Spreuke 5:1-23 – Bly weg van hartelose verhoudings

Die agste lewensles van die pa aan sy seun strek van Spreuke 5:1 tot 6:19.  Ons lees dit oor twee dae.  Hoofstuk 5 fokus op vyf strofes wat die verleiding van die slegte (vreemde) vrou troef met die vreugde van huwelikstrou en ontsag vir God se alsiendheid.  Hoofstuk 6:1-19 fokus op vier vermanings teen vreemdes, luiheid, onreg en eiegeregtigheid.

5:1-2 – Kies die wysheid

Die pa lei hierdie lewensles van hom aan die seun in deur klem te lê op die uitkoms van die keuse vir die wyse pad.  Die seun sal self ‘n wyse man word na wie ander sal opsien vir raad en oorleg.

5:3-6 – ‘n Verkeerde verhouding laat jou verdwaal

Die pa spel in geen onseker taal die gevaar uit van ‘n verhouding met ‘n slegte (getroude) vrou.  Dit is ‘n pad van die dood. Sy hou jou weg van die pad van die lewe. Dit lyk miskien na “easy sex”, maar dit is net skyn, die skyn van die dood.  Dit laat jou verdwaal.

5:7-14 – ‘n Hartelose verhouding bring finansiële en fisiese skade

Die pa vervolg deur sy seun te waarsku dat hy nie sy beste jare vir ‘n hartelose mens gee nie. Let op hoe realisties die pa die gevolge teken.  ‘n Verhouding met ‘n vreemde vrou het ekonomiese en patologiese gevolge.  Jy doen jouself finansiële sowel as fisiese skade aan.

Let op hoe die pa dan die situasie omkeer.  Sal jy nou graag wil hê iemand anders moet by jou vrou kom slaap? Stellig nie, so, waarom dit aan iemand anders doen (as jy moontlik nie oor jouself bekommerd is nie)?

5:15-20 – Geniet die liefde van jou eie vrou

Dan raak die pa liries en gebruik frases uit Hooglied om vir die seun die wonder van die genot van die liefde saam met sy eie vrou te besing (lees meer by my bydrae hieroor in: Hooglied 2:8-17).

5:21-23 – God sien alles raak

Maar nog dieper, hierdie waarskuwing het ook ‘n geestelike kant, die Here sien dit alles raak. Jou sonde sal jou inhaal, jy sal sterf deur ‘n gebrek aan selfbeheersing.

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Elize Nothnagel

    Baie dankie ds Chris vir u lesings en leringe. Vir my is dit fantasties om die inligting soos u dit aanbied op my eie tyd te bestudeer, af te neem en met myself te versoen en my eie te maak. Veral in hierdie donker tyd met Eskom gee dit my nou soveel meer tyd om die inligting rustig en deurdag deur te gaan!!! Mag u werk geseënd wees en tot groot vrug wees vir elkeen wat dit gebruik. Groete en sterkte.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: