
Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik. Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief. ’n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit. Christus maak net so met ons, die kerk, omdat ons ledemate van sy liggaam is. Daar staan mos: “’n Man sal weggaan van sy pa en ma en een word met sy vrou, en hulle twee sal een wees.” Dit is eintlik ’n diep geheim, en ek noem dit om die verhouding tussen Christus en die kerk te beskryf. Dit geld egter ook vir julle: Elkeen van julle moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet, en die vrou moet haar man respekteer. (NLV)
Gewoonlik lees ons hierdie teks om iets van die huwelik tussen man en vrou agter te kom. En dit is ‘n wonderlike boodskap. Lees dit egter nou uit die hoek van wat dit vir ons sê oor die verhouding tussen Christus en die kerk
1. Wat sien jy hier raak oor wat Christus vir sy kerk doen? Hoe ervaar jy dit in jou eie gemeente?
2. Wat sien jy hier raak oor wat jou rol as lid van die kerk moet wees? Hoe is jy besig om dit uit te voer?
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die intieme verhouding van Christus met die kerk waarvan jy ‘n lid is.
4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Efesiërs 5 en my bydrae daaroor: Efesiërs 5:21-6:9 – Ander se belange word eerste gestel in die huwelik, gesin en werkplek.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.