Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is. (NLV)
1. Onderstreep die beskrywings van die nuwe mens. Let op hoe die nuwe geestelike manier van dink jou lewe verander. Die regte leer lei tot die regte lewe. En omgekeerd.
2. Hoe kan jy hierdie opdrag gehoorsaam om nuut te dink en nuut te lewe?
3. Paulus is baie prakties oor die nuwe mens in die konteks. Om werklik reg te lewe voor God en werklik aan Hom toegewy te wees (vers 24), sluit die volgende nege dinge in:
Om die waarheid te praat, veral omdat ons een familie is (vers 25); Om nie te sondig as jy kwaad raak, en veral nie lank kwaad te bly nie (vers 26-27); Om hard te werk sodat jy iets het om die armes mee te dien (vers 28); Om opbouende gesprekke te voer (vers 29); Om die Heilige Gees toe te laat jou lewe te beheer (vers 30); Om niks te doen wat sleg is nie (vers 30); Om goedgesind en hartlik te wees (vers 32); Om in liefde te lewe, soos God dit vir ons ‘n voorbeeld gegee het (5:1-2); Om soos heiliges (dit is die Griekse woord wat met gelowiges vertaal is) te lewe (5:3-5).
Waar het jy nog verandering nodig?
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Efesiërs 4-5 sowel as my bydrae daaroor: Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
