Hamer en beitel – simbool van die skryfwerk op die tafels van die wet.
U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaar gekry, Here. Vernuwe my lewe volgens u woord. Here, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe. (NLV)
1. Psalm 119 besing die wonder van die woord van God. Onderstreep al die beskrywings daarvan en oordink die betekenis daarvan vir jou. Watter vreugdes het die woord al vir jou gegee?
2. Gebruik dié verse as ‘n dank- en lofgebed in jou eie woorde. Onthou ook dat die Psalmis praat van die strikke van bose mense wat sy lewe in die weegskaal bring. Bring jou eie situasie voor die Here en bid vir volhardende gehoorsaamheid en vertroue.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van die woord van God.