God gee genade vir geloofsgemeenskappe
Die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug, is die verhaal van God se genade wat geloofsgemeenskappe laat floreer.
Van die begin af voeg God in sy genade families saam in ‘n geloofsgemeenskap (Genesis). Sy genade word sigbaar in die konkrete lewe van hierdie geloofsgemeenskap (Eksodus). Sy genade word ook spesifiek sigbaar in die geloofsgemeenskap se onderlinge verhoudinge (Levitikus). Dit is ook duidelik dat God nie van stryk gebring word deur teenstand en wantroue in die geloofsgemeenskap nie (Numeri). In sy genade bring Hy self sy beloftes vir die geloofsgemeenskap in vervulling (Deuteronomium).
Dit is die boodskap van die Pentateug, ook genoem die Tora. ‘n Mens kan hierdie aspekte van God se genade vir gelowiges as volg in die vyf boeke van die Pentateug raaksien:
- Genesis begrond die verhaal van Israel in die oorsprong van alle dinge. Die God van Abraham, Isak en Jakob, Elohim, is die God van al die nasies, trouens van die hele heelal. Hy het nie net alles gemaak nie. Hy tree in verhouding met mense van die begin af soos in die verhale van die families van Adam, Noag en Abraham gesien kan word. Sy genade word van die begin af sigbaar in die ontstaan en vestiging van families as geloofsgemeenskap.
- Eksodus begrond die verhaal van Israel in die hoop van verlossing. Die God van Abraham is ook die God van Moses, Jahwe, wat sy volk deur die trek deur die woestyn uit die slawerny van Egipte verlos en bring na die land van die belofte. Hy sluit met hulle ‘n verbond waarvan die inhoud in die wet en veral die Tien Gebooie wat op Sinai gegee is, beskryf word. God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense word herstel deur die gawe van die Tora en die bou van die tabernakel. Sy genade word daarmee sigbaar in die konkrete lewe van die geloofsgemeenskap.
- Levitikus fokus op verhoudinge begrond op die opdragte van God uit die tabernakel aan Moses, die Levitiese Kode, wat riglyne vir die Groot Versoeningsdag verskaf sowel as die volk se verhouding met God en met mekaar soos beskryf in die Heiligheid Kode. Die fokus van die boek op offers en heiligheid het alles te make met verhoudinge, met God en met mekaar. Sy genade word sigbaar in die verhoudinge van die geloofsgemeenskap onderling en met God.
- Numeri is saamgestel rondom twee dele van die reisverhaal “in die woestyn” en vertel die verhaal van twee generasies. Die eerste deel vertel die verhaal van die trek van die volk van Sinai tot by die oostekant van die beloofde land. Dit eindig met die gebrek aan vertroue van die volk in God om die land in te neem en die begin van die gevolglike verdere omswerwinge in die woestyn. Die tweede deel fokus op kwessies van leierskap en priesterskap en eindig met die voorbereiding van die tweede generasie om die beloofde land in te neem. God se genade oorkom die uitdagings wat teenstand en wantroue in die geloofsgemeenskap aan Hom stel.
- Deuteronomium fokus op die impak van die verlede, hede en toekoms. Dit is opgebou rondom drie “preke” van Moses wat hulle help om te onthou waar hulle vandaan kom, vir hulle riglyne gee om na te luister en uit te leef in ‘n verbondsverhouding met die Here asook vir hulle ‘n profetiese vooruitkyk gee na die lewe in die land waar vertroue op die beloftes van God lewensbelangrik sal wees. God se genade bring sy beloftes vir die geloofsgemeenskap in vervulling.
Hierdie eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug, gee daarmee dus nie net die agtergrond vir die vestiging van die volk Israel in Kanaän nie. Die Pentateug – as geheel ook die Tora genoem – vorm ook baie spesifiek die begronding van die lewe van die geloofsgemeenskap in Israel. Aan die hand van die inhoud van hierdie vyf boeke kon die gehoorsaamheid van die volk van God getoets en beoordeel word. Die legitimiteit van hulle spiritualiteit en moraliteit is daarom ook telkens aan hulle getrouheid aan die inhoud van dié vyf boeke gemeet, soos dit in die Profete en ander Geskrifte van die OT telkens duidelik word.
Die Pentateug
Die Hebreeuse Bybel wat ons as die OT ken, staan vir die Jode as die Tenak bekend. Dit is ‘n akroniem gevorm uit die eerste Hebreeuse letter van die drie dele van die OT – t-n-k. Dit is dieselfde boek wat ons ken as die Ou Testament:
- die Torah, of Wet (Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel),
- die Nevi`îm, of Profete (dit sluit die Vroeë profete soos Josua tot Konings, die Latere profete soos Jesaja, Jeremia en Esegiël, en die twaalf Kleiner profete soos Amos, Hosea en die ander in) en
- die Ketivîm, of Geskrifte, (wat die Psalms, wysheidsliteratuur soos Spreuke en die ander historiese geskrifte soos Rut, Ester, Esra-Nehemia en Kronieke insluit).
Die Pentateug (die naam beteken: “vyf boekrolle”) is die eerste keer so genoem in ‘n kommentaar van die kerkvader Origines op die Johannes evangelie. Die Hebreeuse titel van die vyf boeke is telkens die eerste woorde van die onderskeie boeke, hoewel ons werk met die Griekse titels wat meer met die onderwerp van elke boek te make het en kom van die Latynse vertaling, die Vulgaat, van die Septuaginta (LXX), die Griekse vertaling van die Ou Testament.
Die Pentateug is eintlik soos ‘n vyf volume werk, eerder as net vyf individuele boeke, wat oor eeue saamgestel is tot in sy huidige vorm.
Baie geleerdes het van vroeg af raakgesien dat die taalgebruik in die onderskeie dele van die Pentateug verskil. Bv. Genesis 1 gebruik die woord Elôhîm vir God en Genesis 2 gebruik Jahwe Elôhîm (in Afrikaans Here God). Daar is ook verskille in inhoud in die Pentateug, bv. wette wat met die priesterlike tradisies verbind word en die verhalende – en preekstof wat weer met ‘n Deuteronomistiese skool van die ballingskap in die sesde eeu v.C. verbind word.
Dit het gelei tot die idee dat die Pentateug opgebou is uit vier tradisies of bronne, JEDP, wat staan vir die Jahwistiese, Elohistiese, Deuteronomistiese en Priesterlike tradisies (Graf en Wellhausen). Dié bronne hipotese het sy voordele, in die mate wat dit ‘n prentjie probeer verskaf van hoe die vyf boeke in hulle huidige formaat tot stand gekom het. Heelwat geleerdes het ook verdere uitbreidings en verfynings deur die jare voorgestel wat ons begrip van die ontstaansgeskiedenis van die teks uitgebrei het.
Dié teorie het egter ook ernstige gebreke, waarvan die minste nie is dat daar geen enkele skriftelike getuienis van dié bronne behoue gebly het nie (Casutto). Daar word ook nie na een van dié bronne verwys nie, hoewel daar talle ander verwysings is na ander bronne waaruit die Bybel saamgestel is, maar waarop in dié teorie glad nie uitgebrei word nie. Mondelingse tradisies het uiteraard ook ‘n groot rol gespeel in die uiteindelike totstandkoming van die Pentateug, wat tereg deur baie geleerdes beklemtoon word (Bright, Fensham, Van Selms). Die mondelinge tradisies word egter nie genoegsaam gereflekteer in die bronne hipotese nie.
Interessant genoeg is die eerste verwysing na ‘n “boek” wat as bron gedien het vir die Pentateug in Gen. 5:1 waar na die geslagsregister van Adam verwys word. Die eerste verwysing na die skrifstelling van die Pentateug word volgens die Bybel aan self Moses verbind (Eks. 24:4). Volgens die Bybelse getuienis is dié boek deur die Leviete bewaar by die tabernakel en later by die tempel (Deut. 31:9).
Hierdie wetboek van Moses – waarvan ons die omvang nie presies weet nie, maar wat duidelik as skriftelike bron gebruik is in die uiteindelike finalisering van die Pentateug – is deur die volk en die leiers bestudeer, en word die boek wat Josua sy eie maak (Jos. 1:7). Hierdie wetboek van Moses (Jos. 8:31) word ook later deur Josua aangevul (Jos. 24:26). Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan.
Moses se hand as skrywer in die totstandkoming van die Pentateug word dus deur die OT self bevestig, soos die oortuiging ook in die NT gevind word. Ons kan dit in Jesus, Filippus en Paulus se uitsprake nagaan. Jesus praat van “die boek van Moses” (Mark. 12:26). Jesus beskou ook “Moses en al die profete” as “die Skrifte” (Luk. 24:27). Filippus beskou Moses as die skrywer van die wet (Joh. 1:45). Paulus noem Moses as die een wat in die wet oor die geregtigheid skrywe met ‘n aanhaling uit Lev. 18:5 (Rom. 10:5). Paulus gebruik die naam “Moses” as ‘n aanduiding van die Tora (2 Kor. 3:15).
Dit beteken uiteraard nie dat Moses alles in die Pentateug kon geskrywe het nie. Hy kon nie oor sy eie dood geskrywe het aan die einde van Deuteronomium nie. Hy was ook nie ‘n ooggetuie van die skeppingsverhale en die verhale van die aartsvaders nie. Hy moes dus self van bronne gebruik gemaak het. Maar dat hy vir groot dele van die Pentateug verantwoordelik is, staan onteenseglik vas.
Dieselfde tipe ontwikkeling geld die res van die OT. Daar is die Boek van die Opregte (Jos. 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam. 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is) en as bron gebruik is. Samuel sou self later regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam. 10:25) wat saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar is en gebruik is in die uiteindelike kanon van die OT.
Daar is waarskynlik van tyd tot tyd veranderinge aan die teks aangebring soos ons aflei uit die feit dat van die stede in Jos. 15 moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom. Van tyd tot tyd is die verhale van Josua dus waarskynlik opgedateer om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou.
En so kan ‘n mens aangaan met ander bronne waarvan daar in die OT sprake is wat gebruik is in die totstandkoming nie net van die individuele boeke nie, maar ook van die OT as geheel.
Terug by die Pentateug. Die meer ernstige probleem van die bronne hipotese, en enige ander tradisie-historiese benadering, is egter dat ‘n mens daarmee geneig is om meer op die tradisies in die teks te fokus as op die samehang daarvan in die onderskeie verhale en wat die Pentateug in sy finale kanoniese vorm nou eintlik vir ons wil sê. Dat daar tradisies in die teks aangetoon kan word, is vanselfsprekend. Die konsensus is dat die teks uit mondelinge en skriftelike tradisies bestaan. Daar is ook soms daaraan bygevoeg en verander. En dit het sy waarde om meer van dié historiese prosesse deur navorsing te wete te kom.
Maar ons lees van die teks moet hom met die finale gestalte van die teks bemoei. Ons taak is in die eerste plek om sin te maak van wat daar staan, nie van hoe dit tot stand gekom het nie. Ons fokus is op die betekenis van die finale teks, nie op die ontstaansgeskiedenis van die teks nie (Deist). Dit is dié woord wat God se Woord aan ons is.
Die nuutste narratiewe benaderings lees daarom die Bybelse verhale, ook die Pentateug, as ‘n geheel en dit is hoe ek dit graag wil hanteer, soos baie geleerdes dit doen (Wenham, Durham, Hartley, Budd, Christensen). Kommentare kan geraadpleeg word vir meer inligting oor ander maniere van omgaan met die teks.
Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
Ons fokus dus in hierdie rondte van die Bybelskool op die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug. Ek gaan dit hoofstuk vir hoofstuk aan die orde stel. Ek het drie doelwitte met hierdie manier van lees van die Bybel:
- Ek fokus op die verstaan van die hoofstuk in sy konteks in die Bybelboek. Daarom gee ek ‘n indeling van die hoofstukke, verklaar sekere eksegetiese elemente wat belangrik is, en probeer die struktuur van die verhaal wat ter sprake is, vir jou oopbreek.
- Ek gee net ‘n leeshulp vir die hoofstuk; dit is nie ‘n volledige kommentaar op die Bybelteks nie. Daarvoor moet die kommentare geraadpleeg word. Ek wil daarmee vir jou help om te luister na wat die teks vir jou sê, soos wat die Heilige Gees jou begelei.
- Ek probeer nadenke oor die Bybelteks stimuleer sodat jy by die betekenis daarvan vir jou lewe kan uitkom. Die Bybel is immers die Woord van God wat gemik is daarop om jou in gemeenskap met ander gelowiges te laat lewe met die oog op die koms van die koninkryk van God. Ons lewe maak saak vir God.
Hierdie benadering fokus dus op die Bybel se narratiewe karakter. Dit fokus op die geheel en die wyse waarop die onderskeie hoofstukke en boeke in die geheel inpas.
In die lees van die hoofstukke is dit goed om ‘n mentor van my, prof. Bethel Müller, se onderskeid van drie aspekte van verhale in gedagte te hou in ons lees daarvan. Verhale in die Bybel het tipies drie eienskappe of kenmerkende karaktertrekke:
- ‘n Verwysende karakter – ons lees bv. in die Genesis-verhale van die geboorte-ervaringe van die geloof, die oorsprong van geloof. Dit help ons dus verstaan wat gebeur in die God-mens-verhouding. Só ook die res van die verhale in die Pentateug en regdeur die Bybel.
- ‘n Onmiddellike karakter – ons kan onsself herken in die verhale, trouens moet onsself identifiseer met die geloofsverhale sodat ons kan deelneem in die werklikheid waarvan dit ons vertel. Dít is dus ook die uitnodiging aan jou om jouself te identifiseer met die wyse waarop die verhaal vertel word en die boodskap van die dele daarin wat jou aanspreek, vir jouself toe te eien.
- ‘n Illustratiewe karakter – ons hoor in die verhale nuwe lewensmoontlikhede wat ons uitnooi om ons eie oorspronklike geloofservaringe te beleef. Die verhale in Genesis is as’t ware “lewensgroot” illustrasies wat die drakrag en handelingskrag van die geloof aandui. Dit is dus eweneens ‘n uitnodiging om jou eie pad met God te loop met die verhale as jou begeleidende voorbeelde.
Vir dié wat voorheen ingeskakel het by my manier van lees van die Bybel, sal prof. Bethel se invloed herken in die Lees, Luister, Leef metodiek wat ek telkens beklemtoon, iets wat ek maar onlangs agtergekom het. Dit is my manier om sy insigte te verwoord, maar daaroor netnou meer.
Met dié drie aspekte in gedagte in die lees van die Bybel is dit vanselfsprekend belangrik dat ons op geen manier hierdie verhale vervang met ons eie weergawe daarvan waarin net die “boodskap” daarvan belangrik is nie. Ons mag nie die verhale reduseer tot een of meer belangrike dogmatiese boodskappe vir vandag nie, al is die versoeking soms sterk daarvoor. Ons mag ook nie die verhale ontmitologiseer van hulle konkrete historisiteit – ek bedoel dit in die sin van werklike verhale – sodat ons uiteindelik net met ons eie weergawe daarvan sit nie.
Die verhale moet deeglik gelees word, intens na geluister word, en uiteindelik ‘n neerslag vind in die wyse waarop dit geleef word.
Prof. Bethel spreek daarom sterk kritiek uit op teoloë wat die teks óf verander óf verwerp en nie meer as gesaghebbend in hulle lewe aanvaar nie: “Is dit nie vreemd dat ons in die prediking ons teologiese samevatting, definisie en beredenering van die teks eerder vertrou as die vorm waarin die Heilige Gees dit Self aan ons gegee het nie?” (Riglyne vir prediking oor die Genesisverhale, bl. 13).
Daarmee bedoel hy dat die finale kanon van die Bybel die vorm is waarin die Heilige Gees God se boodskap aan ons verpak het, en ons sal goed doen om daarmee erns te maak presies soos dit aan ons oorgelewer is.
Dit beteken dat ‘n mens ‘n sterk saak daarvoor kan uitmaak dat die eksegese van verhalende tekste soos die Pentateug daarom die literêre en historiese dimensies van die tekste – die plot, karakters, kultuur en konteks – moet ontdek en analiseer. Hermeneuties moet ons daarna die vraag vra hoe die hoorder van die verhale vandag kan identifiseer met die fokuspunte of koördinate wat uit die teks na vore kom.
Ons moet in ons besig wees met die teks die punt ontdek waar die verhaal van die teks insny op ons verhaal, in ons ervaringsveld; die punt waar die teks ‘n transparant word vir vandag wat óns verhaal ‘n nuwe inleiding kan gee, sodat óns verhale beslissend verander en beïnvloed kan word; waar ons verhale ‘n nuwe rigting kry.
En dít is hoe ek die Bybel saam met julle gaan lees.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.