This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Mon Jan 18 19:29:38 2021 / +0000 GMT

Tien gebede van Nehemia



Nehemia was ‘n man van gebed

Prayer - Graham Dean

Nehemia was ‘n man van gebed. Dit sien ons in die tien gebede van hom wat in die boek Nehemia opgeteken is. Hierdie gebede gee ons ‘n intieme kykie in die tipe verhouding met God wat nodig is om nie net sy wil te ken nie, maar inderdaad uit te voer.

Ek nooi jou uit om die boek Nehemia hoofstuk vir hoofstuk deur te lees en spesifiek op te let na die tien gebede van hom wat deur die boek versprei is (Esra se gebed is ook ingesluit as die elfde een):

  1. Nehemia vas en bid om ‘n helder visie (Neh 1:5-11)
  2. Nehemia nader die koning met ‘n skietgebed tot die Here (Neh 2:5)
  3. Nehemia reageer op teenstand met publieke gebed (Neh 4:4-5)
  4. Nehemia roep almal op tot gebed terwyl hy waaksaamheid opskerp (Neh 4:9)
  5. Nehemia bid dat sy werk bevestig sal word (Neh 5:19)
  6. Nehemia vra dat die Here sy hande sal sterk (Neh 6:9)
  7. Nehemia vra dat die Here die teenstand sal hanteer (Neh 6:14)
  8. Esra lei die volk in gebed om aan God alleen verbind te wees (Neh 9-10)
  9. Nehemia bid dat sy liefdesdiens nie verlore sal gaan nie (Neh 13:14)
  10. Nehemia bid vir God se ontferming met die herstel van die Sabbat (Neh 13:22)
  11. Nehemia tree in vir die volk en sy leiers (Neh 13:29-31)

Gebruik dit as inspirasie om in jou eie omgewing die Here se aangesig te soek vir die roeping wat Hy op jou hart wil lê. Laai dit hier af in pdf formaat: Tien gebede van Nehemia.pdf.

Inleiding

Die boek van Nehemia handel oor die finale herstel van Jerusalem in die tyd van koning Artaxerxes (445 vC).  Die volk was al amper 'n eeu terug uit ballingskap in hulle eie land (539 vC).  Die tempel is herbou deur Serubbabel (516 vC).  Die beoogde volksmoord in die tyd van Xerxes (Ahasveros) is deur Ester en Mordegai afgeweer. Die volk se gehoorsaamheid aan die wet is herstel in die tyd van Esra (458 vC).

Wat nog geskort het, was die opbou van die vervalle mure van die stad Jerusalem. Die stad was nog weerloos teen aanvalle van hulle vyande.

Nehemia kom op die toneel só 14 jaar ná Esra se hervormings in Jerusalem (445 vC).  Die passie wat die Here hom gegee het, was die herbou van die mure van die stad Jerusalem, ‘n taak wat hy uiteindelik in net 52 dae voltooi.

Reg deur die boek sien ‘n mens ‘n totaal van tien gebede wat Nehemia bid, of die mense in begelei, waardeur ‘n mens ‘n kykie kry in sy verhouding met God en die wyse waarop daardie verhouding sy lewe en bediening gestruktureer het.

Die boek bevat ook die pragtige gebed van Esra wat die volk begelei tot ‘n belydenis van hulle geloof in God, ‘n belydenis van hulle sonde voor God waarin hulle vra vir vergifnis en verlossing, en uiteindelik tot ‘n nuwe verbintenis aan Hom (Neh 9-10).

Ek fokus hier op sy gebede binne die konteks van die onderskeie hoofstukke. Dit is dus belangrik om die hele Nehemia te lees om die gebede reg te kan interpreteer.

1. Nehemia vas en bid om ‘n helder visie (Neh 1:5-11)

Nehemia skop die boek af met die ontstellende nuus wat hy in 445 vC van Ganani kry dat die Jode in Juda in groot ellende en smaad lewe, dat die mure van die stad Jerusalem vervalle is en die stadspoorte verbrand.

Sy eerste reaksie is om aan die huil te gaan daaroor en dit met vas en gebed na die God van die hemel toe te neem – die eerste van tien gebede van Nehemia wat vir ons in die boek opgeteken is:

5Ag, Here, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou — 6laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig. 7Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie. 8Dink tog aan die woord wat U aan Moses, u kneg, beveel het, naamlik: As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi; 9maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen—al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon. 10Hulle is tog u knegte en u volk wat U verlos het deur u grote krag en deur u sterke hand. 11Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees; en laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man.

Dit is 'n indringende gebed wat ook skuldbelydenis vir die volk insluit, soos ons dit ook in Esra en Daniël se gebede raaksien en 'n vertroue en appèl op die verbondsbeloftes van die Here uitspreek dat Hy nie net die volk sal help nie – Hy het immers belowe om hulle terug te bring en vir hulle te sorg – maar ook vir Nehemia self voorspoedig sal laat wees in die roeping wat hy intuïtief aanvoel die Here op sy hart lê.

Sy posisie in die hofhouding het hom goed geleen tot presies dié tipe optrede, net soos dit van te vore die geval met Ester in dieselfde stad Susan was in die tyd van Artaxerxes se voorganger, Xerxes.

Die tyd van gebed het waarskynlik ongeveer 4 maande geduur, omdat hy reeds in die negende maand, Kislef, die nuus gekry het en eers in die eerste maand, Nisan, dit wil sê die volgende jaar volgens die Joodse kalender, met die koning praat.

Ná die tyd van deeglike deurbid, toe hy besef het die tyd van optrede het aangebreek, vra Nehemia dat die Here hom voorspoedig sal laat wees met wat hy met die koning wil deurgesels.

Dit eerste hoofstuk sluit af met die mededeling dat hy die koning se skinker was, 'n posisie van verantwoordelikheid en invloed, wat die tafel dek vir wat gaan volg.

2. Nehemia nader die koning met ‘n skietgebed tot die Here (Neh 2:5)

Ná die 4 maande se voorbereidende gebed en onderskeiding van die regte tyd vir optrede, kry Nehemia 'n opening met die koning wat hom vra waarom hy bedruk lyk. Die reël was dat niemand negatiewe emosies in die teenwoordigheid van die koning mag vertoon nie, só Nehemia was met reg bang vir wat die koning kon doen.

Nehemia se reaksie is besonder raak verwoord.  Hy fokus op sy eie verbintenis aan Jerusalem – wat in puin lê en waarvan die poorte verbrand is – in term van sy voorvaders se grafte.  Respek vir die dooies het die Perse ná aan die hart gelê. Die koning kon dus identifiseer met Nehemia se bedruktheid.

Let op hoe Nehemia steeds in gebedsafhanklikheid optree met 'n skietgebed wat hy na die Here opstuur, die eerste keer dat ons van só iets in die Bybel lees:

5Ek het 'n skietgebed opgestuur na die God van die hemel.

Sy antwoord op die koning se vraag of daar iets is wat die koning vir hom kan doen, is duidelik vooraf beplan, waarskynlik in die tyd van gebed en vas.  Hy vra dus dat die koning hom sanksioneer om die stad te gaan herbou.  Let op dat hy ook nie van die mure praat nie en ook nie die naam van die stad noem nie, want dit is juis wat Artaxerxes 'n tyd gelede geweier het weens die teenstand van die nie-Israeliete in Jerusalem (Esra 4).  Die naam Jerusalem kon moontlik die koning herinner aan sy vorige optrede.

Die feit dat die koningin genoem word, beteken waarskynlik dat dié geleentheid 'n meer private een was en selfs dat sy Nehemia goedgesind was. Die volgende vraag van die koning wys in elk geval duidelik dat die koning Nehemia gaan ondersteun in sy planne.  Nehemia smee die yster terwyl dit warm is en vra briewe aan die politici en staatsmasjinerie in die Judese gebied, sowel as aan die opsigter van die staatsbos sodat hy hout kan hê vir die herbou projek.

Die Here het Nehemia laat slaag – Hy: “het sy goeie hand oor my gehou” – sodat die koning ook begeleidende offisiere en ruiters met hom saamstuur.  Dit kontrasteer skerp met Esra se beskroomdheid om hulp van die koning te vra, omdat hy op die sorg van die Here alleen wou staatmaak.  God eer egter albei leiers se afhanklikheid van Hom asook hulle manier van dinge doen.

3. Nehemia reageer op teenstand met publieke gebed (Neh 4:4-5)

Soos Esra 3 dae lank gerus het by sy aankoms in die stad, doen Nehemia dit ook voordat hy die volgende nag stilletjies die situasie gaan verken met net 'n paar man wat saam met hom gaan.  Hier hoor ons duidelik dat hy 'n roeping van die Here ontvang het om die stad se mure te herbou, hoewel hy dit nog met niemand gedeel het nie.  Dit was nog 'n hartsaak vir hom.

Hulle ry al met die muur langs en doen 'n deeglike bestekopname.  Die volgende dag spreek hy die leiers van die stad toe en kry hulle instemming om die muur van Jerusalem te herbou, nie net ter wille van veiligheid nie, maar sodat “dié vernedering nie langer op ons rus nie.” Hy motiveer hulle  met die verhaal van God wat sy goeie hand oor hom gehou het, sowel as met wat die koning gesê het.  Die leiers reageer baie positief en die werk begin.

Nehemia wou van die begin af hierdie bouwerk op 'n gekoördineerde wyse laat doen en dit so gou as wat menslik moontlik is.  Daarom het hulle rondom die stad gelyktydig gebou aan die ongeveer 40 seksies van die muur.  Daar is veral gekonsentreer op tien van die poorte wat vervalle was en belangrik was omdat dit toegang verleen het tot die stad.  Daar was ook twee ander poorte wat nie herbouing nodig gehad het nie (12:39).

Almal het meegewerk aan die grootse onderneming, die hoëpriester, die priesters (op drie plekke!), die Leviete (Binnuï het op twee plekke gewerk), hulle ampsgenote en die tempelslawe, die goudsmede, van die vroue (3:12), die handelaars, en selfs 'n “apteker”, die salfmenger (vers 8).

Net 'n paar vooraanstaande mense van Tekoa was nie gewillig om swaar werk te doen vir “hulle Here” nie.  Interessant genoeg was dit die gebied waarvandaan Amos die profeet gekom het, een wat juis die vooraanstaandes vir hulle sosiale ongeregtigheid aangevat het, die mense wat in “mooi huise” woon en nie vir hulle medemense omgee nie!

Tog lees ons ook dat die ander mense van Tekoa op twee plekke aan die muur gewerk het (3:5,27) – soos daar ook ‘n paar ander hardwerkendes was: onder andere die priesters (3:1,22,28), die Leviete (3:17,24), Meremot (3:4; 3:21), Messulam (3:4,30), Gassub (3:11,23)  – en hulle dus dubbeld en dwars vergoed het vir hulle eie mense se laksheid.  Ganun en die inwoners van Sanoag het uitgeblink met 'n stuk muur van 450 meter wat hulle herstel het!  Dit kan ook wees dat dit dié Ganun is waarvan ons ook in 3:30 lees wat aan die Oospoort gewerk het.

Die sukses van Nehemia se strategie – hulle was al halfpad gebou! – het skerp teenstand uitgelok.  Sanballat het met groot ergernis die Judeërs geïntimideer met 'n paar retoriese sarkastiese vrae oor die volhoubaarheid van hulle onderneming, gerugsteun deur Tobija se bespotting oor die kwaliteit van die werk wat hulle doen: Daardie klipmuur van hulle sal omval as 'n jakkals daarteen spring!”

Nehemia reageer daarop met 'n gebed van vervloeking sonder om die werk te staak:

4Hoor, onse God, dat ons 'n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in 'n land van gevangenskap.5En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers.

Hy praat dus met God en gaan saam met die ander – wie se hart in hulle werk was! – aan met die bou van die muur, sonder om Sanballat en Tobija direk te konfronteer.

Dat hy vra dat die Here die bespotting van hulle vyande op die vyande se kop sal laat neerkom, soos ons dit ook in van die vloekpsalms lees, verteenwoordig 'n styl van gebed wat ons vandag moeilik kan navolg ná Jesus se gebed: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.  'n Mens moet wel onthou dat hierdie tipe vervloekings in die eerste plek te make het met God se eer wat aangetas word en in die tweede plek die keuse aksentueer vir dít wat goed en reg is, maar het nie meer plek in ons manier van doen nie.

4. Nehemia roep almal op tot gebed terwyl hy waaksaamheid opskerp (Neh 4:9)

Die teenstand verskerp ernstig met 'n aanval wat beplan word en weereens respondeer Nehemia en die leiers met gebed, maar dié keer ook deur wagte uit te sit:

9Maar ons het tot onse God gebid en om hulle ontwil 'n wag teen hulle uitgesit, dag en nag.

Nehemia se leierskap is werklik inspirerend soos hy aanpas by die veranderende situasie. Die gebed bly steeds die eerste respons, maar die optrede verander na gelang van die situasie.

Die druk was egter hewig, beide van buite (vyande) sowel as toenemend van binne (klagtes) oor die harde werk en die twyfel of hulle gaan klaarkry met die bou van die muur.  Die halfpadmerk is immers baie keer 'n tyd van frustrasie en herbesinning.

Die taktiek van die wagte het gewerk, maar moes gou verder ondersteun word deur bewapening van die volk met swaarde, spiese, pyle en boë.  Nehemia hou ook 'n roerende toespraak waarin hy hulle aan die Here se hulp herinner: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” Hy span dus juis hulle vrees vir hulle geliefdes in as die motivering omvirhulle te veg.

Dit het so druk gegaan dat hulle later eintlik dag en nag aan diens was – snags vir wagdiens en bedags vir werk.  Hulle het selfs nie meer klere gewissel nie.

5. Nehemia bid dat sy werk bevestig sal word (Neh 5:19)

Die volgende krisis met die bouery het gekom van die Jode self, spesifiek dié met wie dit ekonomies alreeds swaar gegaan het nog voor met die bouprojek begin is.

Hulle klag teen hulle eie Joodse volksgenote was ernstig. Omdat hulle weens hongersnood en die belastings aan die koning in die skuld geraak het, het hulle nie net hulle lande, wingerde en huise verpand en geld geleen nie, maar ook van hulle seuns en dogters in slawerny gegee.  Hulle volksgenote kon dus voordeel uit hulle teenspoed trek.  Hulle het beleef wat Spreuke bondig sê: “Die ryke heers oor die arme;  die lener is die slaaf van die man by wie hy leen” (Spr. 22:7).

Die rede vir hulle klagtes juis nou met die bouwerk, was waarskynlik dat dit 'n byna onhoudbare las geplaas het op mense wat eintlik glad nie kon bekostig om die muur te bou nie, omdat hulle kwalik vir hulleself kon sorg.  Dit laat ‘n mens met nog meer teleurstelling dink aan die vooraanstaande mense van Tekoa wat nie wou help met die muur nie.

Nehemia besef onmiddellik dat dit nie net 'n potensiële krisis vir die bouwerk is nie, maar dat die situasie op uitbuiting neerkom.  Spreuke sê immers ook: “Moenie 'n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie;  moenie die hulpelose vertrap  in die regspraak nie.  Die Here sal hulle saak behartig  en dié wat vir hulle beroof,  van die lewe beroof.” (Spr. 22:22-23).

Nehemia het daarby besef dat hy self eintlik aan hulle lot aandadig is, deurdat hy ook aan die noodlydendes geld geleen het, uit sy omvangryke rykdom.  Selfs al sou hy net die minimum rente daarop gehef het, sou dit hom verder verryk, terwyl dit die armes nog vêrder in die skuld gedompel het. Die diepte van hulle ellende moes hulle mede-Jode tot geskenke beweeg het en nie tot lenings nie.

Die feit dat die klaers aanspraak maak op die feit dat hulle almal tog één is, het weerklink in die hart van Nehemia.  Dit kom ook ooreen met die wysheidstradisie van Spreuke wat elke mens as God-waardig beskou (Spr. 14:31) en ryk en arm as gelyk voor Hom ag (Spr. 22:2).  Dit is waarom deernis met en ontferming oor arm mense so geloof word in die boek Spreuke.  Jy bewys daarmee dat jy God eer.  Om die waarheid te sê, deur aan ‘n arm mens iets te gee, is ‘n lening aan die Here, wat Hy sal vereffen (Spr. 19:17).

Weereens sien 'n mens dat Nehemia eers ná 'n tyd van oorweging optree, maar dan helder die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers lê vir die uitbuiting van hulle volksgenote by die volksvergadering wat hy belê.  Hy erken ook sy eie skuld.

Sy oplossing herbevestig 'n belangrike beginsel van die wet van Moses: gee eerder as om te leen:

Wanneer 'n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy 'n vreemdeling of 'n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou. Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou. As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees.” (Lev. 25:35-38).  Selfs wanneer die amper ondenkbare gebeur het dat iemand as 'n slaaf verkoop is, moes slawe na 6 jaar diens vrygelaat word (Eks. 21:2).

Nehemia spel die pad vir hulle uit dat hulle die klaers se eiendom moet teruggee en lenings moet kwytskeld.  Dit word onder eed bevestig en uitgevoer.

Nehemia vervolg met 'n beskrywing van sy vrygewigheid en deernis met sy mense.  Hy het nie aanspraak gemaak op die goewerneurstoelae nie, alhoewel hy daarop geregtig was. Dit is ook die eerste keer dat ons indirek aflei dat hy eintlik die posisie van goewerneur beklee het in sy 12 jaar in Jerusalem.

Dit het hy gedoen uit eerbied vir God, maar ook omdat hy vermoënd was. Hy kon daarom sy volle gewig ingooi by die werk aan die muur.  Hy het ook nie self probeer om munt te slaan uit die nood van mense wat hulle lande wou verkoop om te oorleef nie.  Sy eie werkers is ook voluit gegee vir die werk aan die muur.

Sy vrygewigheid het 'n 150 plus mense aan die lewe gehou op 'n feestelike manier, 'n bees, ses skape en 'n klomp voëls 'n dag en 'n groot hoeveelheid wyn!  God se seën was dus uitgedeel as 'n seën aan ander!

Dit is dié dinge wat hy vra dat die Here sal onthou as God aan hom dink:

19Dink, my God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!

6. Nehemia vra dat die Here sy hande sal sterk (Neh 6:9)

Sanballat, Tobija en Gesem probeer Nehemia die skrik op die lyf jaag van buite hulle geledere, gerugsteun deur die profeet Semaja, ‘n Jood, wat hom van binne af in diskrediet probeer bring.

Hierdie driemanskap – Sanballat, Tobija en Gesem – probeer dus vir oulaas om die bouwerk tot stilstand te bring.  Eers probeer hulle Nehemia uit die stad uitlok na die Onolaagte so halfpad tussen Jerusalem en Samaria.  Dit was waarskynlik neutrale grond tussen hulle gebiede.  Nehemia vermoed egter dat hulle hom wil bykom en wys die verseëlde versoeke vier keer van die hand.

Die vyfde keer wat hulle dié versoek rig, doen hulle dit met 'n onverseëlde brief, sodat almal kon weet dat hulle hom van politieke ambisie beskuldig, dat hy 'n opstand beplan teen die Perse en homself as koning wil uitroep.

Nehemia wys ook dié versoek van die hand en stel net die feite kort en kragtig dat hy só iets nie oorweeg nie.  Die vertaling in vers 8: “Jy suig dit uit jou duim”, is 'n poging om die oorspronklike teks dinamies te vertaal.  Dit lui eintlik letterlik só: “In jou hart het jy dit opgemaak.”  Hulle pogings slaag dus glad nie.

Weereens word 'n kort gebed van Nehemia vir ons opgeteken waarin Hy sy vertroue direk op die Here se werk plaas:

9Versterk dan nou my hande!

7. Nehemia vra dat die Here die teenstand sal hanteer (Neh 6:14)

Die gekonkel van buite af, word opgevolg deur 'n gekonkel van binne af, van die profeet Semaja. Hy het hom (simbolies) in sy huis toegesluit en Nehemia aangepor – poëties soos profesieë meesal gelewer is en in die vertaling weergegee is – om skuiling in die tempel te gaan neem.

Nehemia weier egter, aan die een kant omdat dit nie met sy karakter gestrook het nie, maar aan die ander kant ook omdat dit hom in konflik met die priesters kon bring. Hy sien ook deur Semaja se planne en herken die werk van Tobija en Sanballat in Semaja se voorstelle.  Weereens bring Nehemia dit in gebed na die Here en noem terselfdertyd ook die naam van die profetes Noadja en van die ander (anonieme) profete wat hom probeer bangmaak het.

14Dink, my God, aan Tobía en aan Sanbállat volgens hierdie werke van hom, en ook aan Noádja, die profetes, en die ander profete wat my wou bang maak.

Die muur is uiteindelik voltooi in rekordtyd.  Net 52 dae ná Nehemia die mense aan die werk gesit het om die muur te herbou, op die 25ste dag van die sesde maand Elul, was die werk klaar.  Trouens die muur is voltooi slegs tien maande nádat die Here die eerste keer die nood van Jerusalem onder sy aandag gebring het.  Die impak op die vyande van Jerusalem was beduidend (“hulle val baie in hulle eie oë” lui dit letterlik) sowel as op die selfrespek van die Jode.

Nehemia noem so in die verbygaan dat die problematiek van Tobija dieper was as net die alliansie met Sanballat en Gesem.  Hy het goeie bande met 'n groep vooraanstaande Joodse burgers van Jerusalem gehandhaaf, waarskynlik handelsbande.  Hulle het ook oral waar hulle kon Tobija se goeie hoedanighede voor Nehemia besing en Tobija daaroor ingelig.  Daarom het Tobija eerstehandse inligting gehad van die situasie in die stad Jerusalem en dit gebruik in sy kommunikasie met en afdreiging van Nehemia.

Nehemia laat homself egter nie deur dié druk van die vooraanstaande mense van stryk bring nie, maar gaan voort om die poortdeure te hang met uitdruklike instruksies vir die beveiliging van Jerusalem.

Met die muur voltooi, fokus Nehemia op die vestiging van 'n gesonde gemeenskap deur hulle te herinner aan die belang van die opgetekende familieregister van almal wat in die tyd van Serubbabel teruggekom het. Dié mense moes in die stad kom woon, sodat dit 'n lewensvatbare gemeenskap kon hê.  Die lys kom grootliks ooreen met dieselfde lys in Esra 2. Sommige wyt die verskille aan die feit dat Esra se lys in Babel opgestel is oor wie van plan was om terug te keer, en dat Nehemia se lys die werklike families gelys het wat teruggekom het.

Hulle word eers gelys in terme van families en plek van herkoms.  Daarna word die priesterlike families, die Levitiese families, die tempelslawe met hulle families en die nakomelinge van die dienaars van Salomo met hulle families, sowel as al die tempelslawe en die nakomelinge van die amptenare van Salomo gelys.

Laastens erken Nehemia die bydraes vir die werk aan die mure van die stad.  Dit het gekom van die familiehoofde, die goewerneur sowel as van die res van die mense. Die bydraes het ook klere vir die priesters ingesluit.

Die muur is voltooi op die 25ste dag van Elul, die sesde maand (29 dae lank).  Almal het teruggekeer na hulle plekke.  Vyf dae later op die 1ste dag van die sewende maand, Tishri, het die hele volk soos een man bymekaargekom in Jerusalem soos die wet hulle beveel het (Lev. 23:24) om 'n spesiale Sabbat vir die Here te vier.

Esra lei die volk in gebed om aan God alleen verbind te wees (Neh 9-10)

Esra verskyn nou weer op die toneel, nadat 'n mens vir 13 jaar lank niks van hom gehoor het nie, presies hoekom weet ons nie.  Moontlik was hy teruggeroep Babel toe – onthou hy was in opdrag van die koning na Jerusalem gestuur.  Maar ons weet nie regtig nie.

Die volk vra Esra om vir hulle uit die wetboek van Moses te lees.  Hy doen dit omtrent ses uur lank van ligdag af tot in die middel van die dag, met 13 (waarskynlik) priesters weerskante van hom en 13 Leviete wat gehelp het met die uitleg van die wetboek.

Dit is een van die min plekke in die Bybel waar ons agterkom hoe die geloofsgemeenskap die Bybel gelees het.  Die volk het van Esra geëis dat hy vir hulle help verstaan wat die wetboek van die Here sê sodat hulle dit kon doen (Neh. 8:2).  As Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (Neh. 8:4), so graag wou hulle verstaan!

Nadat die volk, al staande, na die eerste maraton voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers (Nehemia ingesluit), priesters en Leviete as ‘n span verder gegaan en in die proses van verstaansbegeleiding van die volgende stappe gebruik gemaak.  Hulle het gefokus op:

  1. die verdere hardop lees van die teks,
  2. die verklaring daarvan,
  3. die verduideliking van die betekenis daarvan,
  4. totdat die volk dit verstaan het (Neh. 8:9).

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het.  Hulle het regtig verstaan!  Geen wonder dat hulle nou met reg mense van die Boek genoem kon word, want dít is inderdaad wat hulle geword het.

Die aanhoor van die wetboek van Moses se eise en voorskrifte het die volk egter hartseer gestem, omdat hulle op soveel wyses daaraan ongehoorsaam was.  Nehemia-hulle stop dié huilery egter baie gou en moedig die volk aan om eerder hulle verbintenis aan Hom te vier met blydskap en ook die feestelikheid te deel met dié wat niks voorberei het nie.

Op die tiende dag van dié maand moes hulle eintlik ook die versoendag vier (Lev. 23:27), maar ons lees nie eksplisiet dat hulle dié dag gevier het nie.  Vyf dae later moes hulle egter die week lange huttefees (23:34) vier en hulle begin onmiddellik daarvoor voorbereidings tref.

Die dag ná die huttefees het die Jode vir 'n vasdag bymekaargekom om hulle voor die Here te verootmoedig.  Die verootmoediging het bestaan uit:

Dit is duidelik dat dié liturgie en gebed (een van die langstes in die Bybel!) vooraf geskryf is, waarskynlik deur Esra, en deur die Leviete uitgevoer is, miskien in 'n spreekkoor of in wisselspraak (hulle tree saam op).  Die inhoud van die gebed kom ooreen met die soortgelyke maar korter gebed van Esra in Esra 9:

Gebed

Die gebed bestaan uit 3 dele:

'n Belydenis van hulle geloof – 9:5-15

'n Belydenis van hulle sonde – 9:16-31

'n Beroep op God – 9:32-37

Hulle maak dus 'n appèl op God se genade om in te gryp en hulle weer vry van inmenging deur ander koninkryke te maak.

En hulle verbind hulle aan God om Hom alleen te dien.

Die leiers van die geloofsgemeenskap, wat uiteraard die priester en Leviete ingesluit het, het dié skriftelike ooreenkoms voor die Here aangegaan om Hom alleen te dien. Nehemia stel vir hulle die voorbeeld deurdat sy naam heel eerste neergeskrywe staan op die dokument.  Die volgende persoon, Sedekia, was waarskynlik een van sy amptenare, waarna 21 priesters genoem word, sowel as 17 Leviete en 44 ander leiers.  Sommige is die name van individue terwyl ander familie name aandui.

Die hele geloofsgemeenskap verenig hulle in die aflê van 'n plegtige eed waarin hulle die skriftelike ooreenkoms bevestig.  Dié eed se funksie was om te verklaar dat die voorwaardes van die verbondsooreenkoms op hulle van toepassing is.  Hulle verklaar nie net dat hulle die wet van God sal gehoorsaam in al sy bepalings en voorskrifte nie, maar doen dit as gemeenskap wat hulle van die heidenvolke afgeskei het.

Vervolgens spel hulle die sewe spesifieke verbondsvoorwaardes uit waaraan hulle hul sal hou.  Die eerste drie is dinge wat hulle sal vermyen die volgende vier dinge wat hulle onderneemom te doen.

Dinge wat hulle sal vermy:

Al drie hierdie ondernemings is beskerm maatreëls vir 'n gesonde gemeenskapslewe waarmee hulle sorg dat daar nie vreemde godsdienstige invloede die familielewe binnedring nie en 'n gesonde ritme tussen werk en rus vestig vir almal in die gemeenskap, iets waaraan ons vandag groot nood het, al vier ons nie meer die Sabbat op dieselfde manier nie.

Dinge wat hulle onderneem om te doen:

Dit beteken dat die Jode nou verantwoordelikheid begin neem het vir die tempel, eerder as die Persiese konings. Iets wat natuurlik tot vandag toe 'n gebruik in die kerk is.

Die besluit van Nehemia om die leiers van die volk aan te moedig om in Jerusalem te kom bly (7:4-5) werp nou nog meer vrugte af.  Die ander Jode het besluit om die lot te werp sodat een uit elke tien families in Jerusalem kan kom woon.  Só is uiteindelik ook die gemeenskapslewe in Jerusalem herstel, soos dit die geval was met die bou van die tempel (Serubbabel), die herstel van die wetboek van God se funksie in die lewe van die volk (Esra) en die herbou van die mure van Jerusalem (Nehemia).  Die volk was baie bly daaroor en het die families geprys wat bereid was om dit te doen.

Nehemia lys dan die leiers van Juda (468), Benjamin (928) sowel as die priesters (822 plus nog 370), Leviete (284), poortwagte (172), asook 'n paar tempelslawe en sangers waarvan die getalle nie gegee word nie, wat in Jerusalem kom woon het. Let op die dubbele gebruik van die term “heilige stad” (vers 1 en 18) wat hierna meermale vir Jerusalem gebruik is.  Dit reflekteer waarskynlik hulle besef dat hulle die heiligheid van God aan die nasies moes vertoon.

Buite om Jerusalem was daar ook 'n hele paar nedersettings wat deur mense van Juda (17 gebiede) en Benjamin (15 gebiede) bewoon is, sowel as 'n paar afdelings Leviete. Priesters het almal in Jerusalem gewoon, want dit is waar hulle hul priesterlike werk in die tempel gedoen het.

Nehemia lys dan die priesters en Leviete wat in die dae van Serubbabel en Jesua uit Babel teruggekeer het – 22 priesterlike families en 8 Levitiese families.  Hy brei ook uit oor die hoëpriesterlike familie waarvan die laaste een nog aktief was in die tyd van koning Darius II (423-404 v.C.) wat Artaxerxes opgevolg het.

Jojakim is natuurlik nie die koning van net voor die ballingskap nie, wel die hoëpriester wat Jesua opgevolg het.  In sy tyd is nog 20 priesterlike families bygevoeg.  Die Kroniekboek wat hier vermeld word, is nie die Bybelse boeke van die Kronis nie, maar 'n amptelike joernaal van die diensdoenende personeel van die tempel.

Met die oog op die inwyding van die herboude muur van Jerusalem is alle Leviete opgekommandeer om sorg te dra vir die inwyding.  Dit is voorafgegaan deur 'n reinigingsproses wat selfs die poorte en muur ingesluit het, waarskynlik met brandoffers (vgl. 2 Kron. 29:29).

Die hoogtepunt van die dag was toe die leiers van Juda saam met twee groot kore op die muur geklim en al met die muur langs gestap het, die een suid op die muur langs en die ander noord.  Dit is nou dié muur waarvan Tobija gesê het dat dit sal omval as 'n jakkals daarteen opspring (Neh. 4:3)!

Die ander mense saam met Nehemia het die prosessie gevolg en uiteindelik offers gebring onder groot gejuig en gesing in die tempel van die Here. “Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor.

Nog twee hervormings sou direk hierna volg – die formalisering van die offergawe, eerstelinge en die tiendes met die pragtige opmerking: “Die priesters en die Leviete het voordeel getrek uit die blydskap van Juda!” (12:44-47) – asook die verdere inwerkingstelling van die afskeiding van mense van vreemde godsdienste (13:1-3).

Heelwat later, met Nehemia se tweede termyn in Jerusalem, het die afrekening met Tobija gekom, die herstel van die Leviete se voorregte en diens, sowel as maatreëls oor die Sabbat.  Die plegtige ooreenkoms van tevore het sonder die regte leierskap dus nie lank gehou nie en moes weer in werking gestel word!  Daaroor môre verder.

8. Nehemia bid dat sy liefdesdiens nie verlore sal gaan nie (Neh 13:14)

Die lees van die Bybel lei tot omvattende hervormings.  Daardeur het die Jode agtergekom dat Ammoniete en Moabiete nie welkom was in die vergadering van die Here nie, soos dit in Deut. 23:3-5 voorgeskryf is.  Daarom gaan hulle vêrder as wat die geval was met die huwelike wat ontbind is (Esra 9-10) en skei ook die mense van vreemde godsdienste af vanuit hulle byeenkomste.

Onthou dat dit bedoel was vir mense wat hulle nie vereenselwig het met die Joodse godsdiens nie.  Dit is egter ook waarskynlik so dat die idee van eksklusiwiteit hiermee versterk is onder die Jode, iets wat 'n al hoe groter realiteit geword het deur die eeue.

Nehemia is eers terug na Susan in 432 v.C. maar 'n tyd later het hy teruggekeer om sy goewerneurskap voort te sit, waarskynlik weens berigte dat dit daar nie so goed gegaan het nie.    Met sy terugkoms het hy vier probleme aangetref:

  1. Tobija wat die heiligdom beset het,
  2. die Leviete wat verwaarloos is,
  3. die Sabbat wat nie reg onderhou is nie en
  4. die voortdurende problematiek van godsdiens-gemengde huwelike, selfs in die hoëpriester se gesin.

Die plegtige ooreenkoms van tevore het dus sonder die regte leierskap nie lank gehou nie en moes weer in werking gestel word!  Laat 'n mens besef hoe belangrik die regte leierskap is in enige geloofsgemeenskap.

Die afrekening met Tobija was 'n ongeluk wat 'n plek gesoek het om te gebeur al van die eerste dag van Nehemia se koms na Jerusalem.  Weens die steun wat hy onder die vooraanstaande burgers gehad het, het hy voorregte gekry wat eintlik net vir die priesters gereserveer was.  Die kamer wat hy van Eljasib gekry het, was die plek waar heelwat van die offergawes vir die tempel gestoor is. Nehemia laat nie gras onder sy voete groei nie en sit Tobija uit, reinig die kamer en sit die goed terug wat daar gebêre moes word.

Die Leviete is ook verwaarloos sodat hulle einde ten laaste hul dienswerk gelos het om 'n bestaan te gaan maak op hulle eie grond .  Onder Nehemia se leierskap is die ampsdraers wat dit toegelaat het, aangespreek en die Leviete opgekommandeer om hulle dienswerk te hervat. Die insameling van tiendes is weer heringestel en die situasie genormaliseer – soos Maleagi ook sterk bepleit het (Mal. 3:6-12).

Let op die insae wat 'n mens kry in Nehemia se versugting om erkenning van die Here, nie soseer van die mense nie, soos dit in sy gebed uitgedruk word:

14Dink hierom aan my, my God, en delg tog my liefdediens nie uit wat ek aan die huis van my God en aan die instellinge daarvan bewys het nie.

Die Here het hom gehoor, want die verhaal is vir alle tye opgeteken!

Dit herinner my aan Paulus wat geskryf het daaroor dat dit hom min skeel wat mense van hom dink.  Hy wil net weet God is tevrede met wat hy doen (1 Kor. 4:1-5)!

So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. Van 'n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, 'n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.”

9. Nehemia bid vir God se ontferming met die herstel van die Sabbat (Neh 13:22)

Nehemia spreek ook die wydverspreide gebruik om op die Sabbatdag te werk aan.  Hy doen dit nie net by die Jode nie, maar ook deur spesifieke maatreëls te tref wat handel onmoontlik gemaak het op die Sabbatdag. Hy laat die poorte van Jerusalem sluit regdeur die duur van die Sabbat en waarsku die handelaars om nie buite Jerusalem te slaap, omdat dit 'n versoeking vir die Jode sou wees.

Weereens bid Nehemia:

Dink ook hierom aan my, my God, en ontferm U oor my na die grootheid van u goedertierenheid!”

En die Here het!

10. Nehemia tree in vir die volk en sy leiers (Neh 13:29-31)

Dit stuit Nehemia teen die bors dat die kinders uit die godsdienstig-gemengde huwelike nie Hebreeus kon praat nie en gevolglik ook nie die Bybel van sy tyd kon verstaan nie.  Daarsonder sou hulle doodgewoon verheidens en nie weet wat dit beteken om die Here te dien nie.

Anders as Esra – wat sy eie hare en baard uitgetrek het van frustrasie en hartseer oor die volk se sonde – het Nehemia met die mense geraas, hulle vervloek, sommige van hulle geslaan en ander se hare uitgetrek om hulle te oorreed om die regte ding te doen – om suiwer godsdiens te beoefen.

Wat Nehemia besonder erg gegrief het, was dat die hoëpriester se seun met 'n dogter van Sanballat getroud was, dié man wat soveel probleme vir hulle met die bou van die mure van Jerusalem verskaf het.  Hy laat hom eenvoudig wegjaag.   Heiligheid was vir Nehemia eenvoudig ononderhandelbaar.

Weereens teken Nehemia sy gebed aan waarin hy sê:

29Dink aan hulle, my God, oor die bevlekking van die priesterskap en van die verbond met die priesterskap en met die Leviete. 30So het ek hulle dan gereinig van al wat vreemd was, en die diensordeninge vir die priesters en die Leviete vasgestel, vir elkeen in sy werk, 31ook vir die lewering van hout op vasgestelde tye en vir die eerstelinge. Dink aan my, my God, ten goede!

Let op dat Nehemia nie net bid dat die Here sekere goed moet bewerk nie. Hy spel in sy gebed uit wat hy self daaraan gedoen het, in gehoorsaamheid aan die Here, maar beroep hom op God se gesagvolle bevestiging daarvan. En vra weer van die Here: “Dink aan my, my God, ten goede!

'n Passievolle leier tot die einde toe!

 

 

 


Post date: 2018-05-04 16:02:44
Post date GMT: 2018-05-04 14:02:44
Post modified date: 2018-05-04 16:13:29
Post modified date GMT: 2018-05-04 14:13:29

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com