens aan Johannes sy onderskeie boodskappe aan die sewe gemeentes. Belangrik, dié briewe is Jesus se woorde, nie Johannes s’n nie. Jesus begin met ‘n brief aan Efese, die naaste gemeente aan die eiland Patmos waar Johannes in ballingskap opgesluit is. Dan vervolg die briewe aan die ander ses gemeentes die een na die ander soos jy dit met ‘n posbode in ‘n sirkelroete sou laat aflewer: Smirna 60 km noord van Efese aan die Middellandse See, Pergamum so 100 km noord-oos van Smirna, Tiatira so 60 km suid-oos van Pergamum, Sardis so 45 km suid van Tiatira, Filadelfia so 45 km suid-oos van Sardis, en laastens Laodisea so 65 km suid-oos van Filadelfia.
Dit was dus werklike gemeentes en werklike briewe, hoewel die boodskap daarin bedoel was vir al sewe gemeentes, en só eintlik alle gemeentes van alle tye raak. Elke gemeente waar hulle ook al is, kan hulle meet aan wat Jesus hier skrywe en daaruit neem wat van toepassing is op hulle om óf tot inkeer te kom óf te volhard op die pad wat die Here vir hulle gewys het.
‘n Mens kan selfs aan tye in die kerkgeskiedenis dink waar hierdie briewe aan die hele kerk van daardie tyd geskryf sou kan word. Die brief aan Sardis sou goedskiks aan leiers uit die Reformasie geskrywe kon gewees het, ‘n tyd van só ‘n grootskaalse doodsheid dat ‘n John Wycliffe, ‘n Johannes Hus, ‘n Maarten Luther en ‘n Johannes Calvyn regtig standpunt moes inneem, teen groot persoonlike koste, sodat die kerk tot besinning kon kom.
Die brief aan Filadelfia sou goedskiks aan die NG Kerk in die laat 1800’s geskrywe kon gewees het waar die invloed van die liberalisme afgeweer is, teruggekeer is na die Bybelse waarhede, gelei deur John en Andrew Murray, wat in die 19de eeu gelei het tot die grootste sending ontwaking wat ons ooit in ons kontinent ervaar het. Tot in Nigerië het ons kerk die oop deure vir die evangelie benut, ‘n Bybel belt geskep in Tivland wat ‘n buffer teen die Islamitiese opmars gevorm het.
Dit is daar wat Christene by die honderde op die oomblik vermoor word. Mense wat uit ons sendingwerk gebore is, maar vandag moet ly vir hulle geloof. En niemand dink aan hulle nie! Ook nie ons wat hulle geestelike vaders is nie.
Hoe dit ook al sy, hierdie briewe is bedoel vir die gemeentes aan wie dit geskryf is. Dit is bedoel ook as ‘n boodskap vir elkeen van die ander. Dit is bedoel vir gemeentes van alle tye.

Hier is ‘n opsomming van Jesus se boodskap aan die sewe gemeentes.
Laai die volle boek hier af in pdf formaat. Dit is gebaseer op ‘n Pinksterreeks wat ek by La Rochelle gemeente in Bellville Junie 2019 gelewer het.
Luister dus na wat die Gees vir die gemeentes sê deur hierdie sewe briewe van Jesus.
Onlangse kommentaar