This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Thu Jul 18 8:48:59 2019 / +0000 GMT

Vraag 28: Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou?



1. Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou? Dink aan elke moontlike betekenis?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

 Jesus het ter wille van my saligheid uit die hemel neergedaal en deur die Heilige Gees uit die maagd Maria volledig mens geword. Hy het juis hiervoor mens geword om in Hom die Goddelike en menslike natuur te verenig, sodat ek verlos kan word om tot die Goddelike majesteit toegang te kan hê. Ek het nou volle toegang tot God deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus.

3. Lees die getuienis van Simeon en Anna wat getuig dat Jesus werklik mens geword het in Lukas 2:21-40. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Josef en Maria het Jesus na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy. Die Heilige Gees het vir Simeon na die tempel gelei. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Simeon het Jesus in sy arms geneem en God geprys: “Ek het die verlossing gesien wat U voorberei het voor die oë van alle volke, 'n lig om God aan die nasies bekend te maak!” Ook Anna, 'n profetes, was daar in die tempel. Sy het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed. Sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na bevryding.

5. Lees Heidelbergse Kategismus 48 se antwoord op die vraag na die twee nature van Christus en dink na oor die betekenis daarvan vir jou?

Vraag 48: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

(a) Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.

Is dit hoe jy oor God as Seun dink en wat jy ook van Hom glo?

 

 


Post date: 2019-05-06 04:00:52
Post date GMT: 2019-05-06 02:00:52
Post modified date: 2019-05-01 06:29:42
Post modified date GMT: 2019-05-01 04:29:42

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com