Bybelskool
https://bybelskool.com/wat-bid-jy-met-die-laaste-drie-bedes-efesiers-610-18/
Export date: Wed Oct 16 16:36:40 2019 / +0000 GMT

Wat bid jy met die laaste drie bedes? – Efesiërs 6:10-18


Vind krag in julle verbondenheid aan die Here, ja, in die krag van sý sterkte! Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan. Staan dus vas deur waarheid as 'n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. Gebruik God se verlossing as 'n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord. Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort. (NLV)

Paulus fokus op die krag van God in die publieke stryd om standvastig te bly in en vir die evangelie van Jesus Christus. Dit is ‘n geestelike stryd wat met die ideologieë en verstaansraamwerke van mense en sisteme te make het – polities, ekonomies, en kultureel – sowel as met die kosmiese magte wat daaragter sit. God se krag word ervaar in sewe geloofspraktyke, waarvan net een, die Woord, as aanvalswapen dien.

1. Dink na oor die rol wat die sewe geloofspraktyke in jou lewe speel: die waarheid, die vryspraak (geregtigheid), die bereidheid om die evangelie na mense te neem (getuienis), die geloof (die vertroue op God en die afhanklikheid van wat Hy doen wat die enigste manier is om die aanslag van die bose af te weer), die verlossing (redding), God se Woord, dit is die swaard van die Gees, en die gebed (dit is allesomvattend: by elke geleentheid, gedurig, vir alle gelowiges, vir die evangelie).

2. Waarin moet jy nog groei? Hoe kan jy dit doen?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se krag wat in jou werk sodat jy vas kan staan in die stryd vir die evangelie.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Efesiërs 6 en my bydrae daaroor: Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag 1.

Links:
  1. https://bybelskool.com/efesiers-610-24-soek-julle- krag-in-die-here-en-in-sy-groot-mag/
Post date: 2019-09-12 04:00:10
Post date GMT: 2019-09-12 02:00:10

Post modified date: 2019-09-05 16:59:23
Post modified date GMT: 2019-09-05 14:59:23

Export date: Wed Oct 16 16:36:40 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com