Hy is die God wat die wêreld met alles daarin gemaak het. Hy is die Here van hemel en aarde, en daarom woon Hy nie in tempels wat met mensehande gebou is nie. Mensehande kan nie na sy behoeftes omsien nie, want Hy het aan niks behoefte nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee. Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek. God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie. Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: “Ons is sy nageslag.” Ons moet dus nie aan God dink in terme van beelde van goud, silwer of klip nie. Ons is dan self sy nageslag. Sulke beelde is bloot skeppings van mense se vaardigheid en verbeelding. God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer. Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan. (NLV)
1. Dink na oor die verbande van hierdie preek van Paulus aan die Grieke in Athene met die eerste drie gebooie van die wet. Wat tref jou daarvan?
2. Dink na oor die wyse waarop Jesus hier as die Een verkondig word wat die wêreld gaan oordeel en dat sy opstanding uit die dood die bewys is daarvan.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat die eerste drie gebooie – soos die res van die wet – op alle mense van toepassing is en vir hulle van beslissende betekenis is.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Handelinge 17 sowel as my bydrae daaroor: Handelinge 17:16-34 – Paulus tree ook in die publieke sfeer op met die evangelie.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
