Psalm 29
Die God van die natuur sorg ook vir sy kinders
Psalm 29 is ook een van die Psalms wat God se teenwoordigheid in die natuur verheerlik – soos dit ook die geval is met Psalm 8 en 19. Hierdie keer fokus dit meer op die onweer wat ‘n mens in ontsag voor God laat, soos Dawid talle kere in die veld in sy vlug voor Saul moes ervaar het.
Charles Spurgeon het gesê dat ’n mens moeite moet doen om hierdie Psalm in ’n donderstorm te lees, omdat jy dan dieper sal verstaan wat die Psalm probeer sê.
Teks en konteks
God se stem word hier met ’n aantal natuurverskynsels in donderstorms vergelyk om daarmee die inherente en allesveranderende krag van God oor te dra. Volgens geleerdes is daar in hierdie Psalm sekere Kanaänitiese kenmerke sigbaar (die Baälgodsdiens was ‘n natuur-godsdiens) wat egter teologies radikaal geherinterpreteer is om Jahwe se heerskappy ook in die natuur te verkondig. Baäl was bekend as die reëngod en is dikwels uitgebeeld met ’n weerligstraal in sy hand as wapen.
Teenoor die opvatting dat Baäl reën gee, bely die Psalm dat dit Jahwe is wat reën gee en dat onweer nie bloot dié van ’n groot natuurkrag of die stem van Baäl is nie, maar eerder die stem van die Here, wat ook op simboliese wyse die krag en oorvloed wat Hy vir sy volk gee, illustreer. Daarmee word die suigkrag van die Baälgodsdiens vir die geloofsgemeenskap op teologiese wyse getroef.
Die Psalm sê dus dat die Here nie net die God van die geskiedenis is nie, soos die historiese Bybelboeke (Samuel, Konings) dit oorvloediglik uitspel nie, maar ook die God is van die natuur. Die Psalm bely egter ook tereg dat hierdie Here meer is as die natuur (anders as in die Baälgodsdiens). Hy is die Een wat in die natuur en die natuurkragte teenwoordig is, maar ook daarbo verhewe is – soos onder andere in die opdragte aan die “seuns van God” gesien kan word. God is ook nie net in beheer van die natuurkragte nie, maar sorg ook vir die gelowiges (vers 11).
Die Psalm is ‘n lofpsalm met drie dele:
- Vers 1-2: Dawid roep die hemelinge (letterlik “seuns van God” = sy hemelse “familie” of “raad”) op om saam met die geloofsgemeenskap op aarde God te loof en voor Hom te buig en hulle stem by God s’n te voeg.
- Vers 3-9: Dawid loof God vir Sy magtige allesveranderende stem soos ‘n mens dit in die natuur kan waarneem: in die geluid van onweer (vers 3), in die lig van weerligstrale (vers 5-8) en selfs moontlik in aardbewings (“bokspring”, “bewe” in vers 6, 8). ‘n Mens kan hierdie “stem” van God waarneem op sewe plekke: rivierwaters (vers 3), see/oseaan (vers 3), Libanon (vers 5-6), Sirjon (vers 6 – vgl Deut 3:8-9 = Hermon), woestyn (vers 8), bosse (vers 9), Sy paleis (vers 9) – en natuurlik in die 8ste plek, die geloofsgemeenskap (vers 10-11) wat eintlik weer ‘n volgende deel van die Psalm is.
- Vers 10-11: Dawid sluit af met ‘n versterkende belydenis oor die krag en oorvloed wat hierdie sprekende God vir sy volk gee (vers 10-11) en in wie se lewens Sy stem tot sy reg kom. Die krag van die Here is nie net ’n wapen wat vernietig of verstom nie. Dit seën en versorg Sy volk.
In die lig van die omringende twee Psalms (28+30) antwoord dié Psalm dus onomwonde, dat God nie stil is nie, maar van Hom laat hoor!
Boodskap en betekenis
- ’n Mens kan dink, selfs al doen jy baie moeite om die Bybel daagliks te lees, dat God se stem net soos ’n bandopname is. Psalm 29 herinner ons dat die stem van die Here nie maar net ’n opname uit die verre verlede is nie, maar ’n lewendige uitsending, wat hier en nou effektief is.
- Dat Jesus op die see juis die storm stilmaak (Mark 4:35-41), het ‘n besondere betekenis: 1) wat enige idee dat God met die natuur gelyk gestel kan word, die nek omdraai; en 2) duidelik stel dat God ook in die stilmaak van ‘n storm teenwoordig is, soos natuurlik ook al in 1 Konings 19:12 gesê is, dat God in : “’n fluistering in die windstilte” was.
- Gelowiges hoor iets – altans behoort iets te hoor – waarvoor ander mense doof is: die stem van God.
- As ons ore ingestel is op God, dan doen ons die regte goed.
Tertia Botha
Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus.
Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!!
Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
Chris van Wyk
Dankie Tertia, my voorreg en plesier.