This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Thu Jun 20 15:02:59 2019 / +0000 GMT

Riglyne vir stiltetyd, Bybelstudiegroepe en Bybelskole



Riglyne vir stiltetyd

prayer-shawl Ek nooi jou uit om die boek van die Twaalf Kleiner Profete “geestelik” te lees, as God se woord aan jou in jou spesifieke omstandighede. Die inligting wat ek in elke hoofstuk gee, help jou net om sin te maak van gedeeltes wat moeiliker is om te verstaan en gee jou 'n groter raamwerk om jou eie verstaan by in te pas en ook te toets, sodat jy nie van die spoor afgaan met moeiliker gedeeltes nie.

Ek glo dat die hele Bybel God se woord aan jou is, en daarom moet jy dit ook binne jou verhouding met Hom lees, presies wat elkeen van die profete eintlik sê.

Ek het al baie maniere van lees deur die loop van die Bybelskool voorgestel. Die een wat vir myself die beste werk, is soos volg:

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek geskryf het (sinopsis van wat my tref) en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.       Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help my sin maak van my eie ervarings in die lig van God se Woord.
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef. Jy is welkom om dit só te gebruik of aan te pas vir jou eie behoeftes.

Lectio Divina

Indien jy 'n meer omvattende Lectio Divina metodiek wil gebruik, kan jy hierdie een van Alice Fryling (The Art of Listening) gebruik wat ek self baie sinvol vind, hoewel 'n mens meer tyd hiervoor opsy moet sit. Dit werk met 6 bewegings:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te wees. Gebruik musiek, óf 'n Psalmvers, óf 'n meditasie oefening, óf net die stilte van die omgewing. Dink na oor wat sleg was die afgelope dag (week). Vra die Here vir vergifnis, verandering, vertroosting.       Dink na oor wat goed was die afgelope dag (week). Sê vir die Here dankie daarvoor. Bid vir insig in jou lees van die Bybel.
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte, hardop indien moontlik, en fokus op die verse of gedagtes wat jou tref. Dink na oor temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees my bydrae en dink na oor wat jou daarin tref.
  3. Meditatio – kies een gedagte, en oordink die praktiese impak van die gedagte op jou lewe. Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê. Waar raak die gedagtes in die Bybel jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die boodskap van dié gedagte vir jou dag en lewe? Besluit hoe jy gaan reageer daarop.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop. Fokus op dit wat jy ervaar die Here op jou hart lê. Doen ook voorbidding. Skryf dit alles neer in jou joernaal.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat.       Dit kan 'n paar minute wees of langer. Spandeer een keer 'n week 'n bietjie meer tyd hieraan.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

Riglyne vir Bybelstudiegroepe en Bybelskole

Laat elkeen die gedeeltes lees wat ek hier publiseer en vir hulle persoonlike stiltetyd gebruik soos hierbo beskryf.

Kom ooreen op die aantal hoofstukke wat julle elke week gaan lees. Julle kan byvoorbeeld kies om die aantal hoofstukke te lees wat ek weekliks hanteer, en dan een keer 'n week by mekaar te kom om dit te bespreek. Julle kan dit natuurlik ook oor 'n langer tydperk deurlees.

Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Gebruik van die voorstelle hierbo van die Silencio van Lectio Divina. Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het. Gebruik julle joernale. Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes. Watter ander gedagtes wil julle byvoeg? Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld?
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê.       Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk? Wat vra dit van julle? Wat belowe dit vir julle? Wat moet julle dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Doen ook voorbidding. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms.       Leef dit uit.

Indien die stof in 'n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met 'n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep.

Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk deur die Bybelteks te werk. Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.

Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae. Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik. En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.

 

 


Post date: 2015-01-27 17:00:16
Post date GMT: 2015-01-27 15:00:16
Post modified date: 2015-01-21 10:18:54
Post modified date GMT: 2015-01-21 08:18:54

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com