This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Wed Aug 21 7:25:09 2019 / +0000 GMT

Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? – Die getuienis van die belydenisskrifte



1. Lees die aanhalings uit die belydenisskrifte hieronder. Wat leer jy van God se voorsiening? Hoe laat dit jou voel? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis

Artikel 12

DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE

Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel `n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien.

Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is.

Soos moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.

Jes. 40:26; Matt. 28:19; 1 Joh. 5:15,. Hand. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11; Rom. 8:9; Kol. 1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14; Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2 Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand. 23:8; Matt. 4.

Meer inligting oor:

Sadduseërs – Hulle was aanhangers van 'n aristokratiese Joodse sekte in die tyd van Christus. Hulle was groot teëstanders van die Fariseërs, omdat hulle onder andere nie geglo het aan 'n lewe na die dood nie. (Vgl verwysings in die Bybel: Matt 3:7; 16:1, 6, 11, 12; 22:23, 34; Mrk 12:18; Luk 20:27; Hand 4:1; 5:17; 23:6-8)

Manigeërs – Dit was 'n Persiese of Iranese filosofie van die profeet Mani uit die derde eeu nC. Hy wou die leringe van Boeddha en Jesus aanvul en verbeter. Hulle het aan drie gode geglo, en Jesus se mensheid ontken. Jesus se kruis was oëverblindery. God was nie almagtig nie en in 'n stryd tussen goed en kwaad gewikkel, 'n sterk dualistiese godsdiens.

Artikel 13

DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD

Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.

Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.

Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13; Job 1:21; 2 Kon. 22:20,. Hand 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh 3:8; Gen 1:26; Kol. 1:15; 3:10.

Meer inligting oor:

Epikureërs– Hulle was baie materialisties en praktiese ateïste.  Hulle het nie gedink dit is belangrik of nodig om God te soek nie.  Geluk en plesier was die enigste lewenstyl wat sin gemaak het.  Hulle het geglo dat die grootste goed was om eenvoudige plesier na te streef en pyn te vermy. Lewensgenot was die hoogste goed.  Dit kon jy kry deur kennis, vriendskap en matigheid. Dit staan teenoor die radikaliteit van die offervaardigheid van Christus en die lewe van gehoorsaamheid aan God in dissipelskap.

Epikurus het daarby geleer dat die hele wêreld bestaan uit atome en alles ontstaan het uit die toevallige bymekaar kom van die atome.  Klink dit nie verdag baie soos die modernistiese idee van die toevallige evolusie van alles uit ‘n oersop van materie nie?  Voeg daarby hulle idee dat God de facto nie kan bestaan nie, veral vanuit die voorkoms van lyding in die wêreld, en dit is nie moeilik om die vertrekpunt van baie van vandag se moderniste se filosofiese idees oor God se nie-bestaan by hulle te vind nie.  (vgl verwysing na hulle in Hand 17:18 en my bydrae oor die gebeure daar)

Heidelbergse Kategismus

Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil doen (g).

(a) Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33; 7:9-11.

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.

Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.

Westminster Geloofsbelydenis

Chapter 5 Providence

1. God, who created everything, also upholds everything. He directs, regulates, and governs every creature, action, and thing, from the greatest to the least,1by his completely wise and holy providence.2He does so in accordance with his infallible foreknowledge3and the voluntary, unchangeable purpose of his own will,4all to the praise of the glory of his wisdom, power, justice, goodness, and mercy.5

  1. Heb 1.3, Dn 4.34-35, Ps 135.6, Acts 17.25-26,28, Jb 38-41, Mt 10.29-31, 6.26,30, Neh 9.6, Ps 114.14-16.
  2. Prv 15.3, 2 Chr 16.9, Ps 104.24, Ps 145.17.
  3. Acts 15.18, Ps 94.8-11.
  4. Eph 1.11, Ps 33.10-11.
  5. Is 63.14, Eph 3.10, Rom 9.17, Gn 45.7, Ps 145.7.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die inhoud van hierdie geloofsbelydenisse jou gee.

 

 


Post date: 2018-09-22 04:00:16
Post date GMT: 2018-09-22 02:00:16
Post modified date: 2018-09-22 08:59:46
Post modified date GMT: 2018-09-22 06:59:46

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com