Skip to main content

Psalm 91

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is asof Psalm 91 eenvoudig die gedagtegang van Psalm 90 voorsit, beide in terme van die fokus op die idee dat God ons toevlug is, asook in terme van die feit dat daar nie ’n opskrif vir dié Psalm is nie. Die Griekse vertaling, die LXX, het wel ’n opskrif “’n Loflied van Dawid.” Die Psalm se belydenis dat God dáár is vir dié wat Hom vertrou, is ’n fundamentele vertrekpunt vir die lewe van geloof. Dit is in die “skadu van die Almagtige” waar ’n mens veilig kan oornag. God se hulp is egter nie net vir wanneer ’n mens fisies naby Hom is nie, maar ook in die oopte waar die voëlvanger se wip – enigiets wat jou kan verstrik – en dodelike siekte – enigiets wat skade kan aanrig – jou kan tref, want sy vleuels strek ook tot daar. Só beskerm Hy ons van alle kante. Daarom hoef ’n mens nie te vrees vir verskrikking in die nag of vir ’n pyl in die dag (vyande), ’n pessiekte in die nag of ’n epidemie in die dag (siekte) nie. Selfs in die oorlog sal daar vir jou oorwinning wees. Dieselfde geld die belofte dat die Here jou skuilplek is; dat Hy jou beskut Hy van onheil en plae; dat Hy sy engele opdrag gee tot beskerming. Hy beskerm jou selfs in doodsgevaar in die natuur (leeus en slange). Sterk metaforiese taal wat die beskutting en beskerming van die Here belowe met alles wat Hy tot sy beskikking het – natuurlik en bo–natuurlik – aan dié wat Hom vertrou – waar hulle hul ook al mag bevind en in alle omstandighede. Die Psalm kan in twee dele opgedeel word: Vers 1–13 – ’n Beskrywing van die beskutting en beskerming wat die Here is en gee as motivering om op Hom te vertrou; Vers 14–16 – ’n Belofte van bevryding en beskerming van die Here af. Maar, ons lees dit as ‘n eenheid.

Bid die Psalm

“Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: “U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.” Verseker sal Hy jou red uit die strik van die voëlvanger, en van die plaag wat vernietig. Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild. Jy sal nie bang wees vir die skrik van die nag, of die pyle van die dag; vir die plaag wat in die donker kom, of die ramp wat teen die middag verwoes nie. Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou, en die straf van die goddelose sien. As die Here jou toevlug is, as die Allerhoogste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie jou voet teen ’n klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ’n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien.”” NLV

Boodskap en betekenis

Wat my tref, is dat die boodskap van Psalm 91 nie as’t ware ’n argument vir God se beskerming is nie. Dit is nie asof die Psalmis iemand probeer oortuig dat God vir beskerming vertrou kan word nie. God se beskerming word eenvoudig as ’n realiteit geskets waarmee gelowiges tot vertroue in God aangemoedig word. Niemand hoef daaroor te twyfel nie. God kan vertrou word. Dié vertroue kan ook vasgehou word, selfs al het ons verskillende ervarings van God se beskerming. Soos in die verhaal van Corrie en Casper ten Boom. Met hulle inhegtenisneming deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog, omdat hulle Jode in hulle huis in Haarlem, Nederland, weggesteek het, het hy vers 1 en 2 uit dié Psalm vir sy familie aangehaal, en sonder vrees die beproewing van die aanhouding aanvaar: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Allerhoogste geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’” Sy weerstand teen die Nazi’s het tot op daardie stadium reeds vir ongeveer 800 Jode ’n skuiling en bevryding gebied, maar hy is egter tien dae later in aanhouding dood, ’n ander soort “bevryding”, soos Corrie dit later in terme van dié Psalm beskryf, omdat hy in God se wêreld inbeweeg het. Een van die tekste in Psalm 91 wat vir Corrie self van besondere betekenis was, was die belofte in vers 16: “Met ’n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.” Dié vers het vir haar betekenis gekry toe sy in solitêre aanhouding opgesluit was op haar 52ste verjaarsdag in die Nazi konsentrasiekamp in Ravensbruck. Sy het daarin die belofte van die Here gehoor dat dié gevangenis nie die einde vir haar was nie, soos dit inderdaad uiteindelik die geval was. Daar is ook ’n rolprent gemaak oor haar lewe The Hiding Place. Sy het die rype ouderdom van 91 jaar bereik – net so oud soos die Psalm se getal – en ’n invloed regoor die wêreld gehad met optredes in meer as 60 lande waar sy veral oor vergifnis en versoening gepraat het. ’n Geseënde lewe, 11 jaar langer as die kragtige lewe waarvan Psalm 90 praat! Corrie het dus ‘n lang lewe gehad in haar vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Casper het ‘n korter lewe gehad, maar steeds ook in sy eie vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Twee teenoorgestelde ervarings – een boodskap: die Here is vir hulle ‘n skuilplek. En ek gebruik doelbewus die teenswoordige tyd… Dit is ook wat Jesus vir ons oor dié teks geleer het. Dit is nie ’n magiese belofte van fisiese beskutting, beskerming en bevryding in alle omstandighede nie. Toe die duiwel met die versoeking in die woestyn voorgestel het dat Jesus van die tempel afspring, omdat die Here in Psalm 91:11 belowe dat die engele Hom op hulle hande sal dra en sal sorg dat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie, het Jesus dit getroef met ’n aanhaling uit Deut. 6:16: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matt. 4:5–7). Tog bly God se bewaring ‘n werklikheid! Ook fisies! Dit is wat Jesus ervaar het. Jesus het wel fisies aan die kruis gesterwe, maar dit het nie beteken dat God Hom in die steek gelaat het nie. Hy het ook weer fisies uit die dood opgestaan, want God het Hom nie in die steek gelaat nie. Daarin lê die evangelie van Psalm 91 opgesluit, ook vir ons. Jy kan dus weet: God sal jou ook nie in die steek laat nie. Of jy nou lewe en of jy nou sterwe: “Ja, U, Here, is my skuilplek!”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem