Bybelskool
https://bybelskool.com/watter-maatstaf-gebruik-jy-vir-wat-jy-glo-dink-of-doen-nehemia-81-12/
Export date: Wed Oct 23 15:48:22 2019 / +0000 GMT

Watter maatstaf gebruik jy vir wat jy glo, dink of doen? – Nehemia 8:1-12


Ek hou van tegnologie. Innoverende maniere van dinge doen.

Die nuwe sagteware vir Apple se iPhones het ‘n wonderlike app: Measure. Jy kan dit gebruik as ‘n waterpas. Dit is ongelooflik. Jy sit dit bv neer op ‘n tafel. Dan sien jy die tafel is gelyk, of ‘n graad of twee uit. Wat egter nog meer verstommend is. Jy kan dit gebruik as ‘n maatband. Jy kan die afstand tussen enige twee punte meet. Jy klik net met jou kamera op die twee punte en siedaar, die afstand word vir jou gegee. Of jy kan die mate van ‘n oppervlak bereken. Eenvoudige maalsom van die lengtes van die sye. ‘n Toonbank of ‘n kamer se oppervlak.

Maar, as jy nou regtig akkuraat wil meet, sal jy iets beter moet kry. Die iPhone meet in cm. As jy ‘n ruit by jou huis wil vervang, het jy ‘n maatband nodig wat darem in mm kan meet. En as jy regtig akkuraat wil wees met iets soos bv die frekwensies van lig, dan sal die iPhone nie werk nie. Dan het jy ‘n spektrometer nodig.

Die iPhone werk dus tot op ‘n punt. Maar, as jy nou regtig akkuraat wil wees, het jy iets anders nodig. En die iPhone werk net met afstande. Dit kan nie hoeveelhede meet nie. Dit kan nie volumes meet nie. Dit kan nie as maatstok in die mikrowêreld van die biologie gebruik word nie. Ook nie in die makrowêreld van die heelal nie.

Die iPhone is ook heeltemal nutteloos om as maatstaf vir ons lewe te dien.
Waarmee meet jy die lewe? Watter maatstaf gebruik jy om ons idees van die lewe, en ons gedrag in die lewe, te meet? Watter maatstaf gebruik jy vir wat jy glo, dink en doen?



Die verhaal van Esra die skrifgeleerde

‘n Verhaal wat ons hiermee help kom uit die tyd van Esra en Nehemia. ‘n Tyd van groot ontwrigting. Die tempel was wel al herbou deur Serubbabel. Die sosiale lewe was egter in chaos.

Elkeen het gedoen wat hulle goedgedink het. Veral in hulle huwelikslewe. Die kinders het nie meer van die Here geleer nie, weens die huwelike met mense van vreemde godsdienste. Die sedelike peil was laag. Daar was steeds groot verwarring oor watter maatstaf ‘n mens moet gebruik vir die lewe – sosiaal, sedelik, burgerlik en geestelik.

Ons lees van Esra se aankoms en bediening in Jerusalem in sy memoirs wat in die laaste vier hoofstukke van die boek Esra opgeneem is (Esra 7-10). Lees dit gerus deur later vandag om die draad van sy storie beter te kan volg.

Esra was 'n direkte afstammeling van Aäron, en verskyn op die toneel as Skrifgeleerde wat onderleg was in die eksegese van die wet van Moses.  Esra het dus presies die regte kwaliteite gehad – die regte geslagsregister en genoeg geleerdheid. Esra het bekend gestaan as “iemand wie se hart op die studie van die wet gerig was”.

Meer in die besonder, Esra was 'n praktiese teoloog.  Hy wou die teorie van die wet in die praktyk toepas en die geloofsgemeenskap elke voorskrif en bepaling leer wat nodig is om gehoorsaam aan die Here te wees. Hy het geweet dat die enigste maatstaf vir die leer en lewe van die volk in die Bybel te vinde is. Dat daar nie ‘n ander maatstaf is wat dieselfde funksie kan vervul in die geloofsgemeenskap nie.

Interessant genoeg is Esra deur koning Artaxerxes (Artasasta in Hebreeus) gestuur om die volk op te hef en die wet weer as maatstaf vir hulle lewe te herstel. God werk deur die heidense konings om sy wil uit te voer. Dit het gebeur ongeveer in die jaar 458 v.C. (Esra 7:7), so 58 jaar nadat die tempel ingewy is waarvan ons in die profeet Haggai en Sagaria lees.

1. Esra versamel ‘n gemeenskap van leraars vir die volk

Ons lees dat die eerste ding wat Esra gedoen het toe hy die opdrag kry om Jerusalem se geestelike gesondheid te herstel, is om moeite te doen om ‘n hele klomp Leviete te versamel om saam met hom die werk te doen.

Trouens, terwyl hy al op pad was, langs die Eufraat, het hy bestek opgeneem en agter gekom dat daar te min leraars onder die geselskap was. Hy het onmiddellik nege leiers en twee ander verstandige manne terug gestuur om nog mense te gaan werf vir die groot taak in Jerusalem.

Hierdie elf leiers het onder ander die sleutelpersoon Iddo oorreed om die reis te onderneem. Iddo het eers gekies het om nie saam te trek na Jerusalem toe nie, maar onder hulle invloed is ook hy gewerf. Iddo kon dus sy eie invloed gebruik om die tempel personeel aan te vul, toe hy self ja gesê het vir die groot taak wat vir hulle voorgelê het.

Die boek Esra vertel vir ons op roerende wyse hoe Esra die reisgeselskap verenig in vas en gebed voor die Here, nie net om hulle aan God te verbind nie, maar ook om te illustreer dat hulle nou 'n geloofsgemeenskap is wat aan God en mekaar behoort. Soos Ester ook haar paleis personeel opgeroep het om te vas en te bid, só doen Esra dit ook.

Wanneer Esra in Jerusalem kom, is die effek van die verval in die samelewing op Esra egter baie traumaties. Hy kon nie glo dat mense wat die volk van die Here genoem word, só afvallig geraak het nie. Hulle het glad nie meer volgens die wet van die Here gelewe nie. Nie in hulle huwelike nie. Nie in hulle sosiale lewe nie. Nie in hulle sedelike lewe nie.

Esra skeur dus sy klere, trek van sy hare en baard uit, en gaan sit verslae voor die Here in die tempel ‘n hele dag lank.

2. Esra lei die volk in verootmoediging voor die Here

Dit is dan die aanleiding tot die tweede ding wat Esra doen. In 'n roerende gebed verootmoedig Esra homself voor God, namens die volk, en vra vergifnis van die Here. Die sondes van die verlede het hulle immers alreeds in ballingskap gestuur, maar dieselfde gevaar dreig nou weer eens.

Dit is waar alle herstel begin. By verootmoediging. By die erkenning dat die Woord die maatstaf is, en dat die volk liederlik gefaal het om daarvolgens te lewe. Om nie die Woord aan te pas by die nuwe situasie van die godsdienstig-gemengde huwelike nie, maar om te bely dat die volk ver afgedwaal het van God se visie van ‘n heilige volk wat volkome volgens sy wil lewe as ‘n getuienis aan die nasies dat God inderdaad God is en dit goed bedoel met mense.

3. Esra heilig die huwelikslewe van die Jode

Die derde, en ook baie praktiese ding wat hy doen, is om die godsdienstig-gemengde huwelike aan te spreek, veral waar die Jode met die omringende nasies se mense ondertrou het.  Dit was in volkome stryd met die wet (bv Eks. 34:16) wat godsdienstig-gemengde huwelike streng verbied het.

Hoekom was dit só ‘n probleem? Want die gevaar van afvalligheid was inherent in súlke huwelike opgesluit. Die verhouding met God kon baie moeilik in ‘n huwelik volgehou word, waarin albei partye nie aan die Here verbind was nie. Trouens, hoe sou die kinders van die Here kon leer as hulle ma en pa nie self vir hulle ‘n voorbeeld van godsvrug en ‘n heilige lewe kon wees nie.

Dit is egter belangrik om te verstaan dat hierdie verbod op godsdienstig-gemengde huwelike niks met afkoms of etnisiteit te doene gehad het nie, of met enige ander aspek van die lewe nie. Soos ons bv lees in die vroeëre verhale van Moses wat met 'n Kussitiese vrou getroud was (Num. 12). Hulle kon met mekaar trou, al was hulle van verskillende rasse, omdat hulle dieselfde God aanbid het.

Enigeen wat die Here aanbid het, was welkom. Dit is waarom die Here self sterk opgetree het teen mense wat rassisties was. Dit sien ons in die Here se skerp optrede teen Mirjam waar hy haar tref met melaatsheid.

En Rut, 'n Moabiet, was met Boas getroud. Sy kon met Boas trou, omdat sy die Here aanbid het. Trouens, almal wat die Here aanbid het, was altyd welkom in die geloofsgemeenskap, maak nie saak van watter afkoms of nasie hulle was nie.

En God het Hom ontferm oor mense wat hulle met Hom geassosieer het. Rut word weens haar onomwonde lojaliteit aan die God van Israel selfs ingesluit in die Messiaanse geslagslyn en word Dawid se oumagrootjie.

Maar, as jy dan in ‘n Joodse familie ingetrou het, moes jy die Here dien. Wat hierdie mense in Esra se tyd nie gedoen het nie. Hy kon dit nie net so los nie. Hulle kon nie toegelaat word om voort te gaan om hulle eie gode te dien nie. Dit het die volk onrein gemaak en hulle kinders aan afgode blootgestel. Die toekoms van die geloofsgemeenskap was op die spel.

Hulle identiteit as Gods volk was dus op die spel.  Deur huwelike met mense van ander godsdienste te sluit, het die Jode hulle verhouding met God verbreek en hulle blootgestel aan afgodsdiens.  Die suiwerheid van hulle verbintenis aan God en die roeping wat die Here vir hulle het om 'n lig vir die nasies te wees (Jes. 2) was in gevaar.

En die volk luister na Esra. Hulle kom bymekaar op die 20ste van die maand (Desember in ons kalender), ten spyte van die reën wat daar uitgesak het, omdat hulle gewetens aangespreek is uit die wet van die Here. Hulle trane van hartseer oor hulle afvalligheid word geëggo in die reën wat die mense van die koue laat bewe het, asook van die spanning van die impak wat dié groot besluite op almal gaan hê. En hulle gaan in regsprosesse om die sake reg te stel. Hartseer, maar noodsaaklik ter wille van die behoud van die geloofsgemeenskap.

Dan is daar ‘n onderbreking van 13 jaar in die verhaal van Esra. Nehemia kom intussen op die toneel met sy passie om die mure van Jerusalem te herbou, hoewel hy ook op vele ander terreine leiding neem. Daarvan lees ‘n mens in die eerste sewe hoofstukke van die boek Nehemia wat weer gebaseer is op die memoirs van Nehemia. As jy die hele prentjie wil hê, lees dit later vandag saam met die gedeeltes uit Esra.

Ons lees dus van Nehemia se werk, tot ons hier in hoofstuk 8 lees van Esra wat weer op die toneel kom. En verder gaan met sy hervormings.

4. Esra verenig die volk rondom die waarheid van die Woord

Dit is die vierde ding wat Esra doen. Hy vergader nie net ‘n klomp leraars om hom om die volk te leer nie. Hy lei hulle nie net om hulle te verootmoedig voor die Here nie. Hy help nie net die volk prakties om gehoorsaam te wees aan die fundamentele dinge in die Woord van die Here nie.

Nee, Esra help hulle om die Bybel self te lees, sodat hulle self gehoorsaam kan wees aan die Woord van die Here. Hoekom? Want dit is die enigste maatstaf vir leer en lewe. Vir almal. Vir altyd.

Ons lees soos volg in Nehemia 8:1-13:
1En toe die sewende maand aankom, terwyl die kinders van Israel in hulle stede was,

2het die hele volk soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom en aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses, wat die Here Israel beveel het, te bring.

3En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister, op die eerste dag van die sewende maand.

4En hy het daaruit voorgelees voor die plein wat voor die Waterpoort was, vandat dit lig geword het tot die middag, in teenwoordigheid van die manne en die vroue en die wat kon verstaan; en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig.

5En Esra, die skrifgeleerde, het op 'n houtverhoog gestaan wat hulle vir die geleentheid gemaak het, en langs hom het aan sy regterhand gestaan: Mattítja en Sema en Anája en Uría en Hilkía en Maäséja; en aan sy linkerhand: Pedája en Mísael en Malkía en Hasum en Hasbaddána, Sagaría, Mesúllam.

6En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk, want hy het bokant die hele volk gestaan; en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan.

7En Esra het die Here, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die Here aanbid met die aangesig na die aarde toe.

8En Jésua en Bani en Serébja, Jamin, Akkub, Sábbetai, Hodía, Maäséja, Kelíta, Asárja, Jósabad, Hanan, Pelája en die Leviete het die volk in die wet onderrig, onderwyl die volk op hulle plek bly staan.

9En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is.

10Daarop het Nehemía—hy was die goewerneur—en Esra, die priester, die skrifgeleerde, en die Leviete wat die volk onderrig, aan die hele volk gesê: Hierdie dag is heilig aan die Here julle God; treur nie en ween nie! Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor.

11Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here—dit is julle beskutting.

12En die Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en gesê: Wees stil! want hierdie dag is heilig; wees dus nie bedroef nie.

13Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is.

Esra help die volk om weer mense van die Boek te word

Die muur is voltooi binne 52 dae.  Deur Nehemia se vaardige leierskap. Almal het teruggekeer na hulle plekke.  Maar, vyf dae later, op die 1ste dag van die sewende maand (Tishri) het die hele volk soos een man bymekaargekom in Jerusalem. Want, hulle is opnuut gestimuleer om die wet na te kom. En dit is wat die wet hulle beveel het om in die sewende maand te doen, om 'n spesiale Sabbat vir die Here te vier (Lev. 23:24).

Die volk vra Esra om vir hulle uit die wetboek van Moses te lees.  Hy doen dit omtrent ses uur lank van ligdag af tot in die middel van die dag, met 13 priesters weerskante van hom en 13 Leviete wat gehelp het met die uitleg van die wetboek. Die mense wat hy daarvoor saamgebring en aangestel het.

En ons kry ‘n kykie in hoe Bybel lees werk. Die volk het van Esra geëis dat hy vir hulle help verstaan wat die wetboek van die Here sê sodat hulle dit kon doen (Neh. 8:2). Hoor moes oorgaan in doen, soos die Here Jesus dit self aan die einde van die Bergrede vir ons leer: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt 7:21)

As Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (Neh. 8:4), so graag wou hulle verstaan! Sodat hulle dit kan doen.

Nadat die volk, al staande, na die eerste maraton voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers (Nehemia ingesluit), priesters en Leviete as ‘n span verder gegaan en in die proses van verstaansbegeleiding van die volgende stappe gebruik gemaak.  Hulle het gefokus (vers 9) op:

  1. die verdere hardop lees van die teks,

  2. die verklaring daarvan,

  3. die verduideliking van die betekenis daarvan,

  4. totdat die volk dit verstaan.


Want dit sou nou weer die rol van ‘n maatstaf in hulle leer en lewe speel. ‘n Beginsel wat regdeur die verdere ontwikkeling van die geloofsgemeenskap gevolg is, ook regdeur die Christelike era. ‘n Beginsel wat neergelê is in die Reformasie: die Skrif is dienorma normans non normata– die norm van die norme wat self nie genormeer kan word nie.

Dit is hoe ‘n mens die Skrif lees. As die norm van alle norme. As ‘n norm vir leer en lewe. As ‘n norm wat self nie deur iets anders genormeer word nie. Nie deur die leerstellings van mense nie. Nie deur die wetenskap nie. Nie deur die sielkunde nie. Nie deur die filosofie nie. Nie deur politieke korrektheid nie. Want, dit is God se Woord.

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het.  Hulle het regtig verstaan!  Geen wonder dat hulle nou met reg weer mense van die Boek genoem kon word, want dít is inderdaad wat hulle geword het.

So, my vraag aan jou is: watter maatstaf gebruik jy vir wat jy glo, dink of doen?

Hoe lees jy die Bybel? Hoe reageer jy op die Bybel? Watter gesag dra dit in jou lewe?

Wat ek by Esra leer, is om die Bybel te lees as maatstaf vir wat ek glo, dink en doen. Hoekom? Want, dit bevat die volmaakte wil van God. Soos ons kerk in sy belydenisskrifte bely: Die Bybel is noodsaaklik en genoegsaam, betroubaar en duidelik. Die wonder van die Bybel is dat dit ons bevestig en begelei om in alles volgens die wil van God te lewe. Tot sy eer en tot ons saligheid.

Dawid sê:
“Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart.” (Ps 40:9)

Dít is wat met ons moet gebeur. Ons moet die Bybel lees dat God se voorskrifte in ons hart kan kom lê. Sodat ons begeerte om God se wil te doen, vanuit ons binneste deur die werk van die Gees vervul kan word.

Wanneer Jesus met die Emmausgangers praat, herinner Hy hulle aan dié werklikheid, dat die Bybel die Woord van God is. Dat dít die bron is van geloof. Jesus sê vir hulle:
“O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle om alles wat die profete gesê het, te glo! Moes die Messias nie hierdie dinge ly om sy heerlikheid in te gaan nie?”

En Jesus begin om vanaf Moses – die wet – en al die profete al die Skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer. Sodat hulle kan glo. Sodat dit die maatstaf kan word vir wat hulle dink en doen (Luk 24:25-27).

As Filippus deur die Gees na die eunug gestuur word dan draf hy nader en hoor dat die man uit die profeet Jesaja lees.

Dan vra hy vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

En as die Etiopiër antwoord: “Hoe kan ek as niemand dit vir my verduidelik nie?” en Filippus mooi gevra het om op te klim en by hom te kom sit op die wa, dan begin Filippus by Jesaja, wat onder andere oor eunugs handel, en verduidelik die evangelie oor Jesus aan hom totdat hy tot geloof kom en gedoop word (Hand 8).

As Paulus met Timoteus – reeds ‘n leraar in die gemeente van Efese – praat en raad gee oor die Christelike lewe, dan sê hy vir hom:
“Bly getrou aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het. Jy ken die Heilige Skrif van kindsbeen af en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek. Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.” (2 Tim 3:14-17)

Soos die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 7 sê, die Heilige Skrif is volkome:
“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ...maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is' (1 Joh. 4: 1), en: 'As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie...' (2 Joh. :10).

2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11-12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim. 1:3; Gal. 1:8-11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom. 15:4; Hand. 18:28-29; 1 Pet. 4; Luk. 11:13; 2 Tim. 3:24; 2. Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19; Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh. 15:15; 1 Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1; Joh. 4:25; Deut. 12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark. 7:7; Jes. 1:12; Hand. 1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4; 3:11; 1 Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps. 12:7; 19:8-9, 12; Deut. 4:6; 6:9,. Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16, 18; 1 Kor. 8:6.”

Die Westminster Geloofsbelydenis sê dieselfde in artikel 1.6-7
6. The whole purpose of God about everything pertaining to his own glory and to man's salvation, faith, and life is either explicitly stated in the Bible or may be deduced as inevitably and logically following from it.11Nothing is at any time to be added to the Bible, either from new revelations of the Spirit or from traditions of men.12Nevertheless we do recognize that the inward illumination of the Spirit of God is necessary for a saving understanding of the things which are revealed in the word.13We also recognize that some provisions for the worship of God and the government of the church are similar to secular activities and organizations; these are to be directed according to our natural understanding and our Christian discretion and should conform to the general rules of the word, which are always to be observed.14

11. Mk 7.5-7.


12. 2 Tm 3.15-17, Gal 1.8-9, 2 Thes 2.2. This statement is an inference from the sufficiency of the Scriptures.


13. Jn 6.45, 1 Cor 2.9-10, 12.


14. 1 Cor 11.13-14, 14.26,40.



The meanings of all the passages in the Bible are not equally obvious, nor is any individual passage equally clear to everyone.15However, everything which we have to know, believe, and observe in order to be saved is so clearly presented and revealed somewhere in the Bible that the uneducated as well as the educated can sufficiently understand it by the proper use of the ordinary means of grace.16

15. 2 Pt 3.16, Jn 6.60, 16.17.


16. Ps 119.105, 130, Acts 17.11-12.


En die Westminster Korter Kategismus 90 sê in nog meer detail hoe ‘n mens die Bybel moet lees:
How is the Word to be read and heard, that it may become effectual to salvation?

That the Word may become effectual to salvation, we must attend thereunto with diligence, preparation, and prayer;receive it with faith and love, lay it up in our hearts, and practice it in our lives.u

t. Deut. 6:16ff; Ps. 119:18; 1 Pet. 2:1–2.


u. Ps. 119:11; 2 Thess. 2:10; Heb. 4:2. James 1:22-25


So, watter maatstaf gebruik jy vir wat jy glo, dink of doen?

Daar is net een maatstaf. Die Bybel. Jy moet dit lees met ywer, voorbereiding, en gebed. Jy moet die boodskap ontvang met geloof en liefde. Jy moet dit bewaar in jou hart, en jy moet dit uitleef in elke faset van jou lewe.

Die Bybel is die norma normans – die norm van die norme. Die Bybel is ook non normata – die norm wat nie genormeer kan word nie. Want dit is die Woord van God.
Post date: 2018-10-28 04:00:22
Post date GMT: 2018-10-28 02:00:22

Post modified date: 2018-10-28 05:33:08
Post modified date GMT: 2018-10-28 03:33:08

Export date: Wed Oct 23 15:48:22 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com