Bybelskool
https://bybelskool.com/wat-beteken-jesus-christus-se-menswording-vir-jou-lukas-126-38/
Export date: Thu Jul 18 9:01:31 2019 / +0000 GMT

Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou? – Lukas 1:26-38


Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, 'n dorp in Galilea, gestuur na 'n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan 'n man met die naam Josef, 'n afstammeling van koning Dawid. Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!” Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! Jy sal swanger word en 'n seun hê en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!” Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek 'n kind hê? Ek was nog nooit by 'n man nie.” Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, want niks is onmoontlik vir God nie.” Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Toe het die engel weggegaan. (NLV)

1. God kom hier nader aan Maria as aan enige mens voor haar. Die Heilige Gees sal oor haar kom, die krag van die Allerhoogste sal haar soos ‘n skaduwee bedek ... en dan sonder om verder uit te brei, word oor die geboorte van Jesus gepraat, die Heilige, die Seun van God. Wat beteken dit vir jou?

2. Maria se gehoorsaamheid gee haar nie net die uitverkore posisie as moeder van Jesus nie, maar maak haar die eerste volgeling, trouens dissipel, wat gekenmerk word deur ‘n absolute verbintenis dat God se wil in hulle lewens sal geskied: “Laat met my gebeur volgens u woord.” Wat vra dit van jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat Jesus as mens die Seun van God is. Hy is ons verbinding met God self. Hy vra van ons dieselfde tipe lojaliteit wat Maria bereid was om te gee.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Lukas 1 lees en my bydrae daaroor: Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe 1.

Links:
  1. https://bybelskool.com/lukas-11-56-twee-godsmanne- word-vir-twee-godsvroue-belowe/
Post date: 2019-05-07 04:00:24
Post date GMT: 2019-05-07 02:00:24

Post modified date: 2019-05-01 06:28:45
Post modified date GMT: 2019-05-01 04:28:45

Export date: Thu Jul 18 9:01:31 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com