This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Thu Jul 18 8:45:35 2019 / +0000 GMT

Vraag 24: Waar kom die ware geloof vandaan?



1.  Waar kom die ware geloof vandaan? Watter rol speel God? Watter rol speel jy?

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Ware geloof is 'n geskenk van God soos elke ander gawe wat Hy vir my gee. Hierdie ware geloof kom deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees. Daardeur word ek weergebore tot 'n nuwe mens, bevry van my verslawing aan die sonde, om in 'n hegte verbintenis met die waarheid en die liefde te leef.

3. Lees die verhaal in Johannes 2:1-12 van Jesus wat water in wyn verander te Kana. Wat tref jou?

4. Lees my opsomming van die boodskap hiervan. Oordink dit.

Jesus en sy dissipels het 'n bruilof in Kana bygewoon. Toe die wyn opraak, het Jesus se ma dit vir Hom kom sê. Sy het die kelners gevra om te doen net wat Hy vra. Jesus het ses klipkanne vol water laat maak. Toe hulle die water proe wat wyn geword het, was almal verstom en bly. Hierdie was die eerste wonderteken van Jesus. Hierdeur het Hy sy Goddelike heerlikheid sigbaar gemaak vir almal om te sien. Sy dissipels het in Hom begin glo. Dit leer ons dat geloof 'n geskenk van God is soos elke ander gawe van Hom.

5. Lees punt 6 en 7 van die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2: DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENSE DEUR SY DOOD:

(6). Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld. (7). Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.

Is dit hoe jy oor die ware geloof dink?

 

 


Post date: 2019-03-25 04:00:57
Post date GMT: 2019-03-25 02:00:57
Post modified date: 2019-03-19 10:52:03
Post modified date GMT: 2019-03-19 08:52:03

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com