What would Jesus do?
Gelowiges vra dikwels: WWJD – What would Jesus do?
Sommige dra die WWJD bandjies om hulle arms om hulle te herinner daaraan dat enige situasie eintlik met dié vraag na Jesus hanteer kan word.
Noordmans sê hieroor dat dit egter soms nodig is om ook te vra:
- wat sou dit beteken om die Vader te volg in ‘n situasie, of
- wat sou die Heilige Gees doen in hierdie situasie?
Daarmee help hy ons verstaan, dat dit eintlik eers is as ons dié drie vrae tegelykertyd vra, dat ons na ‘n meer verantwoorde reaksie gelei word.
Soos God die Vader in die Ou Testament op baie verskillende maniere met sy volk gepraat het, kom Hy in die Evangelies in die gestalte van Sy Seun na ons toe en maak Homself op ‘n ongelooflike praktiese wyse bekend aan ons. En in Handelinge en die briewe van die Nuwe Testament troos Hy ons deur Sy Gees en begelei ons in ‘n intieme geloofsverhouding met Hom.
Hy is immers vir ons as Vader, met ons as Seun, en in ons as Gees.
Op hierdie verskeidenheid van maniere verryk Hy ons lewens, nooi Hy ons uit om met Hom in verhouding te tree en om uit sy onuitputlike kreatiewe voorsiening en troos te leef.
Chris van Wyk
| #
Hi Chris, ja, daar is ‘n ooreenkoms met die finale oorlog, die Armageddon (Openb 16:16), aan die einde van die laaste dae, soos Johannes dit ook verder in Openbaring 20:8 vir ons beskryf. Hy gebruik ook die terme Gog en Magog soos Esegiël dit doen.
Chris Vermeulen
| #
Môre. Die vernietiging van Gog, is dit die “armaggedon” waarvan die Woord ons ook vertel? God bless!
Lerina
| #
Ek stem saam met Chris, ja mens moet daarna kyk in konteks en dus ook eintlik die hele 2 Kor 12 bestudeer. Wat my keer op keer opval wanneer ek mensies teëkom wat so onwaardig voel omdat hulle God voluit dien, die vrugte van die Gees uitleef en ‘n diep verhouding met die Vader het, en tog nie die gawe van tale ontvang het nie, is vanaf vers 7 – 11 … want aan EEN word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee … aan ‘N ANDER, ‘n woord van kennis, … aan ‘N ANDER geloof …. ens. ……. en dan vers 11 wat sê AL hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
Glo my tale is belangrik, en moet verseker be-oefen word as dit jou gawe is. Ek is net so versigtig om dit as enigste kriteria te gebruik as teken van vervulling met die Heilige Gees.
Chris van Wyk
| #
Hi Roeleen. Die 1983 vertaling is nie baie helder nie. Hier is ‘n paar ander vertalings wat die betekenis van die Hebreeus beter weergee:
Dit beteken, die mens wat sy vreugde vind in die Woord van God vermy die weg van sondaars wat baie keer met geweld gepaard gaan. ‘n Goeie voorbeeld vind ‘n mens in die verhaal van Dawid wat deur Abigail gekeer word om met geweld teen Nabal op te tree (1 Samuel 25:2-38). Baldwin dink in sy kommentaar dat dié verhaal moontlik die agtergrond vorm van Dawid se Psalm 17.
Roeleen Nel
| #
Help my asb met Ps 17 vers 14 in 1983 vertaling. Ek stoei met daardie vers.
Chris van Wyk
| #
Hi Lou. Die eerste twee gebooie probeer op omvattende wyse enigiets afraai wat in die plek van of naas God aanbid word. Dit is gemik teen die aanbidding van ‘n ander god in die plek van God. Dit is ook gemik teen die aanbidding van ‘n ander langsaan God. Dit wil sê dat jy jou brood aan twee kante gebotter wil hê.
Hier is wat ek vroeër daaroor geskrywe het:
Eerste gebod – geen ander gode
Die eerste gebod in Eks. 20:3 (Deut. 5:7) is die verbod op ander gode. Dit beteken dat God niemand duld wat langs Hom aanbid en vereer word nie. Alle afgodery word dus daarmee verbied. Die Here verwag dat daar net met Hom as die ware God in ‘n verhouding getree mag word. Sy weë moet ten alle koste leer ken word, want dit is net Hy alleen wat vertrou kan word met die lewe. Daarom moet die Godsvolk Hom met hulle hele hart liefhê, vrees en eer, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 94 dit uitlê.
Dieselfde waarskuwing word reg deur die NT gevind (1 Tes. 1:9; Gal. 4:8; Rom. 1:23; 2 Kor. 6:16; Openb. 9:20), onder andere met betrekking tot die eet van afgodsoffers (Hand. 15:20,29; 1 Kor. 8:7; 10:7; 12:2; Openb. 2:20). Afgodery word ook regdeur die NT verbind aan moreel-etiese sake, soos bv. die verbod op losbandigheid en gierigheid (Ef. 5:5) sowel as vraatsug (Fil. 3:19). Sorg moet ook gedra word dat daar nie hoog opgegee word oor die afsku aan afgode, maar tog deelgeneem word aan ‘n onwettige berowing van heidense tempels vir eie gewin nie (Rom. 2:22).
Dit is interessant hoe Johannes in sy briewe ook dié wet as waarskuwing inspan vir gelowiges van die NT (1 Joh. 5:21). Johannes gee drie motiverings daarvoor. Die eerste motivering is dat: “ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken.” In Jesus kan ons dus die ware God van die afgode onderskei. Die tweede motivering is dat: “ons in die ware God is, in sy Seun, Jesus Christus.” Ons hele lewe word deur God bepaal, dié God wat ons in sy Seun, Jesus Christus, leer ken het. Die derde motivering is dat: “Hy die ware God is en die ewige lewe.” Daar is niemand anders as God nie, en deur Hom het ons toegang tot die ewige lewe. Daarom sê Johannes: “Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.”
Tweede gebod – geen afbeelding van God mag aanbid word nie
Die tweede gebod in Eks. 20:5 (Deut. 5:8-10) verbied die maak van enige afbeelding van God wat aanbid of vereer word. Hy is ‘n jaloerse God wat onverdeelde trou aan Hom van sy mense eis. Gehoorsaamheid sal geseën word, en ongehoorsaamheid gestraf word. Die uitwerking daarvan sal in die geslagte gesien kan word.
Dieselfde waarskuwing word ook in die NT gevind. in Jakobus 4:5 wy hy uit oor God wat onverdeelde trou van ons vra en begrond dit op ‘n verwysing na die skeppingsverhaal dat God: “die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê”.
Dieselfde geld Paulus in Romeine 1:23 waar die problematiek van afgodery uitgespel word dat: “beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange”, d.w.s. afgode: “in die plek van die heerlikheid van die onverganklike God” gestel en aanbid word. Dit is: “bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding”, soos Paulus op die Areopagus sê (Hand. 17:29).
Lees meer hier:
Lou Pistorius
| #
Ek sit nou die dag weer en wonder hoekom die eerste twee gebooie aparte gebooie is – eintlik is dit tog maar dieselfde? Is daar nie erens ‘n vermiste tiende gebod nie?
Chris van Wyk
| #
Hi Awie. Ek sal later weer antwoord as ons daar kom. Weereens ‘n lusmaker:
Jesus praat waarskynlik in Lukas 6:29 van mense wat jou haat en beledig. Vir hulle moet jy ook jou ander wang aanbied (gee). Dit dui moontlik op mense wat jou publiek verwerp of verneder. Jesus bedoel dan waarskynlik dat ‘n mens nie moet ophou om uit te reik na sulke mense nie. Jy stel jou dus bloot aan verdere verwerping deur “die ander wang” aan te bied.
Jesus praat duidelik in Matteus 5:39 van kwaadwillige mense. Dit is mense wat jou met die agterkant van die regterhand op die regterwang slaan. Die toppunt van minagting en mishandeling. Teenoor sulke mense, sê Jesus, moet jy jou nie verset nie. As hulle jou op die regterwang slaan, moet jy ook die ander wang na hulle toe draai.
Hoekom? Want Jesus wil ten diepste hê dat vyande in vriende verander sal word. Dit beteken dat gelowiges die risiko sal moet neem om verder te ly onder kwaadwilligheid ter wille van die uitreik na sulke mense. Vergelding sal verwydering bring. Verdraagsaamheid kan van vyande vriende maak.
Dit maak nog meer sin in die konteks wat ‘n mens in Matteus raaksien, dié van geregtelike aksies. Jesus is hier duidelik meer begaan oor litigasie, mense wat gelowiges hof toe sleep (vgl vers 40), as oor die moontlikheid van fisieke geweld of publieke verwerping, soos dit wel die geval is in sy uitsprake in Lukas.
Gelowiges wat op Jesus vertrou, sal bereid wees om hulle persoonlike regte te laat vaar ter wille van die impak van die evangelie. Die doel is heling en versoening.
Soos Paulus ook later skryf in 1 Korintiërs 6. Ly liewer persoonlik onreg in die gemeenskap ter wille van die evangelie. Moenie die hof opsoek om verskille uit te sorteer nie.
Dit beteken egter vir seker nie dat ‘n mens daarmee ‘n lamsak of ‘n slaansak word nie. Paulus het telkens wanneer die owerhede of Joodse Raad betrokke geraak het, gestaan op die regte wat die regstelsel aan burgers verleen het (Hand 16:37; 22:25; 25:8-12). Dieselfde voorrreg geld ook vir ons vandag.
Awie Coetsee
| #
Baie dankie vir u verklaring dit maak sin.maar dit is vreemd dat Jesu vroer gese het dat jy die ander wang moet draai
Chris van Wyk
| #
Hi Jenny. ‘n Kort antwoord:
Die probleem met dobbel is dat dit ‘n gierigheid verraai en voed in ‘n mens se hart. ‘n Begeerte aan meer as wat jy het. En dit is ‘n onversadigbare monster. Dit illustreer nie net dat jy ontevrede is met wat jy het nie, maar kan jou nog meer ontevrede maak as jy verder en verder daarin ingetrek word. Daarmee oortree ‘n mens die tiende gebod (Eks 20:17).
Daarom sê die Hebreërskrywer: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebr 13:5).
Dobberl dwarsbooom ook die Bybelse opdrag om in jou eie behoeftes te voorsien deur eerlike werk en het baie keer ‘n destruktiewe uitwerking op die mense rondom jou, veral as suurverdiende geld daardeur verloor word en families daaronder ly.