Spreuke 24:23-34
Prioriteite bepaal alles
Spreuke 24:23-25
Onthou dat daar 2 bundels van die gesegdes van die wyses in die boek opgeneem is direk na mekaar. Die eerste was Spreuke 22:17-24:22. Die tweede is nou Spreuke 24:23-34.
Die eerste bundel het 30 spreuke gehad van wisselende lengte. Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding wat die band lê met die vorige bundel (Spr 24:23a) en 5 spreuke bevat. Dit werk veral met sinteses (“Iemand wat eerlik antwoord, is ‘n ware vriend.” – Spr 24:26).
Spreuk 1 – Partydigheid is onregverdig.
Partydigheid kom eintlik in alle verhoudings voor, waarin iemand voorgetrek word bo ‘n ander. Maar die onreg daarvan is veral wreed waar dit in die regshowe gebeur, waar ‘n regter partydig is vir ‘n skuldige en onskuldiges daaronder ly. Dit is nie reg nie, soos Spreuke so sonder ophef, maar helder sê.
Let op hoe só ‘n regter deur die hele bevolking verwens en vervloek word, sonder dat die impak op só ‘n persoon persoonlik uitgespel word. Die teendeel is egter waar van die seën en voorspoed wat regverdige regters sal ervaar. Dit sal vir almal sigbaar wees.
‘n Mens kan nie anders as om aan die partydigheid van Pilatus te dink in die verhoor van Jesus, waar hy die skuldige Barabbas vrygelaat het in plaas van die onskuldige Jesus, omdat hy die Joodse raad se guns wou behou (vgl Matt 27:15-26). Daar was die skare egter aan Pilatus se kant, opgesweep deur die Joodse leiers, en is hy nie verwens en vervloek nie.
Tog, die geskiedenis leer ons dat Pilatus se termyn as goewerneur waarskynlik kort na Jesus se dood beëindig is, hy in ballingskap gestuur is, en in 37 nC selfmoord gepleeg het. Dit is nou volgens die 1ste eeuse Joodse geskiedskrywer Josephus, die 4de eeuse kerkvader Eusebius, asook die 10de eeuse Arabiese geskiedskrywer Agapius van Hierapolis.
Spreuke 24:26
Spreuk 2 – ‘n Ware vriend is eerlik.
In die oorspronklike staan daar dat dié een wat eerlik antwoord, “’n soen op die lippe” is (1933/53-vertaling). Soos dit in die 1983-vertaling vertaal is: “’n ware vriend.” Die NCV vertaal: “An honest answer is as pleasing as a kiss on the lips.”
Herodotos, die Griekse geskiedskrywer uit die 5de eeu vC, vertel van ’n tradisie onder die Perse dat só ’n soen ’n teken van ware vriendskap is. ‘n Mens kan daarom nie anders as om die hele gebeure in Getsemane in herinnering te roep nie, waar die Seun van die mens juis deur so ‘n soen verraai is, waar Judas doelbewus ‘n vriendskapsgebaar gebruik het om Jesus te verraai (vgl Matt 26:49). Saam met die vorige spreuk, vorm dit ‘n interessante agtergrond vir die kruisverhaal van Jesus in die NT.
Spreuke 24:27
Spreuk 3 – Werk volgens die regte prioriteite.
Die ongemaklike waarheid is dat ‘n mens se harde werk ongedaan gemaak kan word, as jy nie met die regte prioriteite werk nie. Jy kan nie beplan om êrens te woon as jy nie eers ‘n werk het om jou daar aan die lewe te hou nie. Die orde is: bewerk eers jou lande, en bou dan jou huis. Dit is ‘n metafoor vir die nakom van die regte prioriteite wat in baie lewensverbande nagevolg kan word.
Spreuke 24:28-29
Spreuk 4 – Wees eerlik selfs al word jy te na gekom.
Weer word ‘n verwysing na die lippe gebruik om oor eerlikheid kommentaar te lewer.“Mag jy met jou lippe mislei?”, soos dit in die oorspronklike Hebreeus staan. Die waarskuwing geld selfs al is ‘n mens te na gekom. Vergelding of wraakgierigheid is nie deel van die wyse manier van lewe nie. Hierdie spreuk wys dus die misleiding met jou lippe – valse getuienis – sterk af.
Spreuke 24:30-34
Spreuk 5 – Armoede volg op luiheid en onverstandigheid.
Spreuke dink redelik baie oor armoede en wyt dit aan verskeie oorsake. Hier word ‘n sterk band tussen armoede en luiheid sowel as onverstandigheid getrek. Armoede is dus nie net aan eksterne invloede te wyte nie, ook aan interne motivering (of dan juis ‘n gebrek aan motivering!) en verkeerde keuses.
In samehang met spreuk 3 sien ‘n mens in die beskrywing van hierdie tipe armoede die gevolg van verkeerde prioriteite. Wanneer jy nie onkruid en bossies bestry nie, en jou wingerd verder beveilig deur ‘n klipmuur nie, dan kom jou armoede metafories aangestap, en oorval gebrek jou soos ‘n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.
Vers 33-34 moet ’n mens eintlik vaslê in jou geheue: “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ’n gewapende man.”
kvlutz
Goeie more en ek groet u in die wonderlike Naam van ons Jesus Christus. Is daar kopie regte op hierdie werke van u want ek wil dit versprei na persone wat nie toegang tot die internet het nie. Baie dankie en n geseende dag aan almal. Groete Kobus Venter.
Chris van Wyk
Hi Kobus, daar is kopiereg op, ja, maar dit is bedoel om gratis versprei te word. Ek het ook ‘n Whatsapp groep wat dit daagliks aan mense versprei wat jy/hulle kan benut. Klik net op hierdie skakel en skryf daar in: https://chat.whatsapp.com/HCopoK3dwlW52EqxduqcFb Onthou daar is ‘n argief van vorige bydraes wat jy hier kan kry: https://bybelskool.com/kronologiese-leesplan/