This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Fri Dec 6 13:48:32 2019 / +0000 GMT

Wat is die verskil tussen verlossing en heiliging? – Romeine 6:15-23



Aangesien God se genade ons vrygemaak het van die wet, beteken dit dat ons nou maar kan voortgaan met sonde doen? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat dít waarvoor 'n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie? Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens sy wil te lewe. Julle moet vir God dankie sê dat julle wat voorheen slawe van die sonde was, nou met julle hele hart gehoorsaam geword het aan die ware evangelie wat aan julle oorgelewer is. Verlos van die sonde het julle nou slawe geword van dit wat reg is voor God. Ek praat op hierdie manier van slawe en base omdat dit makliker is om te verstaan. Voorheen het julle julle liggaamlike vermoëns diensbaar gemaak aan onreinheid en wetteloosheid en 'n wilde lewe gelei; net so moet julle nou al julle liggaamlike vermoëns aan die geregtigheid diensbaar maak en 'n lewe lei wat aan God toegewy is. Destyds toe julle slawe van die sonde was, het julle julle nie gesteur aan wat reg is voor God nie. En wat was die resultaat? Julle skaam julle nou daaroor, want wat julle destyds gedoen het, eindig in die ewige dood. Maar noudat julle vrygemaak is van die sonde en volledig in God se diens staan, is die resultaat daarvan 'n lewe van toewyding aan God en die eindresultaat – die ewige lewe! Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here! (NLV)

1. Daar is groot verwarring vandag onder gelowiges oor die wet. Sommige dink heel korrek dat ons vrygemaak is van die wet, maar vergeet dat die doel daarvan is om volgens God se wil te leef: om dit wat reg is voor God te doen; om die geregtigheid van God na te jaag en aan Hom toegewy te lewe; dit waarvan die wet ons leer. Hoe dink jy daaroor?

2. God het ons vrygemaak van die sonde sodat ons nie net ‘n lewe van toewyding aan God kan leef nie, maar die ewige lewe kan beërwe. Die Here roep ons om die sonde vaarwel te roep en die lewe in Christus te omhels. Wat beteken dit vir jou prakties?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan jou verlossing van die wet en die sonde wat jou in staat stel om gehoorsaam te word aan die wil van God in die verwagting van die ewige lewe.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Romeine 6 sowel as my bydrae daaroor: Romeine 6 – Om vir God te lewe en nie vir die sonde nie.

 

 


Post date: 2019-06-20 04:00:33
Post date GMT: 2019-06-20 02:00:33
Post modified date: 2019-06-12 05:05:04
Post modified date GMT: 2019-06-12 03:05:04

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com