This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Sun Aug 25 4:30:07 2019 / +0000 GMT

Wat beteken Jesus Christus se wederkoms vir jou? – 2 Korintiërs 5:1-10



Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net 'n tentwoning is, afgebreek word, ons 'n permanente blyplek by God het, 'n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan. In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek. As ons tog maar net met klere aan, en nie kaal nie, voor God sal mag staan! Terwyl ons nog in die aardse tentwoning bly, kry ons swaar en kreun ons omdat ons nie gestroop wil word van ons aard se woning nie, maar met die hemelse woning beklee wil word. So sal wat sterflik is, verteer word deur die eintlike lewe. Hy wat ons hiervoor gereedgemaak het, is God. Hy het aan ons die deposito van die Gees as waarborg gegee. Ons is dus altyd vol moed omdat ons weet dat alhoewel ons nog in die liggaam woon, ons eintlike woning by die Here is; want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie. Ons hou moed, maar sou liewer uit die liggaam wil verhuis om by die Here te gaan woon. Ons streef in elk geval daarna, of ons nou ook al hier tuis is of nie, om Hom tevrede te stel. Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was. (NLV)

1. Paulus tref hier ‘n kontras tussen ons aardse “tydelike” woning en ons hemelse “permanente” woning by God. Die Gees is aan ons gegee as waarborg dat gereed gemaak word vir ons permanente woning. Wat beteken dit vir jou?

2. Paulus sê dat die Gees ons moed gee om na daardie hemelse woning te streef. Dit sluit egter die regbank van Christus in waar elkeen van ons sal ontvang volgens wat ons hier gedoen het, goed of sleg. Hoe laat dit jou voel?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van ‘n permanente woning by die Vader wat Jesus vir jou voorberei. Hy sal weer terugkom om jou daarheen te neem.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 2 Korintiërs 5 en my bydrae daaroor: 2 Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil.

 

 


Post date: 2019-06-12 04:00:55
Post date GMT: 2019-06-12 02:00:55
Post modified date: 2019-05-25 11:46:59
Post modified date GMT: 2019-05-25 09:46:59

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com