Bybelskool
https://bybelskool.com/vraag-41-hoe-moet-jy-bid/
Export date: Fri Aug 23 20:05:48 2019 / +0000 GMT

Vraag 41: Hoe moet jy bid?


1. Hoe moet jy bid?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Ek moet ernstig en opreg vir alles en almal bid. God sal my gebede verhoor soos Hy dit in die Woord belowe. Die Gees en die Woord sal my onderskeiding en insig laat groei. Ek bid daarom met vurige liefde, nederige volharding en vreugdevolle dankbaarheid. Omdat God se Gees in my werk, sal ek altyd gelowig in gebed volhard.

3. Lees die gelykenis van die onregverdige regter in Lukas 18:1-8. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

God sal reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat na Hom roep

Jesus het vir sy dissipels 'n gelykenis vertel. Hulle moes aanhou bid sonder om moedeloos te word. Daar was 'n regter wat God en medemens nie gerespekteer het nie. Daar was ook 'n weduwee wat aanhou vra het dat hy aan haar reg laat geskied. Vir 'n tyd lank was hy onwillig. Naderhand besluit hy om haar te help. Hy was bang dat sy hom heeltemal gedaan sal maak. Jesus sê toe dat God nog makliker reg sal laat geskied aan sy uitverkorenes – hulle wat dag en nag na Hom roep. En baie gou ook! Hy wonder egter of mense dit sal glo.

5. Lees die Dordtse Leerreëls 3-4.1.15 oor gebed en dink na oor wat dit jou leer oor gebed vir ander.

DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT PLAASVIND

15 . Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Hom vooraf niks kan gee nie en waarvoor hy dan vergoed moet word? Inderdaad, wat sou God aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Die mens wat hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig en hy dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie, heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae, of beroem hom, sonder om na te dink, tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend. Vir die ander wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself in so 'n bevoorregte posisie geplaas het nie.

Post date: 2019-08-12 04:00:45
Post date GMT: 2019-08-12 02:00:45

Post modified date: 2019-07-25 21:14:08
Post modified date GMT: 2019-07-25 19:14:08

Export date: Fri Aug 23 20:05:48 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com